Marizahn Wentzel, een van Atterbury se uitblinker-beursstudente, het pas graad gevang in Menslike bewegingskunde en skep nou asem voor sy haar Honneurs aanpak.  Ons het haar oor ’n koppie koffie beter leer ken…

Hoe het jy destyds van die Atterbury beurs te hore gekom en hoekom het jy op Menslike bewegingskunde besluit?
Ek het van die beurs gehoor by ’n tannie wat in dieselfde kerk as ek was. Ons het dikwels gesels, en eendag wou sy weet van my toekomsplanne en toe motiveer my om aansoek te doen. Die Atterbury beurs was regtig ’n seëning. Ek is so dankbaar vir alles wat Atterbury vir my beteken en vir God wat Atterbury oor my pad gestuur het… Wat my vakrigting betref, was mense nog altyd my passie en ek is mal oor atletiek, veral langafstande, so dit was ’n logiese besluit om dit te kombineer.

Vertel ons ’n bietjie van jou agtergrond.

Ek bly saam met my ma (die beste ma in die wêreld) en my musikant-broer, die malste mens wat ek ken! En twee hondjies: Roxy en Pinch – my broer het sy naam gegee, dis ’n kitaar-term. Ek en my ma en broer het ’n baie goeie verhouding; ons braai elke Sondag lekker rustig saam en bestee graag tyd saam. Ek was in twee wonderlike skole, eers Laerskool Voorpos en toe Hoërskool Oos-moot. In my vrye tyd hardloop ek graag – langafstande en landloop – ek is ook mal oor dans en ek is so lief vir koffie dat jy dit sommer ’n stokperdjie kan noem, want waar daar koffie is, is ek graag by!

Wat reken jy sal jy die meeste mis van studentwees as jy volgende jaar klaarmaak?
Die vryheid meestal en om mense elke dag op kampus raak te loop.

Wat was vir jou die grootste aanpassing met die skuif van hoërskool na universiteit?
Beslis die verandering van Afrikaans na Engels en ook die volume van die werk. Ek sal enige leerder wat volgende jaar hul eerste jaar op universiteit begin, motiveer om van dag een af opsommings te doen!

Wat wou jy eendag word toe jy klein was, en hoe lyk daardie prentjie nou?
Ek wou ’n kleuterskoolonderwyser word het en daai prentjie het so effens verander. Ek gaan volgende jaar my Honneurs in Corporate Wellness doen en gaan daarna hopelik by ’n onderneming werk waar ek sal omsien na die welstand van die werkers.

Noem drie bekendes by wie jy graag vir ’n week ’n huisgas sou wou wees.
Deon Meiring, die sanger van Glaskas – ek het so ’n bietjie van ’n celebrity crush op hom! Ek het hom al een keer ontmoet en hy is ’n baie plat-op-die-aarde mens. Ek was al reg vir trou toe vind ek uit hy het ’n meisie, haha!
Taylor Swift – Sy is my gunsteling sangeres, sy sing ongelooflik mooi.
Moeder Teresa – Ek weet nie of sy regtig ’n huis gehad het nie, maar ek sou so graag by haar wou leer hoe om so ’n diensbare hart soos sy te hê.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Teleportation! Dit sal so lekker wees om vinnig van een plek na die volgende te kan skiet. Ek sal dan enige tyd vir my ma, ouma en oupa kan gaan kuier; die verkeer by gym misloop en baie koffie-afsprake kan inwerk!

Watter historiese gebeurtenis het ’n blywende indruk op jou gemaak?
Die terreuraanval van 9/11. Ek was Graad 3 toe dit gebeur het en ek kan nog onthou hoe hul dit op die TV aangekondig het.

Atterbury help graag om drome waar te maak. As jy iemand se droom sou kon waar maak, wie sou dit wees en wat sou jy doen? 
Sjoe, daar is so baie mense wie se drome ek sal wil waar maak. Ek sal geld wil insamel om Echo Jeugontwikkeling se seuns- en meisies-huise te verbeter en te vergroot. Ek het nog altyd ’n droom gehad om my eie padwedloop te reël en dan die geld wat ek insamel vir ’n goeie saak te gee.