Beurs-keurtyd is een van die inspirerendste, maar ook van die mees emosionele tye by Atterbury Trust elke jaar, wanneer net meer as ‘n honderd hoopvolle studente, elk met sy of haar unieke roerende storie, in die raadsaal kom sit om die beurspaneel te ontmoet.

Vir die twee maande tussen wanneer die aansoeke op 30 Junie sluit, tot wanneer die lys vir 2017 einde Augustus gefinaliseer word, is daar bykans elke dag vier of vyf onderhoude met beurskandidate geskeduleer, vertel Zahn Hulme, Atterbury Trust se hoof uitvoerende trustee. En teen omtrent ‘n uur per onderhoud, is dit goed honderd ure van luister na die drome en aspirasies van jongmense wat nie sonder hulp hul studiedrome sal kan waarmaak nie. “Dis nogal ‘n emosionele “rollercoaster” , en laat mens besef hoe gelukkig jy is, en ook hoe groot die nood daarbuite is,” sê Zahn, wat self die meeste van die onderhoude lei, saam met kollegas Leonie du Preez, Karin Dercksen en Louise Viljoen.

Behalwe die hoofpaneel neem elkeen van die maatskappy se bykans 80 personeellede aan minstens een van die onderhoude deel, ‘n tradisie wat volgens Zahn ‘n belangrike aspek van die Atterburykultuur geword het. “Dit is iets waarop Louis (van der Watt, die medestigter) baie gesteld is – baie van ons het ook uit moeilike omstandighede gekom en ons is nou baie geseënd dat die maatskappy so suksesvol is… dis belangrik om altyd ons voete op die grond te hou en te onthou waar ons vandaan kom. Atterbury se belegging in en deelname aan ons gemeenskap is kern tot die maatskappy, en niemand wat hier werk moet dit ooit uit die oog verloor nie.”

Volgens Zahn gaan hul selfs verder en probeer sover moontlik dat die personeellede insit op ‘n onderhoud met ‘n beurskandidaat wie se studierigting ooreenstem met die personeellid se spesialisveld, om dit meer relevant te maak.

“Dit raak mense regtig, hulle het dan belang by so ‘n student en volg sy of haar vordering, en raak selfs soms mentors. Dit versterk die hele ingesteldheid van Atterbury as ‘n groeiende familie,” sê Zahn. “Dit raak baie keer meer as ‘n onderhoud, ons vind ook dat ons loopbaanadvies gee en kontakte en netwerke deel.” Sover die beurspaneel kan, help hulle ook reeds sommer direk na die onderhoude om kandidate te verwys na Atterburyvennote of -medewerkers wat byvoorbeeld kan help met vakansiewerk.

Vanjaar is van die meeste aansoeke nog ontvang, ongeveer 300 van hulle, en uit hierdies is sowat 100 geïndentifiseer vir onderhoude. Die honderdstuks is gekies deur te kyk na hul ouers se bewys van inkomste, om die werklike behoefte te identifiseer; en dan ook na die kandidaat se akademiese prestasies en hul buitemuurse, naskoolse en gemeenskapsaktiwiteite. “Iemand wat reeds self ‘n plan gemaak het om ‘n ekstra geldjie te verdien, wat dinge sover moontlik in eie hande neem eerder as om te sit en wag dat die wêreld na hulle omsien… dis ‘n ideale kandidaat,” meen Zahn. “En ook iemand wat self ‘n hand uitsteek om ander te help in sy of haar vrye tyd…ons verwelkom sulke soort jongmense in die Atterburyfamilie.”

Wat wel vanjaar vir die paneel uitstaan is dat die ekonomie knyp en dat dit moeilik gaan daar buite. Ouers wat vroeër goeie poste beklee het, kan nie meer voorsien vir kinders se opvoeding nie, wat beteken kinders moet vroeër fokus en verantwoordelikheid aan die dag lê. So is die kwaliteit van die aansoekers dan ook baie hoog; baie van hulle doen reeds iets om geld bymekaar te maak, meer so as wat in vorige jare se onderhoude geblyk het.
Atterbury hoop om vanjaar sowat 60 nuwe beurse toe te staan. Daar is vanjaar ongeveer 190 beursstudente in totaal, waarvan ongeveer 50 aan die einde van 2016 gaan afstudeer. Skenkings kan steeds aan die beursfonds gemaak word, en word verwelkom, ten einde meer van die uitblinkerkandidate te kan aanvaar.

Atterbury Trust kan ‘n Artikel 18 A-sertifikaat uitreik vir skenkings, vir belastingdoeleindes. Om ‘n donasie te maak, klik hier