Die Cool Capital biënnale kom weer, lank leef Cool Capital! Met die onlangse vrystelling van die Cool Capital 2014 katalogus is die goeie nuus aangekondig dat Pretoria volgende jaar weer ‘n maandlange guerrilla kunsveldtog gaan beleef. Ons gesels met die projekkoördineerder Carla Taljaard oor wat die toekoms inhou.

Mens kan eers die finale sukses van die projek evalueer na die vrystelling van die die Cool Capital katalogus en dokumentêr. En wat ‘n triomf! Hoe voel julle as organiseerders?
Ons is steeds eintlik uit die veld geslaan met die geweldige suskes wat die projek behaal het, en die entoesiasme waarmee die Pretoriase publiek die geleentheid aangegryp het om ‘n positiewe bydrae tot hulle omgewing te maak.

Is julle reg vir 2016? Wanneer het julle besluit julle doen dit weer, en wat het daardie besluit gedryf?
Ons het aanvanklik gewonder of ons dit weer moes doen, maar toe die eerste katalogus met die pos aankom en ons blaai daardeur, kon ons vir die eerste keer die omvang en diversiteit van die biënnale sien. Dit het ons gemotiveer om weer die bal aan die rol te sit, en natuurlik gaan dit hierdie keer baie makliker wees – almal weet nou wat om te doen.

Wat is die datums en tema vir 2016?
Die 2016 biënnale gaan tussen 23 September en 31 Oktober plaasvind, en die tema is “Klein is groot”. Ons wil graag illustreer dat mens met min tot jou se beskikking baie kan vermag.

Wat was die grootste lesse wat die eerste biënnale julle geleer het?
Dit was wonderlik om te voel dat mens in jou persoonlike hoedanigheid wél ‘n groot en positiewe impak kan hê. Ons het geleer hoe om mense opgewonde te maak oor die idee, en ook hoe om daardie idee verder te neem tot by implementering. Ons het ook geleer dat ondersteuners en deelnemers en natuurlik goeie borge meer as goud werd is.

Wat sal julle volgende jaar anders doen?
Die 2016 biënnale gaan effens korter en kragtiger wees, en ons gaan hierdie keer meer staatmaak op mense se eie inisiatief. Ons hoop dat mense ons hierdie keer minder vir toestemming gaan vra! Ons gaan net ja sê. :)

Daar was soveel kreatiewe suksesse, wat was jou persoonlike gunstelinge?
My persoonlike gunstelinge was mense wat uit hulle eie besluit het op ‘n projek, die datum en wie gaan help. Hier staan die guerrilla tuinmaak in Lynnwood vir my baie uit. Ons was in kennis gestel van die projek, maar dit is total en al gedryf deur die deelnemers.

Weet jy al of julle vir die 2016 Cool Capital biënnale ekstra elemente byvoeg?  
Die lekker deel van ‘n inwoner-gedrewe biennale is dat ons eintlik enigiets kan verwag. Ek weet sommer dat Pretoria se mense ons wildste verwagtinge gaan oortref. Ons hoop om in 2016 ook meer met al ons ambassades te skakel en om meer “skyn-en-verdwyn” (pop-up) projekte te sien. Hoekom? Want dit is soveel pret!

Het julle al borge vir 2016?
Natuurlik was die Atterbury Trust weer vroeg voluit aan ons kant, en ons is baie dankbaar om sulke borge in ons span te hê. Daar is ook ‘n paar ander borge wat al aangedui het dat hulle gaan deelneem.

Wat is die lekkerste terugvoering wat julle gekry het oor Cool Capital 2014?
Dit was lekker om na afloop van ons film-premiere te hoor hoe almal in die gehoor reeds begin dink het aan wat hulle volgende jaar sal doen. Dit is presies wat ons wou bereik.

Waar kry ek die katalogus, en waar kan ek die dokumentêre film oor die biënnale sien?
Die katalogus is beskikbaar by die Graffiti Boekwinkel in Lynnwood Bridge, alle Exclusive Books winkels, en ook aanlyn by takealot.com. Daar sal in 2016 ‘n hele paar geleenthede wees om die film te sien, onder andere by die Boekejol en Flimrolfees wat van 18-21 Augustus 2016 by die Atterbury Teater aangebied word. Ons sal ander datums op ons webblad, Facebook-blad en Twitter bekend maak.
Vir meer oor Cool Capital, besoek die webwerf www.coolcapital.co.za en volg ons op Facebook en Twitter @CoolCapital