Die Atterbury Trust beplan ‘n Klim Kili-projek vir Junie 2015 in samewerking met GrootFM. Die doel van die Kili-Klim is fondsinsameling vir die Atterbury Trust om spesifiek aan te wend vir tersiêre studies van gestremde Afrikaanse studente. Om te klim (en simbolies groot hoogtes te bereik) is binne almal se bereik. Atterbury Trust wil dit moontlik maak vir ‘n fisies gestremde persoon om te studeer en so sy/haar eie Kilimanjaro te verower. Kilimanjaro inspireer persoonlike transformasie – wat vroeër onmoontlik gelyk het, lyk moontlik na hierdie lewensveranderende tog.

Matthys Roets as deel van die geselskap verteenwoordig hierdie doel en dien ook as media-ikoon. (Verwys artikel onder-aan). AB de Villiers gaan ook saamklim. As rolmodel en ikoon vir baie mense, het AB baie bemarkingswaarde. Daar bestaan ook goeie sinergie tussen die oogmerk om gestremde studente te ondersteun en AB se stigting, Battle of the Bush, wat mense wat prosteses benodig, ondersteun.

Atterbury is tans besig met groot projekte in onder andere Namibië, Ghana, Mauritius, Mosambiek. Die verowering van die hoogte bergpiek in Afrika, is simbolies van Atterbury wat Afrika betree. ‘n Tweeledige doel is dus om bewusmaking van Atterbury se Afrika-inisiatiewe te skep, en gevolglik hou die projek potensiële bemarkingsvoordele vir Atterbury in. Atterbury borg vir hierdie rede R150 000 van die projekkoste.

Daar word beoog om nog ‘n verdere korporatiewe ankerborg te betrek wat direkte advertensie-voordele sowel as verteenwoordiging op die klimspan sal hê.

Ons wil graag die hele projek fotografeer om ‘n televisieprogram saam te stel. Mathys Roets en Matthys Maree gaan musiek skep wat by die doelwitte en ervaringe tydens die Kili-klim pas. Daar gaan ook deurentyd terug na Suid-Afrika met ‘n satelliettelefoon gekommunikeer word. Die daaglikse oorskakeling na Kili gaan op GrootFM uitgesaai word.

Die span

Ongeveer 12 persone sal deel vorm van die span. Dit sal verteenwoordigers van Atterbury Trust, Atterbury Africa, GrootFM, Atterbury studente, Matthys Maree, Matthys Roets, AB de Villiers en verteenwoordigers van die ankerborg insluit.

Borge

Borgskapdoelwit vir die reis is R700 000 – R350 000 om die klimkostes te delg en R350 000 om gestremde student(e) te borg om te studeer.

  • Besighede gaan genader word om inisiële klimkoste te dek
  • Mediablootstelling om volle insamelingspotensiaal te verwesenlik, o.a Sarie, KykNet, GrootFM
  • ‘n SMS-lyn word geskep vir lede van die publiek om geld by te dra.

Kostes

  • Ongeveer R21 450 per persoon
  • R9 000 vir retoer vliegkaartjie per persoon. Lughawe vervoer, akkommodasie, kampfooie, tente, matrasse, gidse, kos, sanitasie

Sluit uit:

  • visas, reisversekering & ekstra toerusting

Verdere inisiatiewe:

1. Loods kompetisie by ingenieursfakulteite van UP, US, NWU en UFS om ‘n rolstoel te ontwerp/ombou wat geskik sal wees om op Kili te gebruik.

2. Motiverings van gestremde, behoeftige, Afrikaanse studente om ‘n beurs te ontvang.

Matthys

Mathys Roets se Kilimanjaro-droom

Het jy gehoor?

deur SARIE.com-span

“Dis soos om ‘n wortel voor ‘n haas te swaai. Moenie vir my sê ek kan iets nie doen nie, dan móét ek jou doodeenvoudig verkeerd bewys,” sê Mathys skertserig in sy diep stem.

Al is dit nog net ‘n droom, wil Mathys baie graag eendag op die bergtop van Kilimanjaro sit. Hy vertel dat die span van die Atterbury-teater, waar hy sy nuutste DVD, Iemand soos jy, opgeneem het, hom genader het om saam met hulle dié uitdaging aan te pak. Natuurlik klink dit baie makliker as wat dit werklik gaan wees. Omdat hy in ‘n “doodgewone rolstoel” is, sê Mathys. “Daar is baie voorbereiding en voorsorg vir só ‘n projek. Ons sal ‘n ‘bergklim-rolstoel’ moet ontwikkel wat dit vir my meer funksioneel en effens makliker sal maak om Kilimanjaro aan te pak.”

“Ek wil kan sê ek het dít wat aanvanklik ‘onmoontlik’ gelyk het, reggekry. Dít dryf my.”

Mathys Roets: ‘Ek gaan weer dans!’

Mathys is mál oor ‘n uitdaging en dít is die grootste rede agter sy avonture. Hy het al ‘n hele paar keer saam met vriende gaan ski én Namibië se duine “geklim”. “Dis vir my lekker om tot ‘n mate steeds ‘normale’ dinge te kan doen. Ek het ongelooflike vriende wat regtig baie ondersteunend is en saam met wie ek kan pret hê,” sê Mathys.