Cornwall Hill College het ‘n installasie in die vorm van ‘n beuel geskep vir hulle Cool Capital kunsprojek. Ons het gesels met die hoof van Visuele Kuns en Ontwerp by Cornwall, Lizanne Visser, om meer te hoor oor die beeldhouwerk

20140920_115716

Die werk se naam is “Kyk vorentoe, kyk terug”. Waar het julle die beuel geplaas?
Dis bo by die hoogste deel van die College se gronde geplaas langs die tennishut. Dit kyk uit oor al die sportgronde.

Hoeveel leerlinge het deelgeneem en kry hulle akademiese krediet vir hul bydrae?
Drie Graad 10 en vier Graad 11 Visuele Kunsleerlinge was betrokke, saam met die beeldhouer Francois Visser. Hulle het begin deur konsepte vir die werk te skep onder leiding van hul onderwyseres Lizanet Palmer, en daarna het hulle die tematiese tekeninge gedoen. Vir dié twee dele van die projek het hul krediet gekry. En die College het hulle ook merietesertifikate gegee vir hul deelname aan Cool Capital, en dit kan bydra daartoe dat hulle toekennings in Visuele Kuns wen.

Hoe lank het dit geneem om die projek te voltooi?
Ons het onmiddellik begin werk aan die konsep toe ons die details van die projek gekry het, maar die beuel, die staalletters en die trapklip is gedurende September gemaak. Ons het die werk op Erfenisdag geinstalleer terwyl Mevrou Palmer se man vir ons gebraai het – dit was ‘n wonderlike manier om die dag deur te bring!

Jy noem dat Francois Visser julle aangewese kunstenaar was. Wat was sy bydrae tot die projek?
Ons was baie bevoorreg om saam met hom te werk. Hy is ‘n ouer by die skool, so die projek was baie na aan sy hart. Hy was ook die projekbestuurder vir die PPC Openbare Banke-projek vir Cool Capital 2014 en verstaan die visie van die biennale. Hy het gekom en saam met die leerlinge die konsepte uitgewerk, en hy’t gehelp het om al hulle idees saam te voeg in ‘n kollektiewe geheel. Daarna het hy gereël dat die houtwerkers by Dionysus Sculpture Works onder sy toesig kon werk; hy het ‘n sweiskursus vir die leerlinge gereël waartydens hulle almal aan die trapklip gewerk het, en hy het ook die werk saam met ons kom installeer. Om saam met ‘n professionele kunstenaar te werk en die ateljee te besoek waar hulle besig was om aan Angus Taylor se uitstallingstukke te werk, het beslis die leerlinge se oë oopgemaak oor die bedryf. Hulle was bevoorreg om Dionysus Sculpture Works se smeltery te kon besoek op Cool Capital se ope dag, waar hulle kon sien hoe brons gegiet word en met meer as een kunstenaar kon gesels. Francois het soveel ervaring met openbare beelhouwerk, so hy kon hierdie jongmense regtig lei met hulle konsep en ook met praktiese raad vir die skep van die werk.

Wat dink julle as ‘n deelnemende hoërskool-kunsdepartement van die biennale?
Dis ‘n wonderlike geleentheid vir almal om betrokke te raak en opgewonde te raak oor ons stad. Ek dink nie kinders kry altyd die kanse wat hulle benodig om behoorlik blootgestel te word aan die kunsbedryf nie, en dit het ons leerlinge die geleentheid gegee om nie net die bedryf in aksie te sien nie, maar ook om op ‘n manier daarvan deel te wees. Ek sou hulle natuurlik vreeslik graag na alles wou neem, maar met die vol skedule van ‘n skool is dit nie moontlik nie. Gelukkig het ons weer oor twee jaar die kans.

Wat dink julle van openbare kuns?
Dis geweldig belangrik. Ek dink mense word nie vandag aan soveel kuns blootgestel soos in die verlede nie. ‘n Uitstappie na ‘n gallery is nie juis iets wat ‘n gesin oor ‘n naweek sal beplan nie. Openbare kuns neem basies die kuns na die mense toe, en maak mense bewus van kuns. Kinders leer baie vroeër in hul lewens om met kuns om te gaan en hulle besef die verskille tussen uiteenlopende tipes openbare kuns. By Irene Mall speel die kinders byvoorbeeld vrylik op “The Udder Side”, terwyl die twee mans van Angus Taylor se “Co-Presence” meer van ‘n estetiese rol speel.  By Lynnwood Bridge speel Angus Taylor se donkies ‘n tweeledige rol, omdat die kinders tog in die water rondom dit speel, maar dit het ook die estetiese kwaliteit waarna ek verwys. Vir my is dit baie opwindend, want skielik moet mense self besluit sonder om deur gallery-protokol gelei te word.

Kom ons droom bietjie… gestel Atterbury gee julle kunsdepartement ‘n kommissie om ‘n openbare kunswerk enige plek in Pretoria op te rig. Wat sal dit wees en waar sal julle dit plaas?
Ek sal baie graag ‘n beeldhouwerk op die koppie in die Cornwall Hill Estate wou oprig. Cornwall Hill College se gemeenskap kom meestal van die Estate en die koppie is ‘n vergaderplek vir baie van die leerlinge en gesinne. Tydens die 1898 Suid-Afrikaanse Oorlog het die Hertog van Cornwallis, Prins van Wallis Regiment, ‘n fort op die hoogste heuwel suid van Pretoria gebou, op ‘n plaas wat aan die Van der Bylfamilie behoort het. Oor die jare het die heuwel bekend geraak as Cornwall Hill. In die mid-1990s is die heuwel en die omliggende gebied in ‘n luukse behuisingslandgoed genaamd Cornwall Hill Estate omskep, en Mnr Van der Byl skenk toe ‘n gedeelte van die grond vir die oprig van ‘n nuwe privaatskool, Cornwall Hill College. Die stigters van die skool het besluit om simbole wat aan die Hertog en sy regiment herinner, te gebruik om die band met die verlede te behou. Die beuel op die wapen verteenwoordig die infanterie se beuel; die College se kroon verteenwoordig dié van die Hertog, en die College se tartan is sy jag-tartan. Die leuse Singuli Omnes is Latyns vir for “One and all” en dit was die Hertog en sy regiment se leuse. Die beuel is nou reeds daar in ons Cool Capital 2014 installasie, maar ek sou graag wou hulde bring aan die Van der Byl familie wat die grond vir die College gegee het, deur ‘n vorm van ‘n monument op die koppie op te rig. Presies wat dit sal wees sal ons as ‘n kunsdepartment saam moet besluit!