Vroeg in 2015 het ons met Percival van der Walt (bo regs saam met sy vennoot Wenzel Appelgryn) gesels oor sy honneursjaar wat voorgelê het as een van Atterbury Trust se beursstudente. Die boubedryf is in sy murg, het die slimkop gesê, en in die jaar wat verby is het hy nie net sy honneurs verwerf nie, maar ook twee winsgewende ondernemings begin!

Vertel ons van jou graad.
Ek het nou ’n BSc Eiendomswese Honneurs verwerf, en vir ons tesis het ek en my spanlede navorsing gedoen oor innovatiewe oplossings vir afvalbestuur – meer omgewingsvriendelike maniere vir geboue en ontwikkelings om rommel en afval te verwerk.

Maar twee besighede? Hoe op aarde het jy dit reggekry?
Ek is altyd op die uitkyk vir geleenthede! Die eerste een het ontstaan toe ’n finansiële-adviseur vriend my raad gevra het oor ontwikkeling. Hy het ’n stuk grond geïdentifiseer wat hy sou verkoop, maar toe begin hy wonder of hy dit nie self kan ontwikkel en meer van ’n wins kan maak nie. Ek spesialiseer in eiendom, so ek kon hom goeie raad gee, en vandaar het ons besluit om vennote te word. Ons maatskappy, Grace Corner Developments, is geregistreer, en ons is besig met ons eerste groot transaksie waarmee ons verwag om goeie geld te maak. Ons tree basies op as middelman tussen verkopers van erwe en ’n ontwikkelaar wat grond soek om te ontwikkel. Ons doen die onderhandelings, tree op as agent vir die verkopers en kry ook ’n fooi van die ontwikkelaar vir ons aandeel in die onderhandelings.

En julle gaan reeds wins maak van die eerste projek af?
Ja, ons het nie regtig oorhoofse uitgawes nie, dis net ons tyd en idees. Dis nog baie nuut, en klein, maar ek en my vennoot, Wenzel Appelgryn, het reeds planne vir groei. Ons het klaar ’n derde vennoot gekry wat by ons volgende projek betrokke sal wees. Louis Lombaard is ’n konstruksiebestuurder, so hy het die nodige vaardighede wat ons in staat sal stel om self ontwikkelingsprojekte aan te pak. Ons het ook reeds ’n belegger wat ’n kwartmiljoen in Grace Corner wil instoot, so ons hoop om so Februarie, Maart 2016 ons eerste residensiële ontwikkeling aan te pak.

Baie indrukwekkend! En die tweede besigheid?
Dis baie kleiner, maar dis ook omdat ek ’n geleentheid raakgesien het. Ek het so ’n paar maande gelede verby ’n bouperseel gedraf en toe wonder ek skielik of die ouens wat daar werk, nie honger raak nie. Ek het dit met Louis bespreek en hy het vertel dat baie boupersele ver is van winkels en ander geriewe, sodat die werkers nie sommer maklik iewers kan gaan kos koop nie. Ons het paar somme gemaak, en toe begin ons heel informeel pap en sous verkoop by een bouperseel waar Louis betrokke was. Ons doen dit maar self, ons kook die pap in ’n potjie, maak dan sous (Louis se huishoudster het ons gehelp met resepte), soms kom daar vleis by, en dan gaan verkoop ons dit sommer agter van ons bakkie af. En jy sal verbaas wees hoe baie wins jy kan maak! Vir nou is dit ook nog baie klein omdat ons dit tussen alles anders deur inpas, maar dit is ’n lekker sybesigheid waarmee ons ekstra geld maak om mee naweek te hou…

Het dit ’n naam?
Ja, ons naam is Le Pap! Ons is besig om dit te registreer. Ons wil volgende jaar sisteme instel sodat ons meer boupersele van maaltye kan voorsien, en gereeld – as mense op ons staatmaak om elke dag hul middagetes te voorsien, moet jy elke dag daar wees, wat ons nog nie nou kan doen nie. Ons wil dalk ’n voedseltrokkie kry, en een of twee mense aanstel wat die daaglikse kook en distribusie van die kos kan hanteer.

Hoe het jy dit alles by jou studies ingepas – dit klink na so baie werk?
Ons is nou so vier maande aan die gang, en die lekker ding is dat jy nie nodig het om vir alles fisies na die persele te gaan nie – jy kan tot ’n groot mate van jou foon af werk. Die onderhandelings vat lank, maar daar is drie van ons so ons help mekaar uit, en ek kon alles in my vrye tyd doen tussen die studies deur. Ek het in my honneursjaar geen klasse gehad op Maandae en Vrydae nie, so dan kon ek vergaderings en so aan vir die besigheid doen..

Was daar kapitaaluitgawes betrokke by die begin van die ondernemings?
Met Grace Corner was dit letterlik die R500 vir die maatskappy se registrasiekoste, en dan my maandelikse foonrekening! Ons het nie regtig spesifieke kapitaaluitgawes nie. En met Le Pap was dit ’n pot, die bestanddele, en petrol vir die bakkie!

Wat dink jy is die grootste les wat jy geleer het deur ’n klein besigheid te begin?
Mens is geneig om te wag vir dinge om te gebeur maar as jy nie self iets aan jou situasie doen nie, gaan jy vir altyd wag. Daar is oral geleenthede, mens moet net jou oë oophou, en as jy ’n gaping raaksien, optree.

Wat is die onmiddellike plan vir 2016, gaan jy fokus op jou eie besighede of soek jy werk?
Ek weet ek kan nog baie leer, en by ’n groot maatskappy sal ek kan ontwikkel en waardevolle ervaring opdoen. So ja, ek het ’n paar onderhoude wat voorlê en ek hoop ek kry ’n posisie in ’n goeie boufirma. Maar ek sal altyd my eie ding ook doen, en my langtermyndroom is beslis om self ’n ontwikkelaar te wees met my eie besigheid. Teen die tyd dat ek 30 is, wil ek baie gemaklik lewe. Ek begin ook saam met my ma ’n eiendomsaak; ons wil belê in eiendomme wat ons kan opgradeer en dan verhuur vir ’n passiewe inkomste. Dit sal my ma se pensioen wees, en op die lang duur ook myne…