Vrystaatse sakevrou, Elize Lourens, het onlangs Akademia se Sakeplanprys vir die beste bestaande besigheid ingepalm met haar innovatiewe padstal langs die N3. Sy vertel ons van haar wenresep.

Baie geluk met jou prys! Vertel ons meer oor jou besigheid.
Dankie! Die Padstal Villiers is ’n unieke padstal met unieke produkte. Ons is op die N3 geleë by Engen Villiers – in die Riemland area in die Oos Vrystaat, omring deur plase met beeste en skape. Ons bedryf die padstal al drie jaar. Dit was ’n sukkelende besigheid toe ons dit oorgeneem het, maar dit het ongelooflike gegroei – 49% in die eerste jaar, 45% in die tweede jaar, en nou staan ons op 31% groei. Ons beste verkoper is biltong, wat ons self vervaardig. Ons poog om ’n plaasgevoel te skep en ’n unieke inkopie-ervaring te skep.

Waar het die idee vir die besigheid ontstaan?
Ek was baie voortvarend om vir die eienaar van Engen te sê dat hy die padstal verkeerd bedryf en dat ek hom sal wys hoe dit gedoen moet word. Soos hulle sê, die res is geskiedenis.

Wie verskaf al jou produkte?
Ons het 12 plaaslike verskaffers wat produkte soos vars gebakte koekies, mosbolletjie- beskuit, handgemaakte voorskote, syskermdruk linne en so meer maak. Ek maak self ’n reeks warm souse, “Leka Hot” en ook tuisgemaakte mosterd. Ons konfyte koop ons aan by Ina Lessing, wat in 2014 Landbouweekblad se Entrepreneur van die Jaar was. Ons lekkers kom van Dicks Sweets wat ’n vierde-generasie lekkergoedfabriek is waar alles nog met die hand gemaak word. My man maak ons gemmerbier van ’n resep wat ’n ou tannie vir hom gegee het en laat belowe het dat die resep nie uitgegee mag word nie!

Hoe betrokke is jy? Werk jy self in die padstal?
Ek weet presies wat in die besigheid aangaan – ek eet en slaap padstal! As daar ’n probleem is sal ek self by die kasregister werk vir die dag. My hooffokus is egter kontantvloeistate, begrotings, navorsing van nuwe produkte, aankoop van produkte en dan die vervaardiging van my eie lyn produkte.

Wat geniet jy die meeste van jou besigheid?
Om nuwe produkte op te spoor en om met kliënte te gesels om ’n gevoel te kry vir ons nuwe produkte. Ek het byvoorbeeld skaap-speelgoed spesiaal vir die winkel laat maak in China en dit kry groot aftrek!

En wat is die moeilikste aspek daarvan?
Ek vertrou mense so maklik en helaas het ons al baie skade gelei met personeel wat by ons steel. Dit is altyd so ’n groot teleurstelling, want ons is maar soos familie wat saamwerk.

Hoe het jy by die Sakeplankompetisie uitgekom?
Ek het in Maart ’n twee-dae entrepreneurskursus van Ettienne Raymond bygewoon, gevolg deur ’n ses-maande mentorskap. Hy en my mentor my aangepor om in te skryf. Ek wou aanvanklik nie, want ek het nie gedink ek staan nie ’n kans nie. Grooooot was my verbasing. Die Here se genade is baie groot.

Wat het jy gewen, en hoe gaan jy die prysgeld aanwend?
Ek het verskeie pryse gewen, onder andere R100 000 kontant. Ek het my personeel by padstal elk R1 000 gegee en die res het ons teruggeploeg in die padstal met nuwe produkte se aankope. Dis die beste belegging wat die vinnigste ’n opbrengs sal lewer.

Wat is jou droom vir jou besigheid? Waar hoop jy sal Villiers Padstal wees oor 10 jaar?
Oor 10 jaar is ek 66. Teen daardie tyd hoop ek het ons Padstal Villiers teen ’n groot wins verkoop, asook ander Padstal-takke wat ons beplan. Ons onmiddellike volgende stap is om in Johannesburg ook ’n winkel te open. Daarna sal ons sien watter deure oopgaan.

“Like” Die Padstal op Facebook, https://www.facebook.com/pages/Die-Padstal/346180022160008