Ek het eers vir 11 jaar by my ma in Pretoria gebly, waarna ek my hoërskoolloopbaan by Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit voltooi het. Ek wou altyd in Potch kom studeer het, maar finansies was ’n groot probleem. Atterbury Trust en die Noordwes-Universiteit het my egter finansieël bygestaan en danksy die hulp het ek my B.Com Forensiese Rekenmeesterskap graad cum laude geslaag. Ek is tans besig met my honneursgraad in B.Com Geoktrooieerde Rekenmeesterskap.

Baie deure het vir my by die universiteit oopgegaan. Ek sing nou al vir die vierde jaar in die NWU PUK-Koor, wat my die geleentheid gegee het om dele van Suid-Afrika en selfs Europa te verken. Atterbury Trust het my ook hierin ondersteun. Ek was vir twee jaar lank op die koor se bestuur, waarvan ek een jaar as voorsitter gedien het. Daar het ek ongelooflik baie vaardighede geleer wat ek in die toekoms tot groot hulp sal wees. Ek het ook op vele ander leierskapstrukture gedien en was by ’n klomp ander aktiwiteite betrokke; en het ook baie vriende gemaak.

Ek kan nie genoeg dankie sê vir die invloed wat Atterbury Trust in my lewe gehad het nie. Hulle beïnvloed en verryk mense se lewens daagliks. DANKIE!