Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat vroeër vandeesweek dawerend op Potchefstroom afgeskop het, is terug met mag én mening, berig Cyril Blackburn op Maroela Media se webwerf

Die fees se kaartjieverkope was teen Woensdagoggend reeds sowat 30 persent hoër as dieselfde tyd verlede jaar. Delmari van Zyl, die fees se bemarkingskoördineerder, sê alle tekens dui daarop dat vanjaar se fees wéér ʼn dawerende sukses gaan wees.

“Die kaartjieverkope vertel n storie en ons is geweldig bly daaroor, veral omdat almal bewus is dat die ekonomie die meeste mense se sak ruk. In dié stadium is ons dankbaar dat feesgangers Aardklop baie geniet.”

Van Zyl sê die Aardklop-feesterrein, wat vanjaar weer op Die Bult is, het baie met die fees se sukses te make. “Die Bult is die fees se hartklop, en tot dusver het ons nog net positiewe terugvoering van feesgangers gekry. Die kaartjies is natuurlik ook bekostigbaar en die terrein het ʼn magdom stalletjies waarvan feesgangers kan kies en keur.”

Nege groot markiestente staan vanjaar op die feesterrein en meer as 30 kleiner tente het ook verskeie winkels of eetplekke. Vanjaar se fees bied meer as 40 verskillende kosstalletjies en daar is ook meer as 400 kunsvlytstalletjies wat allerlei produkte verkoop.

Vanjaar word daar by 18 lokale verhoogproduksies opgevoer en meer as 350 vertonings is deur die loop van die week te sien, met meer as 700 kunstenaars wat deelneem.

Volgens Van Zyl dra Aardklop-feesgangers, van wie die meeste vanuit Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap en Vrystaat kom, geweldig baie by tot die ekonomie van Potchefstroom. “Aardklop is ʼn wonderlike geleentheid om die ekonomie van Potchefstroom ʼn hupstoot te gee. Maar meer nog, die fees probeer ook om die plaaslike gemeenskap te betrek, met sowat 300 poste vir tydelike werkers gedurende die fees.

Altesaam 70 000 feesgangers word deur die loop van die fees verwag. Laatslapers het min tyd om verblyf te bespreek en talle produksies is byna reeds uitverkoop.

Talle vertonings van produksies soos DEURnis; Maak vir my ʼn vlieër, Pa; Geheime taal en Volksbesit is reeds uitverkoop. Ander produksies wat ook uitstekend vaar, is onder meer Drie van die bestes, 20 jaar later; Laurika Rauch met Loki Rothman: Blou en Ag, kom ek val sommer die Holm in die huis.

Die gratis verhoë op die feesterrein waar bekende kunstenaars optree, is vanjaar ‘n groot trekpleister. Sangerssoos Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Jay, Nicolas
Louw en The Voice United-kunstenaars is by die gratis verhoë te sien.
Vir feesgangers met meer alternatiewe smaak is daar die Ontprop-verhoog waar kunstenaars soos Dawie de Jager, Saarkie en Beeskraal optree.

Aardklop gebeur nog tot 8 Oktober in Potchefstroom. Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket, en toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf (https://aardklop.co.za/).

Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Hier kan jy ook meer lees oor Aardklop 2017 (http://maroelamedia.co.za/tag/aardklop/), en luister na ʼn volledige onderhoud (http://maroelamedia.co.za/vermaak/musiek/luister-aardklop-kuier- spotgoedkoop-saam-op-die-bult-in-teaters/) met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.