Met Atterbury se Capital Poetry Project is 14 versigtig gekose digwerke deur elf digters omskep in papierplekmatjies wat sedert die begin van die Cool Capital Biennale by al die restaurante in Atterbury winkelsentrums in gebruik is. Mense word aangemoedig om hulle plekmatjies met hulle huis toe te neem, en so kry die gevleuelde woorde letterlik vlerke! Jan du Plessis, medekurator van die projek en self een van die betrokke digters, vertel hoe daar besluit is op die versameling, en in hierdie eerste aflewering van ’n reeks stel ons twee van die gedigte en hul digters bekend. Hou volgende maand hierdie spasie dop vir meer!

Al die gedigte het betrekking tot Pretoria. Is daar nog iets wat hulle saambind?
Die meerderheid van die digters is ook Pretorianers, so dit is ’n kyk na binne, van binne die stad.

Hoe het julle op juis hierdie 14 gedigte besluit?
Dit was ’n gemeenskaplike besluit deur die kurators. Ek en Alwyn ken mekaar al jare, ek is ’n boekhandelaar en hy is ’n boekliefhebber so ons paaie kruis gereeld. Alwyn het verlede jaar die tweede uitgawe van sy literêre tydskrif, Guillotine, in die geheel aan die stad Pretoria opgedra, so ons het eerste daar gaan kyk vir gedigte om deel te maak van die Capital Poetry Project. Ons het ons keuse gemaak en toe gooi ons dit oop op ons verskeie platforms en vra vir nog inskrywings van gedigte oor Pretoria. Uit dié wat ingekom het het ons baie streng gekeur, sodat elkeen van die gedigte wat op die ou end gedruk is, van hoë gehalte is.

Wat word nou van hierdie versameling gedigte – dalk saam in ’n bundel?
Ons moet nog gesels daaroor, maar ja, dit sal goed wees om hulle saam te voeg in ’n geheel. Dalk kan ons ’n CD opneem van voorlesings van die 14 en dit dan aanlyn verkoop.

Wat dink julle as digters van die Capital Poetry Projek en Atterbury se betrokkenheid?
Kudos vir Atterbury vir die borgskap; ons digters waardeer dit geweldig om deel te wees van ’n projek wat kuns, en veral digkuns, in die openbaar onder die kollig plaas. Openbare kuns is so broodnodig. Twee van my gunsteling aanhalings oor digkuns kom van Breyten Breytenbach, wat gesê het, “Poësie is ’n dans met die onnoembare”; en die Amerikaanse digter Carl Sandburg: “Poetry is an echo asking a shadow to dance…” Digkuns is die lewensbloed van ’n taal, en as jy wil weet hoe lewend ’n taal is, moet jy kyk na die poësie. ’n Taal sukkel as die poësie kwyn, en vir Atterbury om digkuns te borg, is om ’n belegging te maak in ons tale se oorlewing.

Een van jou eie gedigte het ook ’n plekmatjie gehaal. Vertel ons meer van Blou Vitrioel.
“Ek het Blou Vitrioel op Vryheidsdag geskryf, en ek was toe moerig vir Pretoria. Ek het na Londen verlang, ek het negatief gevoel en nou ja, toe die muse op my skouer kom sit, was dit wat wat uitgekom het nie so positief nie. Maar mens kan nie regtig lank moerig bly vir Pretoria nie!”

 

Blou Vitrioel – ’n Anti-lovesong afsêbrief aan Pretoria
(So dom & Gemorsig : 25° 44′ 46 S, 28° 11′ 17 O)
Jan A.F. du Plessis

Al het die nag ’n duisend oë, staar almal uit jóú vensters terug, gevoelloos en glasig dood. Op Kerkplein bedel selfs oom Paul nou bakhand sy daaglikse brood.

Ai, my wrang ou waarheidspieël, wat gaan van ons word? Hoe dan nou dat selfs die wolke gejaagd oor jou skarrel, en, soos ’n hartseer ma oor ’n afvallige stoutgat kind, net af en toe nog ’n traan oor jou stort?

