Atterbury se medestigter, Francois van Niekerk, is ’n gevierde filantroop wat net duskant 70% van sy maatskappy, die Mertech Group, se aandeelhouding vir liefdadigheid en Koninkryksuitbreiding aanwend – deur ’n onafhanklike trust, die Mergon Foundation. Sy nuwe boek, ’n sakehandboek en terselfdertyd sy getuienis, het pas op die rakke verskyn.

  1. Wat het jou juis nou laat besluit om jou boek te skryf en het jy ’n spesifieke mylpaal wat jy met die boek wil bereik?

Die jare stap aan en ek wou bloot my getuienis op rekord sit. Primêr hoe God ’n amper-insolvente eenman-besigheid gegroei het tot ’n internasionale groep. Dan ook die bestuurslesse; wat het gewerk en wat nie.

  1. Hoe sou jy die boodskap van die boek in ’n sin opsom?

Die pad na werklik betekenisvolle sakesukses is minder van jouself, meer met ander en veral meer as instrument in die Groter Hand.

  1. Jy het ’n verbond met God gemaak, en party mense glo hoe meer mens vir God doen, hoe groter die seëninge. Is dit ook jou filosofie?

Ek glo glad nie in welvaartsteologie nie.  Sakemense wat die Here se naam misbruik, was inderwaarheid ook vir my ’n erge belemmering in die proses om tot ’n voller begrip te kom van wat God deur die sakewêreld wil en gaan doen.  Die sogenaamde ‘voller begrip’ het oor 35 jaar ontwikkel en dit is juis waaroor die boek handel.

  1. Forbes Magazine erken jou byvoorbeeld as die grootste filantroop in Afrika. Hoe het dit gekom dat jy begin het om so beduidend vir jou medemens te gee?

Forbes het die kat aan die stert beet.  ’n Filantroop is waarskynlik meer iemand wat gee van wat hy self vergaar het.  Ek het in werklikheid net van die Gewer ontvang en het moeisaam ’n bietjie geleer van wat God wil hê sakemense aan hul medemens moet begin doen en hoe om net ’n instrument van Hom te wees.  Die snelgroeiende gaping tussen “haves” en “have nots” is bloot nie volhoubaar nie en bedreig ons saketoekoms.

  1. Vertel ons hoe dit alles begin het.         

Ek het in 1980 die korporatiewe wêreld verlaat om my eie besigheid te begin. Nege maande nadat Infotech begin het, het dinge skeefgeloop en ons was op die rand van bankrotskap. In desperaatheid het ek die Here 30% van die maatskappy aangebied as hy sou ingryp en die krisis afweer. My gebed is binne ’n halfuur verhoor en van toe af is God nie net deel van die maatskappy nie maar met Sy hulp het die besigheid van krag tot krag gegaan. Ek het soos beloof  ’n aparte entiteit, die Mergon Foundation, gestig met 30% van die maatskappy se aandele.  In reaksie op Sy seëninge is Mergon Foundation se aandeelhouding mettertyd tot 70% verhoog.  Ek het met die jare besef dat die Here nie noodwendig deur jou “aanbod om te gee” beïnvloed word nie.

  1. Jy noem in die boek dat hierdie sakestruktuur dikwels vir buitestaanders vreemd is en verduideliking verg. Hoe hanteer julle dit?

Dit bly ’n daaglikse uitdaging maar ons hanteer God as die Mertech Groep se Hoofaandeelhouer. Eintlik maar presies soos mens sou doen met enige menslike beherende aandeelhouer.

  1. Wat is die huidige  Koninkryksbydrae?      

Mergon Foundation se dividend-opbrengs is tans R90m per jaar. Die volle opbrengs word gebruik om 120 Christelike organisasies, betrokke by sowat 700 projekte, te ondersteun. Hierdie projekte is meestal in Suid-Afrika en Afrika, maar ook in etlike ander lande.  Mergon se fokus is op die jeug, opvoeding, sosiale ontwikkeling en doeltreffende Koninkryksgroei. Benewens die finansiële word baie aandag gegee om hierdie Koninkryksvennote met goeie sakebestuur te help.

