Kersfees is om die draai, en dis altyd een van Atterbury Trust se grootste vreugdes om die kleintjies van Beyers Bytjies kleuterskool te bederf met ’n Kerspartytjie. Ons hoor by skoolhoof Frances Delport hoe die feestelikheid afgeloop het, en vra vir die Bytjies self ’n paar Kersvrae…

Hoe het die Atterbury Trust Kerspartytjie vanjaar afgeloop? Wat was die lekkerste deel daarvan?
Ons kerspartytjie met Atterbury Trust was wonderlik, omdat hulle altyd soveel moeite en liefde in so ’n dag sit. Hulle het kom worsbroodjies braai, en tussen die braai en die gebaljaar op die springkasteel en die lekker speel en kuier met die kleuters, was dit ’n heerlike dag vir almal.

Is die partytjie iets waarna die kinders baie uitsien – bou julle op daarnatoe by die skool?
Ons as kleuterskool, dit sluit die kleuters en personeel in, is altyd baie opgewonde as Atterbury Trust kom partytjie hou omdat hulle dit altyd met soveel omgee doen. Wanneer hulle hoor Atterbury kom kuier word die slapies behoorlik afgetel…

Het “Kersvader” persente gebring?
Hulle het ons verras met die wonderlikste geskenk vir elke klas – ’n kunskrat met alle soorte kunsmateriaal waarvoor ’n juffrou maar kan vra. Papier, skêre, gom, boeke, verf… noem maar op, alles splinternuut. Nou kan ons die nuwe jaar met ’n glimlag begin! Elke kleuter het boonop ’n rubber-hopballetjie gekry, waarmee hulle omtrent die personeel malgemaak het!

Wat was die hoogtepunt van 2016 vir die skool, en waarna sien julle uit vir 2017?
Daar was vanjaar heelwat hoogtepunte by Beyers Bytjies, maar ek dink die een wat bo alles uitstaan is die wonderlike skenking van stene wat ons ontvang het. Ons kon plaveisel by die ingang lê waar die gras nie meer wou groei nie en dit altyd ’n seer oog was. Nou kan ons lekker daar kuier en ook veral ons groot motoriese oefeninge doen sonder enige bekommernis. Ons sien baie uit na 2017 en weet dat ons Hemelse Vader altyd Sy hand oor Beyers Bytjies hou. Ons weet dat 2017 met nuwe uitdagings gaan begin, maar ons weet ook dat ons mense soos Atterbury Trust agter ons het wie se harte altyd vol liefde en omgee is.

Wat sê die Bytjies self, oor Kersfees?

Wat wil jy hê vir Kersfees?
Brandon: “Ek wil ’n kar met ’n remote hê”
Venseka: “Ek wil graag ’n Barbie-pop hê.”
Sanet: “Ek sal graag ’n Barbie-pop met ’n hondjie en katjie wil hê.”
Zayden: “Ek wil graag Legoblokkies en ’n army-stel hê.”
Botshelo: “Ek wil ’n pop en ’n pram hê”
Mario-Landa: “Ek sal graag ’n babapop wil hê.”
Onthathile: “Ek wil graag ’n vlieër hê.”
Helga: “Ek wil graag ’n pop hê.”

Waar woon Kersvader as dit nie Kersfees is nie?
Musa: “Kersvader woon by die Paaseier.”
Botshelo: “Hy woon waar daar sneeuballe is!”
Venseka: “Ek weet nie regtig waar Kersvader bly nie; seker maar in sy huis?”
Tafadzwa: “Kersvader woon op die maan.”
Brandon: “Ek dink Vader Krismis woon daar bo waar daar baie sneeu is.”
Benjamin: “Ek weet hy woon daar bo iewers”
Zayden: “Kersvader woon in sy huis in die lug.”
Helga: “Kersvader bly in sneeuland.”
Themba: “Ek dink hy woon in die noord-ooste.”
Onthathile: “Kersvader woon in die supermark.”

Watter speletjie speel jy die graagste?
Brandon: “Ek is mal oor sokker”
Chantell: “Ek speel graag aantrek-aantrek.”
Zack: “Ek doen graag hand-stands!”
Riaan: “Ek speel die graagste met my karretjies.”
Mario-Landa: “Ek speel graag met my ma se hare salon-salon.”
Sanet: “Ek hou van wegkruipertjie speel.”
Themba: “Ek speel graag met albasters.”

Vir wie wil jy graag ’n present gee vir Kersfees?
Brandon: “Ek wil vir my pa verf gee sodat hy ’n werk kan kry.”
Amahle: “Ek wil ’n lekker parfuum vir my Mamma gee.”
Lee-Ann: “Ek wil graag vir Ninke ’n Barbie-pop gee.”
Ninke: “Ek wens ek kan vir Lee-Ann ’n pop gee.”
Helga: “Ek wens ek kan vir my oupa ’n nuwe bakkie koop.”
Themba: “Ek wil hoë-hakskoene vir my Mamma koop.”
Riaan: “Ek sal graag vir Mamma parfuum en vir Pappa spuitgoed wil gee.”
Musa: “Ek wens ek kon vir my pappa ’n skootrekenaar gee.”
Tafadzwa: “Ek wil ’n pragtige rok vir my mamma hê.”
Onthathile: “Ek wil vir my ouma ’n klein hondjie gee!”
Zayden: “Ek wil graag vir Mamma iets gee wat sy nog nooit gehad het nie.”

Beyers Bytjies kleuterskool is afhanklik van weldoeners en borge, en skenkings is baie welkom. As jy ’n borg wil word of wil hoor hoe anders jy kan bydra, skakel Frances Delport op 012 386 6129, of stuur ’n epos na [email protected]. Besoek die skooltjie se webwerf vir meer inligting: www.beyersbytjies.co.za.

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]