Want wyer as die Heer se genade ís die gapende afgrond tussen Danville-agterstraat en Waterkloofrif-paleis en dolleër as die honger straatkindermae bly die Uniegebou-kakpraters se vae beloftes.

As die komeet kom, ’n verdwaalde bom, mag dit, sekuur gestuur, bg. koördinate tref.

Ns. Dalk sal die Voortrekkermonument, daai praalgraf van al ons hoop, en UNISA se Battlestar Didactica soos lui ruimteskepe hulself los ruk en opstyg, na wie alleen weet waarheen, maar ek hoor hulle werk nog aan dié tegnologie.

En ek? Ek gaan die laaste Gautrein haal en onthou om nié om te kyk nie.

Pretoria – 27 April 2013 = Vryheidsdag!!!

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]

Voorheen in Guillotine 2 verskyn. Beskikbaar by Graffiti Boeke en Protea Boekwinkel teen R30.

Oor die digter: Jan AF du Plessis is ’n boekhandelaar, DJ, versamelaar en wêreldreisiger. Die voormalige Tukkiestudent maak elektroniese musiek as Bliss Abyss, reis graag en het ’n spesifieke liefde vir Londen. Hy was as klankman en DJ reeds betrokke by meer as 100 Bekgeveg Poetry slams. Hier is ’n video waar Du Plessis die gedig in geheel voorlees: https://www.youtube.com/watch?v=JjojoDlAO5s

 

CC_Placemats-10

altyd in pretoria-wes
Gisela Ullyatt

pa,
in jou kop lê ’n laskombers
toegehekel in lusse
van verrafelde jare
en jou vader se soveelste huis
is iewers in christoffelstraat of prospectstraat

een vir een
sement hy bakstene opmekaar
verpand sy brouwerk
om dan die volgende spoorweghuisie
toe te messel met sy woede

altyd in pretoria-wes

waar jy fraiingrig droom
met ’n verbode flits
onder jou deken
oor die huis van die vier winde
verskeur in jou vader se snippermandjie

ja pa, jy hang geketting
in jou ewige herhaalpatroon:
jy heg jouself af van die hede
oral krap jy foto’s uit

altyd in pretoria-wes

al vang jy ’n knewel in lourenço marques
al vang jy hoeveel grade
selfs wanneer jy voorlees uit die kinderbybel, die 1981-uitgawe
al sing jy hallelujaliedjies op een noot

die hekelpen is bedraad met jou kortbeendae:
jou leghorns verkwansel aan die buurtkinders
jou verskifte trui jou dikwielfiets jou gekraakte ribbes
jou broers wat grynslag soos pampoenspoke nog ’n wedergeboorte
in ’n voorhuis gedurende ’n apostoliese biduur die erwe van jou vader
waar daar altyd ’n wrak lê om aan te karring

pa, die lusse trek noustrop met die tyd
jy’s ’n bywoner
in jou eie
lewe

altyd in pretoria-wes

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]

Oor die digter: Gisela Ullyatt is Vrystater in murg en been wat al sedert haar hoërskooljare dig. Haar belangstelling in Boeddhisme het haar gelei om saam met haar man, Tony, in 2007 vir ses maande by die Buddhist Retreat Centre in Ixopo te bly en te werk. In 2013 het sy haar PhD behaal, met ’n tesis wat gaan oor die Amerikaanse digter Mary Oliver, beskou uit ’n Boeddhistiese raamwerk. Sy verdien haar brood as digter, kortverhaalskrywer, vertaler en resensent. Van haar gedigte verskyn in Nuwe Stemme 5 (Tafelberg). Hier is een van haar kort-kortverhale: http://www.ofm.co.za/article/Yellow-Door/147470/Pa-se-free-range-droom

 

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#9772b2″ corner_color=”#562d87″ ]WEN! Maak al 14 Capital Poetry Project gedigte bymekaar en wys ons op Twitter ’n foto van jouself met al 14 plekmatjies, gemerk #CapitalPoetry14 en @AtterburyTrust. Sluitingsdatum is 20 November, en die beste foto op ons tydlyn wen ’n geskenkbewys vir enige vertoning by die Atterbury Teater.[/gdlr_styled_box]