Neem aksie, inspireer verandering, maak elke dag ’n Mandeladag”… dit is die leuse vir Mandeladag, die internasionale herdenkingsdag wat elke jaar op 18 Julie gevier word. Op Nelson Mandela se verjaardag word ons gevra om 67 minute lank iets vir ons naastes te doen, in die gees van die 67 jaar wat Nelson Mandela geveg het vir sosiale geregtigheid.

By Atterbury is Mandeladag sinoniem met kindertjies, en hoe dan anders? Madiba se liefde vir kinders was legendaries en dit dien elke dag vir ons tot inspirasie. Om ’n glimlag op ’n kind se gesig te sien, bly een van die lewe se bevredigendste ervarings!

Ons het pas op 18 Julie vir die eerste keer Nelson Mandela se verjaardag sonder hom gevier, maar soos gewoonlik was Atterbury se aandag op hierdie gedenkdag op die kleinspan van die Beyers Bytjies kleuterskool in Danville. Omdat Mandeladag vanjaar gedurende die skoolvakansie geval het, is daar besluit om ’n week later, op die 25ste, ’n spesiale speeldag vir die 180 Bytjies te hou.

’n Spannetjie van Atterbury het met persentjies en lekker eetgoed gaan kuier en ’n heerlike middag saam met die kinders deurgebring. “Dit was ook ekstra spesiaal om ’n paar van ons Atterbury Trust studente saam met ons te hê vandag,” sê Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust. “Ninette Hurter, een van ons alumni-studente, wat vandag ’n gekwalifiseerde bourekenaar by Multinet Systems, is het ’n klomp kollegas by haar nuwe werk, Multinet Systems, gemoboiliseer om saam met Atterbury Trust Mandeladag te hou.

“Hulle direkteure en die personeel het donasies gemaak en nege van hulle het met ’n hele klomp skryfbehoeftes, papier, ens by Beyers Bytjies aangekom en saam met ons en die kleuters gespeel en gebraai. Dis die ongelooflike ding van die Trust, daardie pay it forward beginsel om mense te inspireer om weer iemand anders te wil help as jy iewers in die lewe ’n geleentheid gegun is.”

Die kleinspan het met groot trots vir die besoekers vertel wat hulle alles kan regkry, en kinders het grootmense aan die hand gevat en gewys hoe dinge by Beyers Bytjies gedoen word… Daar is geswaai, gespeel, geklim en geklouter, met die heerlike reuk van braaivleis in die lug. Elke kind het ’n splinternuwe stel klere gekry; en soos verlede jaar het die Atterbury-familie hulle harte en hangkaste oopgemaak vir die skool en klere, speelgoed, skoene, boeke en huisraad ingesamel vir die kinders en hul huishoudings.

“Hierdie kinders het so min, so dis so lekker om hulle vir een dag te sien vergeet van pyn, honger en armoede,” vertel Atterbury se Leonie du Preez, wat gereeld by die skool onderrig gee in lewensvaardighede. “Almal van Atterbury help so graag; mense gee onbaatsugtig van hulle tyd en dié wat nie tyd kan bekostig nie, help met ’n donasie hier en daar. Dit alles het vandag bygedra sodat ons ’n wonderlike dag by die skool kon hê.”

In 1983 het Madiba gesê: “Dit is in ons hande om ’n beter wêreld te skep vir almal wat daarin woon.” Atterbury gooi so graag ons druppeltjie in die emmer.

[gdlr_button href=”https://atterburytrust.org/omgeegalery/” target=”_self” size=”medium” background=”#00498f” color=”#ffffff”]Sien al die foto’s[/gdlr_button]