Die bekroonde sanger-liedjieskrywer Chris Chameleon is ook ’n bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa en beskermheer van die FAK-liedjietuin. Maar toe hy klein was, was hy ‘n rakker. Hy skryf op Maroela Media se webwerf van die dag toe die versoeking net te groot was… Ons plaas vandeesmaand die eerste aflewering van hierdie lekker vervolgstorie

Ons gaan kerk toe wanneer ons kan. Met die baie ryery, die elke aand op ‘n ander plek gewesery en die soms 3 uur soggens tuiskom is ek een van daardie lidmate wat taamlik ongereeld gesig wys by die NG Kerk waar ek gedoop en aangeneem is en waar my testament graag my laaste gedenkdiens wil hou.

Maar wanneer ek kan, gaan ek.

Dis nie net ’n geestelike saak nie, dis ‘n kulturele saak. Dit gaan om my kerkkultuur, my Afrikanerkultuur en, les bes, my persoonlike kultuur. Want daardie gebou huisves menige van my herinneringe.

Ek onthou hoe ek as kleuter op die mat in die moederkamer rondgekruip het. Ek onthou hoe my ma elke Sondagoggend in ‘n geweldige haas deur die bergpad plat gejaag het met die geel Volksie om betyds by die kerk uit te kom. So is ons geloof ook goed in stand gehou, want die feit dat ons lewendig by die kerk aangekom het en dat ons geen ander lewens op pad geneem het nie was al ‘n reëlregte, weeklikse wonderwerk.

Ek onthou die opgewondenheid van my eerste nagmaaldiens, toe ek uiteindelik daai broodjie en ‘n slukkie wyn kon neem. (Hulle het sedertdien die wyn na druiwesap verander, ‘n andersom wonderwerk wat dalk die gevolg is van die kwynende ekonomie van dalende lidmaatskap.)

Ek onthou die “poefblommetjies” buite in die kerktuin, waar ek en my sussie altyd na die diens ‘n klein wit blommetjie gepluk het, papgedruk het om dan die reuk van… ja, ons het dit maar poefblommetjies genoem.

Ek onthou die tel van ligte. Met die rustige, stem van die dominee in die agtergrond wat ons tot ootmoed maan het ek obsessief al die ligte in die kerk getel. Altyd geweet watter lampies geblaas het, watter lampies vervang is. Die syfer was nie altyd dieselfde nie, omdat dit baie afgehang het van waar ons in die kerk gesit het. Ek kon net die ligte voor my tel, want sodra ek wou omdraai om die ligte agter ons te tel het my ma my aan die korthare voor my ore getrek.

En ek onthou die gesigte. Baie van hulle is nou natuurlik veel ouer, sommige van hulle het intussen vertrek om die Grootbaas in persoon te gaan ontmoet.

En so loop ek ‘n tydjie terug ‘n tannie uit my verre verlede ná ‘n diens raak. Ons gesels ‘n bietjie, haal bietjie in. Na afloop van die gebruiklike tee en koekies na die diens, ry ek en my beminde weer huis toe. Ek vertel haar van hierdie tannie, hoe, toe ons klein was, my ma soms naweke gaan tennis speel het by die tannie en haar vriende. My ma het nie heeltemal ingepas by hierdie grênd mense nie, sy was maar ‘n sukkelende enkelouer. Maar die kombinasie van haar brandewyntert en formidabele voorhand het haar ‘n onmisbare onderdeel van hierdie tennisklub gemaak.

My ma wou so graag hê dat ek ook moes tennis speel, maar die grootword tussen die vier mure van ‘n woonstel het my hand-oog-koördinasie nie voldoende toegerus vir sulke streke nie. Ek het maar met die mense se hond gespeel en myself vermaak soos wat kinders maar op daardie leeftyd doen.

En so drentel ek toe eenmaal by die tannie se seun se kamer in. Hy het ook ‘n “onderste laai” gehad soos ek, ‘n laai vol los en interessante dingetjies; seunsgoed. ‘n Stukkende ou karretjie, onpas blokkies, albasters, ‘n ou Mercedes Benz kenteken en… ‘n knipmes. ‘n Pragtige knipmes. ‘n Voortrekker-knipmes, met ‘n fakkel op die hef. Ek het nog nooit ‘n knipmes gehad nie en het daardie knipmes in weerwil van die tiende gebod se sterkste vermaninge op daardie oomblik meer begeer as enigiets anders op aarde. Die ding het so lekker in my hand gele, dit was stil, ek was alleen. Alles was so maklik… (word vervolg)

Kom loer volgende maand om uit te vind wat gebeur het! Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.