Een van die lekkerste aspekte van die Atterbury Trust beursprogram is dat ons te doen kry met soveel dinamiese jongmense. Neem nou maar die 24-jarige Manrich van Greunen, wat pas sy Meesters in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het…

Vertel ons bietjie van jou agtergrond?
Ek het grootgeword in Boksburg aan die Oosrand, maar mens geword in die Kaap. Ek was op skool by Hendrik Louw Laerskool in die Strand en toe Hoër Tegniese Skool Bellville waar ek my matriek behaal het. My sussie, Ancheri van Greunen, is ook ’n Atterbury Trustbeurshouer en my ouers bly steeds in die Strand. Ek is gelukkig getroud en ek, Carla en ons brakkie, Neelsie, bly in Stellenbosch.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trustbeurs uitgekom; en was Atterbury heeltyd saam vandat jy begin swôt het?
Ek het van Atterbury gehoor by my Lewens-Oriënteringonderwyser op skool en Atterbury het vir my steun gebied regdeur my voorgraadse kursus – vier jaar lank!

Hoe het jy destyds op jou studierigting besluit?
Ek het al as kind daarvan gehou om my speelgoed uitmekaar te haal en te probeer verstaan hoe dinge werk. In Graad 6, toe ek begin dink aan ’n hoërskool, het ek besef dat ’n tegniese skool die beste sal wees om my vaardighede te ontwikkel. Daarna het ek besef dat ingenieurswese my passie is.

Wat is die plan nou dat jy klaar geswot het?
Nou, nadat ek my meestersgraad voltooi het, gaan ek begin werk by VASTech, ’n maatskappy waar ek al baie vakansiewerk gedoen het. Ek wil my studieskuld delg en dan begin spaar om ’n huisie te koop. Ek en Carla droom daarvan om eendag ons eie huis te bou.

Vertel ons meer van jou navorsingsveld?
My studieveld is in Wolk-verwerking (“Cloud computing”), ’n belangrike deel van die Internet vandag. Die fokus van my navorsing was om gebruikerlas op “clouds” te voorspel deur verskeie voorspellingsfunksies te gebruik.

Jy was nou pas in Barcelona om jou navorsing by ’n konferensie te gaan aanbied.  Vertel meer?
Ek was by die “Conference on Network and Service Management (CNSM) 2015” en het daar my navorsing aangebied. My praatjie het goed gegaan en ek kon ook ander navorsers se voorleggings waardeer.

Was daar darem ook tyd om bietjie meer van die pragtige stad te sien? Wat het jy die meeste geniet?
Ek en my beste vriend, wat saam gereis het, het elke aand ’n ander deel van die stad gaan verken en ook twee groot katedrale gaan besigtig. Ek het die ritte op die moltrein baie geniet, omdat dit so effektief en gemaklik is. En natuurlik ook die groot verskeidenheid van kosse  – ek het probeer om elke aand iets anders te eet.

Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was, en hoe lyk daardie prentjie nou?
Ek wou die wêreld verander en dit ’n beter (en “cooler”) plek maak. Vandag is ek oud genoeg om te besef dat verandering begin by kleiner gebare soos ’n helpende hand, vriendelikheid op ’n slegte dag of ’n oor wat luister.

Wat gaan jy die meeste (en die minste) mis van die studentelewe?
Ek sal die meeste die vryheid om my eie tyd te bestuur mis, maar die minste die min geld in my bankrekening.

Noem drie bekendes, histories of huidig, met wie jy graag sou wou tyd spandeer of wie jy graag sou wou hê vir ’n mentor.
Albert Einstein, Elon Musk en Nicolas Cage.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Teleportasie. Ek hou nie baie van verkeer nie en dit sal dit moontlik maak om die hele wêreld te kan sien!