Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is op soek na die treffendste Afrikaanse handelsnaam, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Die WAT se handelsnaamkompetisie is aan die gang en die
enigste voorwaarde is dat dié naam vir R100 geborg of vir R5 000 gekoop moet word in die WAT se Borg ’n Woord-projek.

Dr Willem Botha, uitvoerende direkteur van die WAT, het gesê een van die eerste inskrywings is “SKEP”, die naam van ’n argiteksfirma in Stellenbosch. Die wenner sal by ’n Woordpret-geleentheid van die WAT aangekondig word en die wenner sal ook ’n spesiaal ontwerpte sertifikaat van die WAT ontvang. Ander vroeë inskrywings is “Knus Karoo Kombuis” in die Paarl en “Platsak”, ‘n vulstasie en winkel in Witrivier.

Besoek www.wat.co.za (http://www.wat.co.za/index.php/af-ZA/borg-n-woord) om deel te neem aan Borg ’n Woord en bel 021 8873113 of stuur ’n e-pos aan [email protected] om die naam van jou onderneming in te skryf vir die Afrikaanse handelsnaamkompetisie. Botha moedig diegene aan wat reeds hul onderneming se naam geborg of gekoop het, om vir dié kompetisie in te skryf.

“Ons moedig almal ook aan om vir ons treffende Afrikaanse handelsname in te stuur sodat ons die eienaars kan nooi om deel te neem aan die kompetisie. Hou dus jou oë oop vir treffende name!” het Botha bygevoeg.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.