Vir ’n teater in Suid-Afrika om winsgewend te wees, moet daar baie kreatief gedink en innoverend te werk gegaan word. Die Atterbury Teater is uniek in heelwat opsigte, en omdat dit so veelsydig is, is dit ’n suksesverhaal.  Benewens die toneelopvoerings en musiekuitvoerings in die teater, word dit ook ingespan as ‘n eersteklas konferensiefasiliteit en is ook ’n lokaal waar bekendstellings van produkte en dienste in styl kan plaasvind – kompleet met bo-baas spyseniering van Stephnie’s reg langsaan. Boonop kan alles wat in die teater gebeur, opgeneem word danksy die gehalte klankateljee wat deur Atterbury Trust se medewerkers Odyssey Records bestuur word. Die klankateljee is ook ‘n ekstra bate vir konferensie of korporatiewe kliënte aangesien opnames van geleenthede moeiteloos kan plaasvind. Ons het gaan kers opsteek by Fuzz Senekal, ateljeebestuurder en klankingenieur, in sy koninkryk bo-aan die ouditorium van die teater.

Hoe het dit gebeur dat die klankateljee hier by die teater gevestig is, en wanneer is die eerste werk in die ateljee gedoen? Wat was die heel eerste klankwerk?
Die ruimte sou aanvanklik oefenkamers (of dalk pakkamers) gewees het. My kollega Matthys Maree stel toe die idee van die ateljee voor. Ons kon met so ‘n ateljee natuurlik aangaan met gewone albumopnames soos wat ons vir die vorige klomp jare reeds gedoen het, maar kry toe ook die opsie by om lewendige opnames van vertonings in die teater te doen. Ons het intussen die teater se klanksisteem opgegradeer wat ons toe die opsie gegee het om die hele teater ook as ‘n groot klankhok te gebruik vir opnames. Die heel eerste opname wat ons hier gedoen het was ’n afkondiging van Johan Badenhorst vir Christopher Torr en Laurika Rauch se “Stuur Groete aan Mannetjies Roux” waarmee die teater in Mei 2011 geopen is.

Is daar elders in Gauteng (of die land) nog so ’n kombinasie van teater en klankateljee en wat maak dit so spesiaal?
Daar mag wees, maar ek weet nie van ‘n soortgelyke een nie. Die teater gee vir ons ongelooflike opsies vir opnames. Ons neem onder andere gereeld strykers vir ’n Switserse kliënt op – 15 van hulle op ’n slag. Ek sit bo in die ateljee, en hulle sit op die teaterverhoog, wat met sy fantastiese akoestiek ‘n fenomenale ateljee maak.

Waarvoor word die ateljee die heel meeste gebruik? Hoeveel mense is julle wat voltyds hier werk?
Op die oomblik is ons drie wat voltyds hier is. In die begin het ons meestal ateljee-albums opgeneem. Die musiekbedryf het baie verander in die laaste paar jaar, en deesdae is ons meestal met oorklanking en onderskrifte doenig.

Wat is die raarste projek waarby jy nog hier by die teater betrokke was?
Ons het vanjaar ’n oorklanking gedoen in Amharies (‘n Ethiopiese dialek). Dit is die raarste taal wat ek al opgeneem het, met ‘n alfabet wat bestaan uit meer as 400 fonetiese letters. Ek het ook al ‘n paar lekker vreemde instrumente opgeneem, van ’n saag, ’n sitar en ’n udu tot ’n trompie, ’n bouzouki en ‘n traporrel… As dit by perkussie kom, bring die spelers gewoonlik ’n trommel vol vreemde goed hier aan. Die ander dag het ek byvoorbeeld ’n handgemaakte skudinstrument opgeneem wat geprakseer is uit ’n stuk Kreepy Krawly-pyp wat vol skudgoed gemaak is!

Julle neem ook radio- en TV-advertensies se klank hier op… kan jy ’n staaltjie deel oor een wat jou bybly?
Ek neem onder andere Nataniël se radio-advertensies op. Alles wat dan gebeur is besonders snaaks! Jy lag van die oomblik wat hy hier instap tot hy weer by die voordeur uit is.

 Hoe ver is die Bybelvertaalprojek nou – wanneer is daarmee begin en wat is reeds vertaal en opgeneem… en wat is die einddoelwit?
Ons het die hele Bybel al in vier tale opgeneem vir ‘n Amerikaanse uitgewer wat die vertalings behartig het. Ons is nie heeltemal seker wat met die opnames gebeur as ons klaar is nie. Ons het wel op ’n stadium opgelet dat een van die vier tale as ’n oudio-Bybel app in Apple se App Store verskyn het. Verder wag ons maar om te sien wat gebeur.

Gaan daar ooit iets verkeerd? Kan jy ’n staaltjie deel?
Dit was met die eerste swaar reën sedert die teaterkompleks oopgemaak het, en ons was besig met ’n kooropname vir ’n musiekteaterproduksie. Ons klank- en bomdigte deure is iets om te beleef, en hulle was toe. Ons het van niks geweet nie en in in vrede opgeneem. Eers toe ons vir koffie breek, sien ons dat ’n groot waterpyp wat deur die ateljee se dak loop, losgekom het in ons ontvangsarea en daar was ’n hele span teater- en ateljeepersoneel en skoonmakers doenig met emmers en dromme om water te vang en uit te gooi terwyl ons besig was, totaal onbewus!

Wat was jou hoogtepunt uit die afgelope sewe jaar?
Ek kan nie een uitsonder nie. Dalk die eerste keer wat ons strykers of ’n simfonie-orkes of die klavier in die teater opgeneem het? Die vreemde instrumente? Die albums waaraan ons gewerk het wat kunstenaars as hoogtepunte beleef het, of waarvoor vir hulle toekennings gewen het? Die verhoudings wat jy in ’n kort tydperk saam met kunstenaars bou terwyl julle saamwerk? Die koffie… Dis altyd ’n hoogtepunt!

En wat sal jou droomprojek wees om aan te werk… wie wens jy kom klop aan die deur?
Ons het al aan ’n paar droomprojekte gewerk. Meeste van dié wat sou klop ken al die studio se deurkode…

ATTERBURY TEATER KLANKATELJEE IN SYFERS:
Oor die eerste sewe bestaansjare is die volgende voltooi:

  • 10 stryk-orkes opnames vir internationale kliente en 40 klavier-opnames in die teater vir verskeie CD produksies
  • 90 CD of DVD produksies
  • 102 lewendige CD of DVD opnames
  • 170 DVD of TV episodes se opname, vertaling, oorklanking en onderskrifte uitgevoer in Frans, Portugees en Mandaryns
  • 210 albums se verwerking
  • 280 radio of TV advertensies
  • 900 liedjies se verwerking
  • 7 600 bladsye van die Bybel in opgeneem in Shona, Luganda, Asante Twi en Chichewa
  • 3 859 minute se verteller-oorklanking vir films in Afrikaans, Swahili, Zoeloe, Amharies en Chichewa