’n Groep van Suid-Afrika se mees belowende jong pianiste neem weer vanjaar deel aan die jaarlikse Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat plaasvind vanaf 17 tot 21 Oktober in die Atterbury Teater , Pretoria. Daar is groot  pryse is op die spel.

Die algehele wenner van die eerste prys stap weg met ’n kontantprys van R30 000 . Daar is ook ’n verdere R80 000 se pryse beskikbaar vir pianiste in die verskillende ouderdomskategorieë.

Die drie kategorieë waarin pianiste deelneem is 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Daar is vanjaar ’n totaal van 36 kandidate gekeur.

Die amptelike openingseremonie vind plaas  Maandag 17 Oktober om 18h30. Tydens hierdie geleentheid sal Leo Gevisser, die algehele wenner van 2015 , ’n kort program lewer. Die wenners van die Stefaans Grové Nasionale Komposisie Kompetisie sal  daarna aangekondig word, en die werke van die wenners sal voorgedra word. Laastens word die deelnemers van 2016 aan die gehoor voorgestel.

Die kompetisie strek oor vier  rondtes . Alle kandidate neem deel aan die eerste 2 rondtes wat plaasvind Dinsdag 18 en Woensdag 19 Oktober, waarna die 18 semi- finaliste aangekondig sal word.Die derde rondte vind Donderdag plaas, en die kompetisie eindig met die finale rondte Vrydagaand 21 Oktober om 19h00. Tydens hierdie gala geleentheid sal die 9 finaliste  teen mekaar meeding, waarna die wenners  aangekondig sal  word.

Die lys van vanjaar se kandidate sluit wenners en finaliste van verskeie nasionale musiekkompetisies in. Hierdie kompetisie is egter eiesoortig aangesien slegs pianiste  deelneem en dus die geleentheid kry om op ’n gelyke speelveld teen mekaar mee te ding.

Die beoordelaars vanjaar is Prof. Alexander Johnson, Mnr John Roos, en Prof. Nina Schuman .
Atterbury Trust is jaarliks die hoofborg van die kompetisie.

Alle rondtes is oop vir die publiek. Toegang vir die openingseremonie en die aanvanklike 3 rondtes is gratis. Kaartjies vir die finale rondte op Vrydag 21 Oktober is by Computicket beskikbaar.