Hoekom Afrikaans, vra Evelyn D Ferreira, die ATKV se senior bestuurder: taal op Maroela Media se webwerf. Om so ‘n vraag te beantwoord, gaan hy voort, is dit nodig om te verduidelik hoekom hy is wie hy is…

En om dit te verstaan, moet ek my storie vertel – hoe dit gekom het dat ek vandag is wie ek is… en dit weet!

My pa was ‘n Afrikaanse Ferreira uit die Tsitsikamma, my ma ‘n Afrikaanse Schreuder uit die Swartland en ek is gedoop in ‘n Afrikaanse kerk en het my pa se volle name. My ma het kleintyd vir my en my drie susters Afrikaanse stories gelees en ons het as musikale gesin dikwels saam uit die FAK, die Hallelujabundel en die kerk se sangbundel, die Koraalboek, gesing. My ma het ons soggens voor skool wakker gemaak met ‘n koppie koffie en die neurie van ‘n Hallelujalied; my pa het gereeld vir ons gesin uit die Afrikaanse Bybel gelees en Afrikaans gebid. En ons het gereeld na die radio geluister – hoofsaaklike Afrikaans, maar ook Engels.

As skolier het ek my opleiding en baie lewenslesse in Afrikaans aan ‘n Afrikaansmediumskool – die enigste in die Setlaarsdorp Grahamstad, met sy groot aantal Engelse skole – gekry en daarna na ‘n Afrikaanse universiteit gegaan. As onderwyser het ek vir kinders onder andere die vak Afrikaans gegee en moes in die dubbelmediumskole waar ek was, dikwels ook my kennis van Engels inspan.

My vrou kom uit ‘n Afrikaanse famile en voel soos ek oor Afrikaans. Jy kan sien ek het haar met ‘n Afrikaanse hand uitgesoek! Ons twee seuns is as kleuters saans in die bed gesit met ‘n Afrikaanse storie of Bybelverhaal, het in Afrikaans skoolgegaan en was op ‘n Afrikaanse universiteit soos hulle pa en ma. As jong mans in jule twintigs werk albei vandag by finansiële firmas waar hulle hulself effektief in Engels handhaaf, maar hulle bly die Afrikaanse seuns wat ek en my vrou grootgemaak het. Dit was dus nie nodig om hulle na ‘n Engelse skool of universiteit te stuur om die sogenaamde “uitdagende” Engelse wêreld van werk te kan hanteer nie.

Vandag werk ek by ‘n Afrikaanse organisasie waar ek my lewe toewy aan die bevordering van Afrikaans in meertalige Suid-Afrika. En dis asof ek hierdie hele ding van “Hoekom Afrikaans?” na al die jare van Afrikaanswees nog beter verstaan. Ek verstaan dat sommige mense onseker is oor in watter taal hulle hul kinders moet laat opvoed en laat oplei, want… hulle het dit nog nie met taal uitgemaak nie. Want as jy ‘n keuse vir taal/tale maak, is dit eintlik een van die dinge wat jou definieer. Wat sê wie jy is.

My ouers en familie, onderwysers,vriende en kollegas, en dan uiteindelik keuses het van my gemaak wat ek vandag is. En dit beteken vir my ‘n gesonde balans. Ek moes Engels as verpligte tweede vak op skool neem en op universitieit was baie van my handboeke in engels en het ek daaroor geen keuse gehad nie, my eksamens het ek egter in die taal van my keuse, Afrikaans afgelê, bloot omdat ek my beter in my moedertaal kon uitdruk. Ek het egter ook die keuse gemaak om Engles as een van my vakke op universiteit te neem. Benewens Afrikaanse boeke hou ek daarvan om somtyds ‘n Engelse boek, tydskrif of koerant te lees – my keuse. Ek kan my redeklik goed uitdruk in verstaanbare Engels en praat dit soms hoflikheidshalwe of as my werk of seker situasies dit na my mening vereis. Weer eens my keuse. Ek verkies dit selfs partykeer om na Englese rugbykommentaar oor TV te luister bloot omdat ek van die kommentator se styl hou; nie omdat dit Engels is nie. Sommige van my goeie kennisse is Engelssprekend en ek en my vrou is lede van ‘n simfoniekoor waarvan die lede oorwegend Engelssprekend is en wat voor oorwegend Engelse gehore optree en hoofsaaklike internasionaal gekomponeerde en verwerkte koorwerke uitvoer; wat nie noodwendig Afrikaans insluit nie. Ons dreig al lankal om ‘n inheemse Afrikataal soos Tswana or Zoeloe aan te leer bloot ondat dit help met goeie kommunikasie in ‘n meertalige land soos Suid-Afrika. Ons verwonder ons gereeld aan die pragtige plekke met die wonderlikste geskiedenisse en kulture en tale wat daar op aarde is, maar waar Afrikaans nie eens ter sprake is nie. Ten spyte hiervan bly ek ten diepste Afrikaans en het my en my vrou se besluit om ons kinders in Afrikaans op te voed en te laat oplei, geblyk die allerbeste keuse te wees.

Bogenoemde lewensbeskouing maak van my in ‘n sekere sin ‘n Afrikaanse “wêreldburger”. ‘n Gebalanseerde mense wat hom/haar oral kan handhaaf, maar in eerste instansie in alles kies om Afrikaans te wees. Hoekom Afrikaans? Want dis wie ek is en wil wees. Jy het ook daardie keuse.

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks wat Maroela Media op hul webwerf publiseer ter viering van die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal, in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels het oorspronklik in die boek Hoekom Afrikaans verskyn en word met vergunning van die FAK geplaas. http://maroelamedia.co.za/blog/afrikaans/afrikaans-90-balans-in-afrikaans/