  1. Gee ’n voorbeeld van ’n tipiese projek wat Mergon Foundation ondersteun.

In reaksie op die Namibiese regering se besluit op Engels as voorkeur voertaal in skole, het die NG Kerk Windhoek Wes voorskoolse kinders uit informele woonbuurte rondom Windhoek met basiese Engelse vaardigheid begin toerus. Verarmde kleuters kry daagliks ’n bord kos, word basiese Engels geleer en word vertel van Christus.  Die projek het nou gegroei na 120 skooltjies wat jaarliks sowat 4 000 kleuters toerus om die formele skoolstelsel te betree.  Belangrik vir ons is die projeksukses wat die Namibiese owerheid, Windhoek sakegemeenskap en ander kerkorganisasies motiveer om ook te begin bydra.  Daarby is dit ’n model wat in enige ander dorp of stad herhaal kan word.

  1. Hoe werk die proses van toenadering tot Hom in ’n praktiese maatskappy-opset? Hoe word spertye vir besluitnemings bepaal met ’n meerderheidsaandeelhouer wat nie letterlik op die raad sit nie?

Mertech Groep en Mergon Foundation word bestuur deur drie direksies en ’n bestuursgroep gelei deur Pieter Faure. Dit het onnodig lank geneem, maar ek het oplaas besef daar is geen verskil of jou beherende aandeelhouer sigbaar/tasbaar is of nie.  Soos met enige ander direksie- of topbestuurbesluit word bepaal wanneer enige besondere besluit dan nou wel ’n aandeelhouerbesluit moet wees.  Die kanaal na Christus is tog gebed en ons lê dit so voor. Die heel moeilikste is om op Hom te wag.  Maar dit raak darem al makliker wanneer jy telkens ervaar hoe Sy tydsberekening en Sy antwoorde altyd strate beter as jou verwagting is.

  1. Hoe kies die Mergon Foundation die organisasies wat bevoordeel word?

Aansoeke word deeglik geëvalueer en alle toekennings jaarliks hersien.  Navorsing toon welke tendense bedink moet word om optimale Koninkrykswerk te verseker.

  1. Sedert jy Mergon Foundation begin het, sien jy ’n groeiende tendens onder besigheid om formeel terug te ploeg?

Beslis. Onlangse boeke deur Richard Branson “Doing Good Whilst Doing Business” en “Firms of Endearment” deur Sisodia, Sheth & Wolfe toon duidelik die nuwe tendens en dat winsgewendheid of die “bottom line” geensins nadelig geraak word nie – eerder andersom.  Internasionaal word toenemend besef dat ’n nuwe bedeling êrens tussen die uiterstes van gulsige kapitalisme en onwerkbare sosialisme dwingend noodsaaklik geword het.

  1. Wat kan ’n tipiese besigheid of kerkorganisasie doen om gepas te reageer op die tendense wat jy waarneem?

Kies ’n projek waarby die plaaslike geloofsgemeenskap, die plaaslike regering en die betrokke sakegemeenskap kan saamwerk.

  1. Jou boek gee ook heelwat praktiese besigheidsraad oor die bestuur van ’n suksesvolle maatskappy. Wat sou jy aanbied as drie van die belangrikste lesse wat enige entrepreneur moet leer?

Wat vir my gewerk het en wat ek in die boek probeer weergee is:  a) alles rondom die beste moontlike mensmateriaal,  b) ’n amperse obsessiewe fokus op die kliënt en  c) die skep en voortsetting van volgehoue sakemomentum.

Doing Business with Purpose… Beyond Success to Significance se winkelprys is sowat R200, maar kan by Atterbury Trust teen R150 plus posgeld bestel word (waarvan R75 aan die Atterbury Trust geskenk word).  Stuur bewys van betaling en afleweringsadres aan Karin by [email protected]. Vir meer oor die Mergon Foundation, besoek mergon.co.za. Vir meer oor die boek, besoek www.doingbusinesswithpurpose.com