Soos meeste bevoorregde jong mense het ek baie goeie ouers wat altyd die mooiste en beste van die wêreld vir my gun, maar hulle kon ongelukkig nie bekostig dat ek by ’n universiteit gaan swot nie. Die jaar na matriek, 2013, het ek dadelik begin werk en kon toe met ’n klein kontant “beurs” van Merafong Munisipaliteit, my eerste semester se registrasiegeld betaal om LLB deur Unisa te begin swot. Ek wou nog altyd, vandat ek kan onthou, ’n regsgeleerde word.

Ek en my ouers kon op daardie stadium nie eens ’n lening by die bank kry om die res van my studies te betaal nie. Ek was moedeloos; en wou nie afstand doen van my beroepsdroom nie.

In Julie 2013,  met baie hoop en geloof, het ek ’n beursaansoek  by Atterbury ingedien. Ek onthou vandag nog die oproep wat ek ontvang het van Atterbury en hoe verlig, gelukkig en geseënd ek gevoel het toe ek goedgekeur is.

Ek het vir vier jaar vir verskeie prokureurs in Fochville en in Potchefstroom gewerk. Dit was ’n baie groot uitdaging om te werk en gelyktydig te swot… dit maak jou beslis baie vinnig “groot”.

Na baie insette, struikelblokke en gebede, het ek in Junie 2017 my laaste eksamen geskryf en het uiteindelik in Oktober 2017 my graad gekry. Daarna het ek ’n kandidaatprokureurspos  by ’n prokureursfirma in Potchefstroom gekry.

Onlangs het ek weens persoonlike redes ’n beroepsomwenteling gemaak. Ek is tans ’n “para planner” by Willemse Finansiële Dienste, ook in Potchefstroom, en gaan volgende jaar my CFP- nagraadse diploma doen om ’n Gesertifiseerde Finansiële Beplanner te word. ’n LLB graad is een van die vereistes om dié kwalifikasie te kry.

Ek is baie opgewonde oor my toekoms en geniet my werk, elke dag. Ek weet dat my beroepsbeplanning, graad en helder toekoms nie sonder Atterbury Trust moontlik sou wees nie. Die pad wat ek nou stap, is deur Atterbury geplavei.

Ek is julle ewig dankbaar!