Nog ’n akademiese jaar het pas begin, en vir die bykans 240 studente onder Atterbury se vlerk vanjaar, is die hulp en bystand wat hulle deur middel van die beursprogram kry die verskil tussen ’n blink toekoms en voorslepende armoede wat hulle terughou.

Atterbury Trust bestuur en administreer met passie en liefde die fonds, wat in stand gehou word deur die vrygewige bydraes van individue en maatskappye. Versnit, die eksklusiewe musiekaand in die wingerde wat Atterbury se vriend van baie jare, Jean Engelbrecht jaarliks op sy Stellenbosse plaas Rust en Vrede saam met Atterbury aanbied, is ’n hoogtepunt in Atterbury Trust se kalendar, omdat die gaste elke jaar sulke ruimharitge ondersteuning aan die Trust, en spesifiek ook die beursfonds gee. Vanjaar was Lexus ook vir die eerste keer as borg betrokke by hierdie glinsterende aand in die wynlande.

Atterbury se beursfonds werk op die beginsel dat ’n student deur sy of haar kursus finansieël ondersteun word, deurgaans gemonitor word, en ook verdere bystand kry deur onder andere Grolife mentorsessies. Studente word nie net aan hulle eie genade oorgelaat nie, en as gevolg daarvan is die slaagsyfer baie hoog. Studente word deel van die Atterburyfamilie en smee waardevolle bande wat vir ’n leeftyd  sal hou. En as ’n student afgestudeer het en sy of haar eerste werk kry, begin hulle die beurs rentevry terugbetaal, en sodoende dra hulle weer ’n volgende student.

Dit kos vanjaar ongeveer R60 000 om een student vir een jaar op universiteit te hou, en ’n drie-jaar graad kos dus in die omgewing van R180 000; ’n ontsaglike groot som vir selfs ’n redelik gemaklike gesin, en ’n algehele onmoontlikheid vir ’n arm gesin. Dit is hoekom elke weldoener so gewaardeer word.

Ben Stewart (naam verander) is so iemand. Hierdie Britse sakeman van Londen het vroeër jare baie besigheid in Suid-Afrika gedoen en was onder andere betrokke by die opleiding van jong analiste in die finansiële bedryf. Sy ervarings het hom laat besluit om ’n beursprogram te vind waardeur hy op verantwoordelike wyse ’n borg kon word vir een jong Suid-Afrikaanse uitblinker wat die hulp nodig het. Danksy een van Atterbury se baie gewaardeerde vennote het Ben by die Atterbury Trust uitgekom. Hy moes ons Afrikaanse webwerf met behulp van Google Translate lees, maar het die spyker op die kop geslaan: “I presume Zahn Hulme, the chief exec trustee of the trust is the ex Deloitte CA who could be expected to have a disciplined and businesslike approach!” Inderdaad so!

Ben se rede hoekom hy ’n student wou borg, is baie persoonlik en geïnspireer deur sy oorlede moeder. “Sy het van ’n baie arm familie gekom – haar pa is oorlede toe sy baie jonk was – maar sy het dit reggekry om te kwalifiseer vir een van baie min skoolbeurse wat in daardie tyd beskikbaar was. Sy het dit as ’n trappie boontoe gebruik en met baie harde werk het sy dit reggekry om die leer te klim en haar lewe ten goede te verander. Ek wil graag iemand in Suid-Afrika help wat in dieselfde omstandighede is as wat my ma in die Dertigerjare was – om dieselfde resultaat te verkry, en dit is hoekom ek ’n spesifieke individu wil ondersteun.”

Zahn het vir Ben vertel van een van ons nuwe BCom Rek-studente, Layla Mayambala (Lees storie hier) wat op ’n jong ouderdom haar ma verloor het, en die ooreenkomste met sy eie ma se agtergrond het Ben oortuig om vir Layla “aan te neem” vir minstens ’n jaar. Hy maak ’n skenking van R50 000, en deel ook sy storie met Layla, om haar verder te inspireer.

In ’n ander geval is ons genader deur drie jongmense in hul middel-twintigerjare, wat onlangs begin werk het en in die bevoorregte posisie is om geen studieskuld te hê nie, aangesien hul ouers wel in staat was om vir hul studies te betaal. Die drie saam het besluit om elke maand ’n bedrag opsy te sit, wat hul nou aan die Atterbury Trust geskenk het om ’n BRek of Ingenieurswesestudent vir ’n jaar te borg. Dan is daar ook een van die argitekte met wie Atterbury soms werk, wat aangebied het om die studies van ’n argitektuurstudent te borg en verder behulpsaam te wees met raad, fotokopieë en watter ander spesifieke hulp die student dan ook sou nodig hê.

Ons deel graag Ben, die anonieme driestuks en die argitek se stories omdat die behoefte baie groot is en die beursfonds letterlik oorval word met soveel belowende jongmense wat vra om hulp. Daar is so baie matrikulante wat so graag verder wil studeer om hul lot in die lewe te kan verbeter, hul families te kan help, en ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te kan maak. So baie van ons is so bevoorreg, en of ’n mens ’n klein bedrag skenk of ’n student vir ’n hele kursus borg, ons kan almal ’n verskil maak aan iemand anders se toekoms. Ons nooi al ons vriende uit om deel te neem aan hierdie noodsaaklike, uiters bevredigende inisiatief.

Vrae wat dikwels gevra word:
Hoe gereeld evalueer Atterbury die studente se vordering?
Studente word kontraktueel verplig om twee maal per jaar hul uitslae voor te lê. Leonie van Grolife, wat as mentor en lewensafrigter optree, maak ook minstens een keer per jaar met elke student kontak, en is beskikbaar as hulle meer sessies nodig het. Die studente word jaarliks almal in Februarie na Atterbury se kantore genooi.

Wat gebeur as ’n student nie na verwagting presteer of aanpas nie?
Ons maak ’n afspraak en evalueer wat die problem veroorsaak, verwys hulle na die bestaande universiteitsdienskanale en sal ook self sander professionele hulp inwin, afhangende van wat ons identifiseer.

Kan ek ’n student kies, en hoe word dit bepaal?
Skenkers kan bepaal watter veld van studie hulle wil ondersteun, en ons maak graag voorstelle wat skenkers en individuele studente bymekaarbring.

Sê nou ek kan nie bekostig om ’n hele graadkursus te borg nie?
’n Borgskap kan vir enige periode geld, en ons moedig aan dat daar soos in die geval van Ben ’n persoonlike element van ondersteuning is, sodat die student en hul familie ook weet dat hulle ’n weldoener in hulle hoek het!

Ek wil help, hoe maak ek kontak?
Bel gerus vir Zahn by 082 325 9225 of stuur ’n epos na [email protected]