Die argitek Pieter Mathews is by die 2012 Biennale Architettura in Venesië deur ‘n plakkaat ïnspireer wat besoekers aangemoedig het om “die gesprek elders voort te sit”. Terug in Pretoria, sy tuisdorp in Suid-Afrika, is die eerste kuratorlose, doen- dit-self guerrilla biënnale met die naam Cool Capital met behulp van ‘n klein groepie argitekte en kunstenaars geloods.

Cool Capital se doelstelling was om die bestaande burokratiese verhouding tussen stad, inwoners en publieke ruimtes te bevraagteken en daardeur ‘n nuwe sin van eienaarskap aan te moedig.

Ontwerpers is versoek om verwaarloosde areas in die historiese middestad te herontdek, en dan met inwoners saam te werk om verskyn-en-verdwyn (“pop up”) installasiewerke te skep. Die gevolg was dat die stad as plek, hoofstad en bestemming op ‘n nuwe manier beskou kon word. Cool Capital se kuratorlose benadering het beteken dat meeste burokratiese prosesse uitgeskakel is. Nadat die kreatiewe gemeenskap die stad onder hande geneem het, is kreatiwiteit meer toeganklik gemaak vir al die inwoners. Ontwerpaktivisme op sy beste!

Pretoria is gevier deur spontane straatkuns en ontwerp-ingrypings wat die stad laat ontwaak het en só stedelike vernuwing geïnspireer het. ‘n Samehorige gemeenskap was van groot hulp. Benewens bogenoemde was daar ook ‘n ander rede om te glimlag: Cool Capital het bewys dat werklike vernuwing ‘n moontlikheid is wanneer dit deur begeesterde stadsburgers gedryf word.

Innovasie het nie teruggestaan vir beskeie begrotings nie. Meer as 150 projekte, wat elk die status quo uitdaag, gelykmaak of bevraagteken, is geïnisieer. Vanjaar gaan Cool Capital voort met die tema: Klein is groot. Cool Capital het Pretoria as vername Afrika-sentrum van kreatiwiteit gevestig.