Al werk dinge nie altyd die eerste keer uit nie, verrig ‘n kombinasie van vasberadenheid, deursettingsvermoë en harde werk soms wondere. Heynes Kotze van Brackenfell in die Kaap het met ‘n lang ompad by sy eerste akademiese keuse uitgekom, en vanjaar begin hierdie 23-jarige Atterburybeursstudent sy derde jaar van LLB-studies by die Universiteit van die Wes-Kaap. Hy het vir ons die storie agter die storie vertel.

Wie is Heynes as hy by die huis is?
Ek is die jongste van twee seuns, maar het ook twee susters wat al agt jaar saam met ons is nadat my ouers hulle vir pleegsorg ingeneem het. My ouers is baie hardwerkende mense wat enigiets sou doen en hul eie gemak opoffer sodat hulle vir hul kinders kan voorsien, My pa was in die polisie en het in 2006 afgetree weens mediese redes. My ma het haar eie eiendomsbesigheid gehad, maar in 2009 het sy dit toegemaak en begin skoolgee by HTS Bellville. Ek bly steeds by my ouers in Brackenfell en doen maar wat nodig is om uit te help by die huis.

Wat wou jy word toe jy klein was?
Ek wou ‘n polisieman geword het, nes my pa! Maar hy was nooit baie gelukkig daarmee nie, so ek het begin dink ek sal dan maar ‘n prokureur word, wat tog verwante werk is…

Hoe het jy destyds by Atterbury uitgekom?
Ek het in 2011 by Hoër Tegniese Skool, Bellville gematrikuleer, en het deur my onderwyser Mnr Viljoen van Atterbury se beurse gehoor en aansoek gedoen.

Vertel ons die storie van jou oorskakeling van ingenieurswese na regte?
Ek het oorspronklik aansoek gedoen vir regte by Maties, maar moes ook ‘n opsie B gee, en ingenieurswese was my keuse omdat ek by ‘n tegniese hoërskool was. Toe word ek afgekeur vir regte, maar aanvaar vir my opsie B en ek dog toe dit is die Here se manier om my te sê dat regte nie vir my is nie. Ek het my hele eerste jaar deur gesukkel met die kursus en kon dit net nie baasraak nie. Maar my ouers het my altyd geleer dat mens klaarmaak wat jy begin het en dus het ek vasgebyt en my beste gegee. Helaas, aan die einde van my eerste jaar het ek nie genoeg krediete gehad om deur te gaan na my tweede jaar nie, en moes Stellenbosch verlaat. Deur alles het ek steeds ‘n gevoel gehad dat ek regte wil studeer, en het gevoel dis nou my kans… Atterbury Trust het ook die beleid om nie vir vakke te betaal wat herhaal word nie, en ek was dus ook my beurslening kwyt vir die volgende jaar.

Dit was seker te laat om by ‘n ander universiteit te probeer inkom vir regte? Wat toe?
Toe Stellenbosch my uitsluit, het dit gevoel asof my wêreld inmekaarsak. En ja, dit was te laat om iewers anders aansoek te doen – dit het gevoel of ek ‘n baie donker en onseker toekoms instaar. Maar ek en my ouers het ‘n plan van aksie uitgewerk, en so het ek in ingeskryf by Unisa om in die tweede semester van 2013 te begin met ‘n LLB. Die eerste ses maande van 2013 het ek los werkies gedoen en semi-professioneel begin rugby speel by Hamiltons rugbyklub (op skool was ek ‘n kranige speler). Selfs toe ek begin swot by Unisa kon ek aanhou speel, en dit het gehelp betaal vir my studies. Ek was in die middel van my tweede akademiese jaar by Unisa toe ek ‘n oproep ontvang van Pieter de Villiers, wat in daardie stadium UWC se hoofafrigter was, om vir my ‘n sportbeurs aan te bied as ek vir hulle kom speel. Dis hoe ek toe by UWC beland.

Watter gelukkige toeval!
Ja! So toe begin ek van voor af met LLB by UWC in 2015, te danke aan ‘n sportbeurs, en speel vir die universiteitspan. Ek het krediete gekry vir die vakke wat ek reeds gedoen het, so dit was nie ‘n baie woeste akademiese jaar nie en ek kon heelwat tyd aan rugby toewy. Ek het wel geweet my tweede jaar gaan baie meer aandag verg, en ek sou nie so beskikbaar wees vir rugby nie. Dit sou ook beteken die sportbeurs sou wegval… Ek het maar altyd kontak gehou met Zahn, hoewel ek regtig nie verwag het hulle sal my beurs hervat nie, so dit was ‘n groot verrassing toe sy my vra om my resultate voor te lê. En ek was uit my vel uit toe sy laat weet dat my beurs hervat kan word in 2016! Ek het mos bewys ek kon Regte slaag! Alles het net so goed uitgewerk!

Wat was die grootste aanpassing om universiteite te skuif?
Die grootste aanpassing vir my was maar die taal, omdat al my klasse nou in Engels is. Die kampuskultuur by UWC is ook ook anders as op Stellenbosch en dit het aanpassing gekos, maar gelukkig is dit altyd lekker vir my om nuwe omgewings en nuwe mense te leer ken. Ek het belangrike lewenslesse op Stellenbosch geleer, en die belangrikste daarvan is seker dat dit nie saak maak as jy soms faal nie, maar dat dit belangrik is dat jy daaruit leer.

Jy het rede om trots te wees op wat jy sover bereik het, maar waarop is jy die trotsste?
Ek is regtig trots dat ek in die top 5 akademiese presteerders in my jaargroep is en dat ek vanjaar uitgenooi is om by die Golden Key Society aan te sluit; dis ‘n groot voorreg.

Waar wil jy oor tien jaar wees?
Ek hoop om oor tien jaar ‘n gevestigde advokaat te wees. Dit sal ‘n droom wees wat waargeword het.

Dit kos vandag sowat R60 000 om ’n student te befonds vir ‘n jaar op universiteit.

Atterbury het die infrastruktuur om ons beursstudente te ondersteun en te mentor, en doen dit met graagte namens ons netwerk van weldoeners wie se donasies hierdie belegging in die toekoms van Suid-Afrika moontlik maak. Word gerus deel van hierdie ketting van hoop deur ‘n donasie te maak aan die Atterbury Trust beursfonds – kliek hier om te skenk.