Die dodelikste wapen…

Die dodelikste wapen…

Die Afrikaanse liedjieskrywer en sanger Chris Chameleon skryf in ‘n rubriek op Maroela Media se webwerf oor sy “doeanegesig” en die geheime wapen wat hy altyd saam met hom smokkel a hy op reis gaan…

My beminde ken my goed. Soms ongemaklik goed. So het sy ʼn paar raakvat-troetelwoorde vir my, waarin my swakhede met deernis uitgelig word. Sy geniet dit blykbaar ook om die spot te dryf met my tekortkominge. So hou sy my op my plek, nederig, herinner my aan haar dieper kennis van my siel en maak seker dat ek nie met ʼn sweempie veronderstelde openbare belang die huis betree waar ons mekaar altyd horisontaal in die oë moet kan kyk nie.

Een van haar gunsteling-beskrywings van my is my sogenaamde “doeanegesig”.

Die saak staan so: ek het ʼn paar talente, maar lieg is nie een van hulle nie. Ek is die slegste leuenaar wat ek ken. Dit was nie atyd so nie, maar ná ʼn ingrypende persoonlike ervaring in 1998 het ek verander van iemand wat nogal gereeld ʼn wit of selfs swart leuen kon vertel in iemand wat met selfs die mees “onskuldige” noodleuentjie ʼn groot ongemak beleef wat dan soos ʼn geboortevlek by my bakkies uitstraal.

My “doeanegesig” is ʼn uitdrukking wat ek blykbaar kry as ek deur die doeane op internasionale lughawens moet gaan: ʼn feestelik Freudiaanse brousel van agterdog, gatkruipery en opsigtelik verdoeselde skuld aan iets onbekends.

 Dit het te make met my lewenslange probleem met gesag. Ek funksioneer nie goed onder die hand van gesag nie. Ek wil nie ʼn baas wees nie en aanvaar ook geen baasskap oor myself nie. Dit maak dit moeilik by die meeste situasies wat die owerheid betrek, maar ten ergste by doeane, waar my magteloosheid vir my pynlik en onvermydelik beklemtoon word.

Ek is te ʼn gesoute reisiger om ooit iets onregmatigs deur ʼn doeane te neem, maar ongelukkig hoef jy my bloot te verdink van iets om my skuldig te kry. En by die doeane is almal onder verdenking. Dus, ek lyk skuldig, hulle tel dit op en voilà! Geen doeanedeurgang is in my geval ooit eenvoudig nie en verloop selde voorvalloos.

En tog smokkel ek telkens die grootste, gevaarlikste wapen met my deur die doeane.

Hulle vra vrae wat niks oplewer nie. Hulle deursoek my paspoort, kry niks. Hulle fynkam my bagasie – ook niks.

Ek was helaas al twee keer in my lewe by ʼn internasionale grens aan ʼn volledige liggaamsondersoek onderwerp – ʼn geweldig vernederende skending van ʼn mens se privaatheid. Ook hierdie ondersoeke is met leë doeanehande beloon.

 Ten spyte van al die loerbroer-tegnologie, ten spyte van hul steeds meer verfynde psigoanalitiese metodiek, sien hulle nooit my wapen nie – die gevaarlikste wapen wat nog ooit aan die mensdom bekend was. Die wapen waarmee klein aanvalle in die staat (of op straat) afgeweer word, die wapen wat groot oorloë beslis. Die wapen wat so gevaarlik is dat Spreuke 18:21 ons herinner dat dit mag oor die lewe en die dood beskik. En dit is toevallig ʼn wapen wat ek slyp in my vrye tyd, by my werk, met een mens op ʼn slag of met skares. Die wapen is so magtig dat jy hom moet gebruik om homself te beskryf. Die wapen se naam is: “Woorde”

Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

Leave a Reply