Dit was Madiba se verjaardag en vanjaar was dit Booysens Beertjies kleuterskool in Booysens se beurt om deur Atterbury Trust bederf toe word. Op Donderdag 21 Julie het die Trust saam met GrootFM en Isa Carstens (meer as!) 67 minute lank makietie gehou by die skool.

“Hierdie skooltjie het ‘n oop hart en ‘n oop hand vir die behoeftige gemeenskap wat dit bedien; altyd mededeelsaam, en altyd besig om die kinders te help,” sê Atterbury se Leonie du Preez. “Dit is vir ons ‘n voorreg om in die gees van Nelson Mandela hulle eie vrygewensgesindheid te beloon met ’n oomblik van waardering vir die werk wat hulle elke dag met soveel liefde doen.”

Die skooltjie fokus op kleuters tussen drie en vyf jaar oud wat uit behoeftige huise kom waar die ouers nie skoolgeld kan bekostig nie. Baie van hulle woon in buitekamers of Wendyhuise, en die maaltye wat daagliks by die skool voorsien word is in baie gevalle die enigste kos wat die kleintjies in ‘n dag kry.
Booysens Beertjies se 10 personeellede onder die leiding van skoolhoof Elbet van Zyl, kyk daagliks na 105 kinders, en het verskeie projekte wat die gemeenskap help op die been gebring, van ‘n kosprojek tot opleiding van vrywilligers.  Vir Mandeladag, vertel Elbet, is die personeel, wat elke dag met soveel ywer kom werk, heerlik bederf met manikure deur die Isa Carstens studente, en elkeen het boonop ‘n geskenk gekry. Terwyl die onnies se hande vertroetel is, het die kleuters roomys gekry en het saam met die Atterburyspannetjie gespeel in die parkie.

Hoe leer julle die kinders oor die gees van gee waarop Mandeladag gebaseer is?
Ons kinders word geleer van mededeelsaamheid, en om respek vir ander te hê.Ons probeer hierdie konsep van “gee” oor te bring en hoop dat dit trefkrag het, veral met ander maatjies.

Wat is die grootste uitdagings daagliks by die skool?
Die kinders is baie verwaarloos en higiëne is gereeld ‘n kwessie. Baie van hulle kom vuil en honger skool toe…

Die skool is bekend daarvoor dat julle so baie vir die gemeenskap doen. Waarop is jy die trotste in daardie verband? Hoe weet jy het julle ‘n onuitwisbare verandering in een kind, of een familie se lewe gemaak?
Ons skool is soos ‘n huurmotor… daar is altyd plek vir nog ‘n behoeftige kind! Elke kind wat die skool verlaat word met die wapenrusting en Jabes se gebed bevoeg gemaak! Hier is kinders wat uitblink met die terapie wat hulle kry en die verskil van hul eerste tekening in die begin van die jaar teenoor die dieselfde tekening aan die einde van die jaar… daar sien ons die impak van wat die onderwysers met die kinders regkry. Ons bied ook ouerleidingskursusse aan vir die ouers om hulle beter te bemagtig in samewerking met SA Vrouevereniging.

En wat is die grootste behoefte by die skool op hierdie oomblik? As jy nou R100 000 kon kry, waarvoor sou jy dit aanwend?
Opleiding van die personeel is beslis die grootste behoefte. Ek sou die geld aanwend vir opleiding, om ekstra personeel aan te stel en nog klaskamers aan te bou.
Booysens Beertjies is ‘n geregistreerde liefdadigheidsorganisasie wat geen staatshulp of befondsing van relevante organisasies ontvang nie, en heeltemal op donasies aangewese is. Hul kan ‘n Artikel 18(A) sertifikaat uitreik vir skenkings, vir belastingaftrekkingdoeleindes. Behalwe kontantskenkings kan belangstellendes ook maandeliks ‘n kleuter borg, of selfs ‘n skenking maak volgens die skool se lys van behoeftes. Vir meer inligting hieroor, en ander maniere waarop jy kan help, besoek die skool se webtuiste: http://www.booysensbeertjies.co.za… onthou, elke dag is Mandeladag!