As kind het Chris ‘n mes gegaps, en die skuldgevoel het hom bygebly. En toe, as volwassene, loop hy vas in die man wat hom al die jare verdink het… Hier volg die derde en finale aflewering van die storie oor Die Mes.

Lees ook die vorige twee aflewerings van die storie oor Die Mes uit Chris se pen op Maroela Media: (http://maroelamedia.co.za/tag/chris-chameleon/)

Ons groet mekaar, stel ons gades aan mekaar voor en begin so ʼn bietjie te onthou-jy-nog.

Ek wil egter die aapstuipe kry van my innerlike onstuimigheid. Koeitjies en kalfies uit die weg geruim, vertel ek hom dat ek nou-net sy ma by die kerk raakgeloop het en dat ek spesifiek van hom gepraat het op die pad Carlton-sentrum toe. Ek sien ʼn bietjie ongeloof raak, en is bly dat my beminde langs my staan – as daar ʼn ander persoon is wat jou beaam dan kry jou storie gelukkig die deurslaggewende geloofwaardigheid want ja… hierdie gebeure flankeer met ʼn toeval wat grens aan die ongelooflike.

“Onthou jy nog jou Voortrekkermes van die 70’s, die een met die fakkel op die hef?” vra ek hom.

Sonder huiwering antwoord hy direk, “Ja”. Agter sy oë vonkel die verhaal van sy eie vermoedens oor die lot van daardie mes.

En daar val ek met die sak patats uit die wa uit en vertel hom die hele verhaal, presies soos ek dit so pas in die kar aan my beminde vertel het. Toe ek klaar vertel het, knik hy sy kop, glimlag en sê: “Ek het gedink dit was jy, het dit altyd vermoed. Maar ek is bly jy vertel my nou. En moenie daaroor stres nie, dis verby, vergewe en vergeet.”

Ons gesels nog ʼn bietjie, groet gemoedelik en gaan ons eie gang. Op die pad terug huis toe, besluit ek dat ek ʼn goeie mes gaan koop, om dit vir hom as geskenk gaan gee en nie lank

daarna nie, kry ek toe ook die aangewese mes.

Die geleentheid om die mes vir hom te gee het my vir vier jaar lank ontwyk. Totdat daar verlede jaar by ʼn kunstefees ʼn huldeblyk gereël is vir sy pa, ʼn baie bekende Suid-Afrikaner wat kort daarvoor oorlede is. Ek is ook genooi na die evenement en gaan toe, met my mesgeskenk en al. Tydens die huldeblyk kon ek nie wegkom van ʼn ongemaklikheid in my nie. Iets omtrent dit wat ek wou doen, het nog nie reg gevoel nie.

Teen die einde van die aand se verrigtinge het ons almal rondegestaan, drankies gedrink, happies gepeusel en gesels. En so kom ek toe te lande in ʼn kringetjie met die man, sy broers en een of twee ander mense. Ek begin my verhaal vertel, die verhaal wat hy nou reeds ken tot groot vermaak van die ander omstanders. En toe sê ek vir hom dat ek vir hom iets gebring het en dit graag vir hom wil gee; ek moes dit net gou in die kar gaan haal het.

Ek verskoon my, gaan kar toe en haal die pragtige, nuwe mes uit.

En toe besef ek wat dít was wat my gepla het. Die mes was goed, mooi, nuut, funksioneel. Maar dit was bloot ʼn goeie mes wat ek gaan koop het.

*** Ek nader die kringetjie mans, wat geduldig gewag het dat ek terugkom. Ek stap reguit na hom toe, kyk hom in die oë en praat my praat:

“Sy was saam met my in Kroasië, Slowenië, Italië, Switserland, Nederland, die VK, die VSA. Sy was saam met my in ʼn hele paar Afrika-lande. Sy was daar toe my kar in die Caprivi gebreek het, sy was daar toe ek in die woude van die Oos-Transvaalse hooglande verdwaal het. Sy het saam met my menige blik bone gebreek en goeie en minder goeie wyne oopgemaak. Sy het saam met my kluswerk in en om die huis verrig. Ek het vir jou ʼn nuwe, mooi mes gekoop, maar ek kon nie daarmee enige sentiment vergoed nie, hierdie is my getroue Victorinox, sy kan baie doen, sy het al baie gedoen. Ek hoop dat sy jou so getrou sal dien soos sy my gedien het.

“En pasop! Daai lem is skerp, sy sny enige lang vingers stomp af!”

Hierdie storie het oorspronklik op maroelamedia.co.za verskyn, waar Chris Chameleon ‘n gereelde rubriek skryf.