Die room van Suid-Afrika se jong pianiste gaan vanaf 12 – 16 Oktober weer in die Atterbury Teater in Pretoria bymekaarkom vir die Vyfde Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Daar is reuse pryse is op die spel.

Die algehele wenner van die eerste prys stap weg met ’n kontantprys van R30 000. Daar is ook ’n verdere R80 000 se pryse beskikbaar vir pianiste in die verskillende ouderdomskategorieë.

Die drie ouderdomskategorieë waarin die pianiste deelneem is 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Daar is vanjaar 39 kandidate van regoor die land.

Die amptelike openingseremonie vind plaas Maandagaand 12 Oktober om 18h30. Tydens hierdie geleentheid sal Andre Breet, verlede jaar se algehele wenner, ’n kort program lewer. Die wenners van die Suid Afrikaanse Komposisie Kompetisie gaan daarna aangekondig word, en die werk van die wenner sal voorgedra word. Laastens word die deelnemers van 2015 aan die gehoor voorgestel.

Die kompetisie strek oor drie rondtes Dinsdag, Woensdag en Donderdag, en eindig met die finale rondte Vrydagaand 16 Oktober om 19h00. Tydens hierdie gala geleentheid sal die 3 finaliste uit elke ouderdomskategorie teen mekaar meeding Die wenners sal hierna aangekondig word.

Die deelnemerslys sluit wenners en finaliste van verskeie nasionale musiekkompetisies in. Hierdie kompetisie is egter eiesoortig omdat slegs pianiste deelneem en dus die geleentheid kry om op ’n gelyke speelveld teen mekaar mee te ding.

Die beoordelaars vanjaar is John Roos, Diane Coutts en Bryan Wallick.

Atterbury Trust is jaarliks die hoofborg vir die kompetisie.

Alle rondtes is oop vir die publiek. Toegang vir die openingseremonie en die aanvanklike 3 rondtes is gratis. Kaartjies vir die finale rondte op Vrydag, 16 Oktober, is by Computicket beskikbaar.

 

Att klavier