Dit lyk asof Afrikaanse skole en universiteite en alles wat deel is van hul wese – hul Christelike karakter, onderrigtaal, die betrokkenheid van hul beheerliggame en hul kultuur – toenemend onder skoot kom. Is daar ’n doelbewuste aanslag op Afrikaanse skole? Op Maroela Media se webtuiste word hierdie knelvraag bespreek.

Afrikaanse skole en universiteite is die afgelope jaar gereeld in die nuus. Transformasie word op Afrikaanstalige universiteitskampusse versnel om die Suid-Afrikaanse rassedemografie te weerspieël. Afrikaanssprekende skole wat nie tot hul volle vermoë benut word nie, word geoormerk om na parallelmediumskole verander te word, sodat die beskikbare kapasiteit tot voordeel van anderstalige skoliere aangewend kan word. Die Christelike karakter van ’n klompie skole is tans in ’n hofsaak onder die loep, en die voorgestelde konsep dat suksesvolle skole moet saamsmelt met skole wat minder goed presteer (sogenaamde “tweelingskap”) sodat die sterker skool die swakker een kan bystaan, sal hoofsaaklik die toppresterende Afrikaanse skole die spit laat afbyt.

Die Solidariteit Beweging beskou hierdie situasie en die impak daarvan op Afrikaanse onderrig as só ernstig dat hulle dit ingesluit het by die mosie van wantroue wat tydens die Beweging se Krisisberaad in Mei vanjaar by die Voortrekkermonument teen pres. Jacob Zuma en sy regering aanvaar is.

“In praktyk het veeltaligheid ná 1994 eentaligheid geword,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê. “Afrikaanse skole word deurlopend vir transformasie geteiken en die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop.”

Die Beweging het in die mosie gesê die geskiedenis het bewys dubbelmediumstatus is bloot die eerste stap om instellings soos Afrikaanse skole uiteindelik totaal te verengels. Die huidige proses om Suid-Afrika se rassedemografie op alle universiteitskampusse te weerspieël, sal tot gevolg hê dat Afrikaans op kampusse verdwyn.

Vir die geveg om Afrikaans en Christenskap in skole te behou, sien die burgerregte- organisasie AfriForum egter kans. “Dit is ’n internasionaal erkende beginsel dat kultuurgemeenskappe die reg het op skole waar hul kultuur oorgedra en hul kinders in hul moedertaal onderrig word. Daarom sal AfriForum waar nodig skole finansieel bystaan om regstappe te doen vir die behoud van Afrikaans as voertaal,” lees die mosie waarmee hulle by die Krisisberaad dié stryd opgeneem het.

Openbare druk sal op universiteite geplaas word om Afrikaans as onderrigtaal te handhaaf en daar sal gesprekke met die regering gevoer word oor die taal se lot.

Afrikaans aan universiteite

Buys se uitspraak oor veeltaligheid versus eentaligheid het in Mei weerklank gevind in die woorde van dr. Blade Mzimande, minister van hoër onderwys, toe hy gesê het daar is nie meer iets soos ’n Afrikaanse universiteit nie. “In hierdie land het ons Suid-Afrikaanse universiteite.”

Volgens Nzimande het hy niks teen Afrikaans nie, maar wil hy nie hê die taal moet gebruik word om ander uit te sluit nie. Oor die Noordwes-Universiteit (NWU) se planne om ’n unitêre universiteit met drie kampusse te word, wou hy hom nie uitlaat nie. Dié plan sal beteken dat die taalbeleid van die NWU se Potchefstroomkampus, een van twee oorblywende Afrikaanse universiteite uit die 38 in die land, in die slag bly. Die druk kom ook nie net van buite nie: Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het reeds aangedui dat die Potchefstroom-kampus se taalbeleid binnekort hersien sal word.

Onderbenutting van Afrikaanse skole

In April het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, ’n taakspan aangestel om te bepaal of Afrikaanse skole “onderbenut” word. Die uiteinde was dat verskeie top- Afrikaanse hoër- en laerskole deur hom geïdentifiseer is om in parallelmediumskole omskep te word.

“Daar is ouers wat hul kinders by ʼn skool wil inskryf, maar dit nie kan doen nie omdat die onderrigtaal grotendeels Afrikaans is. Dit is byvoorbeeld Engelssprekende of Indiër-leerlinge. Ons het nie ’n probleem met Afrikaans nie, maar dit word vir die verkeerde redes misbruik,” het Lesufi gesê.

Lesufi het benadruk dat Afrikaans net soos die ander tien amptelike tale deur die Grondwet erken word. Wat hom pla, is dat Afrikaanse ouers dink dié taal is bo ander verhewe.

Die harde werklikheid is dat Afrikaanse skole inderdaad van die beste skole in die skoolstelsel is, verduidelik Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

“Die slaagsyfer onder gr. 12-leerlinge in Afrikaanse skole is 96% teenoor die 73% van die onderwysstelsel in geheel. Die deurvloeisyfer van leerlinge wat gr. 1 begin en gr. 12 voltooi, is 90% in Afrikaanse skole, maar so laag soos 35% in die onderwysstelsel in geheel. Dié syfer was al so laag soos 23%.

“Van die 100 topskole in die land, is tussen 80 en 90 Afrikaanse skole. “Dit is vir die regering ’n reusagtige verleentheid, want hulle kan dit nie verklaar nie. Die departement van basiese onderwys beskou dit as deel van die oorblyfsels van apartheid.

Die SAOU meen egter die antwoord lê in verskeie faktore, waaronder die gehalte van onderwysers wat voorbereid na die klaskamer kom, die betrokkenheid van ouers, funksionele beheerliggame en goeie dissipline wat gehandhaaf word,” het Klopper gesê.

Lees gerus die res van die artikel hier: http://maroelamedia.co.za/blog/afrikaans/afrikaanse-opvoeding-onder-skoot/