Ken jy ’n slimkop wat graag verder wil studeer, maar wie se familie nie die finansiële vermoë het om studiefooie te bekosting nie? Atterbury Trust ken jaarliks ongeveer 60 beurse toe aan behoeftige uitblinkers wat kan wys dat hulle eendag ’n bydrae in die samelewing wil maak. Daar is nog ’n maand oor voordat die aansoeke vir 2017 sluit, so moenie versuim nie – ons kan nie wag om ’n groep nuwelinge by ons beursfamilie te verwelkom nie! Ons het gesels met Jacie van Rensburg, een van die mentors wat ons beursstudente op Potchefstroom ondersteun.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond en hoe jy by Atterbury betrokke geraak het.
Ek het so twee jaar gelede afgetree as dominee… my gemeente was hier in Potch en ek was ook vir 11 jaar hier die studenteleraar, so ek ken studente baie goed. Sedert my aftrede is ek voltyds ’n “strength coach” wat werk met individue en klein maatskappye, en mense help om hul eie sterk punte te ontdek en uit te bou. Ek is baie lief vir mense, so toe Leonie du Preez van Grolife my nader om vanjaar te begin help met die mentorprogram het ek dadelik ingestem omdat dit so ’n interessante toevoeging is tot wat ek doen.

Hoe belangrik dink jy is Atterbury se beursprogram? En die mentorskap-aspek daarvan?
Ek  haal my hoed af vir Atterbury dat hulle in die mens belê en nie net in die akademie nie. Die kwaliteit van die jongmense wat ek sover ontmoet het, het my verstom en is weer eens ’n pluimpie vir Atterbury vir die keuringsproses. My belewenis is dat baie van die studente se infrastruktuur maar beperk en smal is, en die mentorprogram voeg daartoe by, maak dit wyer, wat elkeen van hulle verryk.

Hoeveel studente is onder jou mentorskap en hoe gereeld sien jy hulle?
Hier op Potch sien ek ongeveer 25 studente, en ek het nog so 15 onder my mentorskap by Kovsies.  Ek sien elke student twee keer per jaar, en ons begin met die eerstejaars, en volg dan met die ouens wat al verder is. Een keer ’n semester is genoeg, as dit meer gereeld was sou die gevaar bestaan dat dit voorkom of ons hulle dophou en daardie spanning sal die ondersteuning wat ons wil bied, teëwerk.

Wat behels jou mentorskap?
Dis basies ’n uurlange ontmoeting, gewoonlik by ’n koffiewinkel naby aan die kampus. Die eerste gesprek is maar ’n verkenning van waar hul vandaan kom en hoe hul inpas, ons probeer enige krisisse identifiseer en dan vra ons redelike intense vrae oor akademie, oor hul persoonlike lewe, hulle finansies en hulle geestelike lewe… Ons tweede ontmoeting bou op die eerste een. Ek moet sê dis regtig worderlik om te beleef hoe openhartig hulle is en dat hulle vrylik gesels en deel.

Wat is die grootste behoefte onder die studente – waarmee moet jy die gereeldste help?
Ek vind dat tydsbeplanning ’n baie groot probleem is, en dat die meeste studente daarmee worstel. Hulle vind dit moeilik om alles in te pas omdat hulle so baie doen, maar ek vind darem ook dat as ons deur alles gepraat het vind hulle daar is meer tyd as wat hulle aanvanklik gedink het! Ek doen so ’n programmetjie met hulle om deur ’n tipiese dag te gaan, om te sien waaraan hulle hul tyd bestee in 24 tipiese ure, en dit wys gou waar hulle tyd mors en waar hulle nog ’n ekstra drie of vier uur kan vrymaak. Hulle voel hulle moet harder swot, terwyl hulle dikwels net slimmer moet swot. Ek stel hul bekend aan die “SMART” model – Skeduleer, Maak tyd, Allokeer, Reguleer en vat jou Tyd – so bepaal hoe lank iets jou moet vat, oudit jouself deurgaans en as dit nie klaar is teen die bepaalde tyd nie, los dit. Ek sien ook dat ’n gebrek aan geld baie van hulle se sosiale lewe beperk, omdat daar bloot nie geld is vir uitgaan, of gym, of sport nie. Dis hartseer.

Wat is die lekkerste terugvoering wat jy al van ’n student gekry het?
Dis altyd lekker om te hoor dit was vir hulle waardevol, as hulle vir Leonie sê hulle wou nie ophou praat met die “oom” nie, dat hulle nie kan glo dat die tyd so gou omgegaan het nie.

Watter drie wenke sal jy vir ’n nuwe student gee om die beste te maak van hul studentejare?
Eerstens, balans is baie belangrik – tussen akademie, sosiale lewe, en sport, as dit kan. Dis hoekom koshuislewe so ideaal is, as hulle dit kan bekostig, want daar word soveel opsies aangebied waaraan ’n student kan deelneem.
Tweedens, maak tyd vir ander mense. Studente kan maklik alleen raak. En derdens, moenie jou geestelike lewe afskeep nie; maak tyd daarvoor. Ek sien dit duidelik dat dit beter gaan met die studente wie se geestelike lewe ryk is.

Atterbury Trust se beursaansoeke sluit 30 Junie. Om aansoek te doen, en vir meer inligting oor wat nodig is om te kwalifiseer, sien https://atterburytrust.org/inligting/