Die alombekende gratis webdiens, Beter Afrikaans, is onlangs aansienlik uitgebrei en verbeter, skryf Maroela Media op hulle webwerf.

Nie net spog dié diens nou met splinternuwe apps vir Android en iOS nie, maar ook met meer as 2 000 nuwe vrae in die vraagbank en ʼn groepfunksie wat handig vir onderwysers en dosente te pas sal kom.

Beter Afrikaans (http://www.beterafrikaans.co.za/website/index.php) is ʼn gratis webdiens waar Afrikaanssprekendes, en selfs mense wat besig is om die taal aan te leer, meer kan leer oor die spel- en skryfreëls van Afrikaans. Meer as 9 000 gebruikers maak reeds van Beter Afrikaans gebruik.

Die webdiens werk op ʼn eenvoudige, doeltreffende manier. As jy geregistreer het op die webwerf, kan jy elke weeksdag ʼn speltoets in minder as twee minute voltooi – hetsy op ʼn rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae; sodra die vrae beantwoord is, ontvang die gebruiker onmiddellik ʼn kort bespreking oor die korrekte antwoorde.

Indien die gebruiker meer wil leer, is daar meer omvattende dog eenvoudige verduidelikings op die webwerf beskikbaar. Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome, intensiewe vorme, en nog baie meer word gedek.

“Met die finansiële ondersteuning van die Dagbreek Trust is Beter Afrikaans onlangs aansienlik uitgebrei om dit nog meer aantreklik vir veral jong gebruikers te maak,” sê Gerhard van Huyssteen, ontwikkelaar van Beter Afrikaans.

“Ons het geluister na die versoeke van ons gebruikers toe ons die nuwe weergawe van die app ontwerp het. Gebruikers hoef nou nie meer ʼn daaglikse e-pos te ontvang nie, maar kry ʼn direkte kennisgewing (“push notification”) op hulle slimfone of tablette. Jy kan ook nou maklik binne-in die app jou vlak van deelname (maklik, gemiddeld, moeilik) verander,” vertel Van Huyssteen.

In samewerking met die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek (Pearson) word die vraagbank van Beter Afrikaans nou op ʼn gereelde grondslag uitgebrei. Jana Luther, hoofredakteur van die bekende HAT sê: “Deur Beter Afrikaans sáám met die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek te gebruik, kan onderwysers nuwe wêrelde vir leerders oopmaak. Op ʼn speelse, interaktiewe wyse kan leerders nuwe woorde leer, asook meer te wete kom oor betekenisse en spesifieke spelreëls.”

Daar is boonop ‘n nuwe groepsfunksie wat in taalonderrigsituasies gebruik kan word. “Dosente of onderwysers kan ʼn groep stig vir elke klasgroep. Leerders ding dan met mekaar mee om te sien wie die beste spel in die klas. Aan die einde van die kwartaal of semester kan die punte dan afgelaai word om maklik oorgedra te word op die skool se puntestelsel,” verduidelik Milton Webber, een van die vraagopstellers van Beter Afrikaans. “Boonop kan gebruikers hulle uitslae op Twitter met ander gebruikers deel. Dit dien ook sommer as lekker aanknopingspunt vir klasbesprekings.”

ʼn Soortgelyke diens vir wiskunde (Beter Wiskunde en Better Maths) is ook reeds in ontwikkeling. Beter Afrikaans is ontwikkel in samewerking met ʼn soortgelyke webdiens vir Nederlands, Beter Spellen (www.beterspellen.nl). Ander tale in die Beter
X-suite sluit in Duits, Frans en Engels (met Nederlands as onderrigtaal). Besoek gerus Beter Afrikaans se webwerf (http://www.beterafrikaans.co.za/website/index.php), Facebookblad (https://www.facebook.com/Beterafrikaans/) of op Twitter (https://twitter.com/beterafrikaans).

Die artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Besoek die webwerf vir gereelde nuus, debatte, resensies en meer in Afrikaans.