Lynnwood Bridge se gewilde Atterbury Teater vier binnekort sy vyfde verjaardag en gaan partytjie hou met ‘n baie spesiale konsert. Teaterbestuurder Paulette Reyneke deel ‘n paar beduidende syfers en herinneringe…

Hoeveel kaartjies is deur die jare reeds verkoop?
Ons het nie al die syfers reg van die begin af nie, maar net vanaf 2014 tot nou is kaartjies ter waarde van R12 976 832 deur Computicket verkoop! Ons is die Computicketafsetpunt met die hoogste kaartjieverkope in Suid-Afrika.

Sjoe! En hoeveel vertonings was al op die verhoog?
Daar was al meer as ‘n duisend…

Wat was tot dusver die grootste vertonings?
As ons praat van langste speelvak, is dit “Stuur Groete aan Mannetjies Roux” wat vir ses weke gespeel het net toe ons oopgemaak het, in 2011. Tweede is Nataniël se “How Moon Got her Name” wat in Desember 2015 en en vir ‘n verdere twee weke in Januarie en Februarie 2016 op die planke was. Die grootste getal kunstenaars nóg in een vertoning was juis in “Stuur groete aan Mannetjies Roux” – omtrent 10 van hulle. En as ons kyk na die vertoning wat die grootste getal van die regte top-kunstenaars gehad het, is dit ons jaarlikse “A Night with The Stars” vertoning wat ons vir FNB doen met ’n orkes en vyf van die beste kunstenaars in ons land.

Wie is die kunstenaar wat sover die heel meeste in Atterbury Teater opgetree het?
Nataniël, met sy gereelde seisoen-kombuise en ook sy vertonings, wat bykans altyd uitverkoop is.

In die vyf jaar van die teater se bestaan, wat onthou jy as die moeilikste vertoning?
So twee, drie jaar gelede het Sandra Prinsloo hier opgetree en op die dag wat die stel van die Kaap af moes aankom, was dit erg vertraag. Die gordyn moes om 20:00 gelig het, die gehoor het al begin aankom en steeds was die stel nog nie daar nie… en daarby saam Sandra se skoene, wat deel was van haar kostuum, en saam met die stel ingepak was. Teen 19:45 het ek solank die vroue in die gehoor bekyk op soek na ’n soortgelyke paar skoene wat haar sou pas… en ek het reeds ’n dame gevra of ons hare kon leen as die stel nie betyds sou opdaag nie! Presies om agtuur het die stel aangekom en arme Pedro Kruger, wat die regisseur was, het teen die spoed van witlig opgestel sodat ons 20:20 kon begin. Gelukkig het die gehoor verstaan en die gordyn het onder luide applous oopgegaan.

Hoe het die teater gegroei in die vyf jaar?
Ons databasis vir ons tweeweeklikse nuusbrief het gegroei van 10 000 intekenaars na omstreeks 25 000 en daar is selde ’n aand oop waar daar nie ’n vertoning is nie. Die hoeveelheid korporatiewe vertonings neem ook jaarliks toe.

Wat is op die kaarte vir die jaar wat voorlê – enigiets spesiaal waarna gehore kan uitsien?
Al Karen Zoid se vertonings is lank voor die tyd reeds uitverkoop – sy kom weer in Augustus hier optree. Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie in Oktober is altyd baie spesiaal; elke jaar is daar sulke verstommende jong talent. Sarie se Voorbladkompetisie se gala-aand met die wenner is altyd glansryk en met die mooiste blomme, mooiste vroue en ’n fees voorberei deur Stephnie’s restaurant. Nog ’n hoogtepunt om na uit te sien is Coenie de Villiers wat vir die eerste keer in omtrent drie jaar vir die eerste keer weer die verhoog gaan betree, op 4 Junie. Sy nuwe CD word ook hier vrygestel op 16 Oktober.

Ter afsluiting, vertel ons van die verjaardagkonsert.
Dit vind plaas op 14 en 15 Mei, en ons is baie trots dat die gewilde Drie van die Bestes – oftewel Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo – vir die eerste keer met ‘n volledige orkes gaan optree, en ‘n splinternuwe repertoire van liedjies gaan sing. Die orkeslede is Matthys Maree, Brendan Ross, David Klassen, Denny Lalouette en Juan-Floors Oosthuizen. Albei aande gaan behoorlik rooitapyt-swierig wees met kelkies vonkelwyn en ‘n ware fees van nuwe musiek.

Vir Atterbury Teater se volledige program, klik hier