Atterbury glo in mense, en Atterbury Trust is altyd aan die soek vir geleenthede om betrokke te raak by die gemeenskap. Na die suksesvolle stigting van die Triomfkliniek verlede jaar, is vanjaar se goot projek ’n gemeenskapsentrum wat by die NG Kerk in Booysens, Pretoria-Wes ingerig gaan word. “Die kerk se leraar, George Nel, bestuur al al jare lank ‘n informele gemeenskapsentrum vir die mense van die omliggende omgewing, en met die hulp van Atterbury se netwerk wil ons dit help uitbrei,” vertel Zahn Hulme.

Volgens dieselfde beginsel wat die Triomfkliniek so suksesvol maak, is die idee om mense met relevante vaardighede uit die gemeenskap en Atterbury se wonderlike netwerk van medewerkers, van Solidariteit Helpende Hand tot Grootfm en Maroela Media en hulle luisteraars, te mobiliseer om te help om die sentrum ’n realiteit te maak. Van bouers en ambagsmanne, tot verskaffers van toerusting en Jan Publiek wat graag R50 wil skenk om te help, sal betrek word om ’n heenkome te skep vir Pretoria-Wes se behoeftige Afrikaners. Helpende hand se Riaan du Plooy was betrokke by die daarstelling van Ons Plek, ’n soortgelyke gemeenskapsentrum in Strand, in die Wes-Kaap en ’n soortgelyke model word hier beplan. Die gemeenskapsentrum sal as ’n “hub” funksioneer om liefdadigheidspogings te koördineer en vanwaar skenkings van die publiek behoorlik gekanaliseer kan word.

Die argitek AJ Smit het reeds sy dienste aangebied om die beplanning van die bouwerk en opknapping te behartig, en is in die proses om die bestaande planne te hersien om voorstelle te kan maak. “Ons wil die bestaande geboue opknap en aanpas om te voldoen aan die behoeftes. Die pastorie word nie bewoon nie, en is in die laaste jare merendeels as stoorruimte gebruik, so deel van wat ons wil doen is om ander stoorplek op te rig, met skeepshouers, sodat alles wat gestoor moet word uitgeskuif kan word en die geboue kan verander word in meer funksionele ruimtes,” verduidelik Smit. ’n Behoorlike groente- en kruietuin gaan ook aangelê word.

Die visie vir die sentrum is om ’n ontmoetingsplek te word waar behoeftige mense uit die gemeenskap bymekaar kan kom om vaardighede aan te leer; met onder andere rekenaars en naaimasjiene wat gebruik kan word vir opleiding en ook om entrepreneurskap by werklose mense aan te help. “Net soos die Triomfkliniek minderbevoorregte mense toegang gee tot top-gehalte mediese sorg, wil ons ’n plek skep waar dieselfde mense bemagtig kan word om vir hulself ’n beter lewe te skep. Armoede hou so baie mense terug omdat hulle net nie toegang het tot die geleentheid om hul posisie in die lewe te verbeter nie, en ons wil help brûe bou om dit te verander,” sê Zahn.

Die sentrum sal konsultasiekamers vir maatskaplike werkers, spraak-, arbeids- en ander terapeute hê, en mettertyd ook ’n naskoolsentrum waar studente beskikbaar sal wees om skoolkinders met hul huiswerk te help, sê Zahn. “Daar is 18 skole binne ’n vyf kilometer radius, so daar is baie kinders in die omgewing en baie van hulle het weens sosio-ekonomiese redes nie ondersteuning wat hulle die beste fondasie gee nie. Die ouers het nie altyd die vaardighede om hul kinders te help om hul potensiaal te bereik nie, en ons hoop dat die sentrum ook ’n plek sal wees waar ’n ma kan kom en kan leer hoe om haar kind te help.”

Atterbury se medewerkers is ook vuur en vlam oor die projek. Volgens Lindie Strydom van Grootfm beskou die radiostasie dit as hulle groot Hoopstoot projek vir die jaar. “Ons wil ons luisteraars betrek en die groot projek in klein hanteerbare happies opdeel sodat almal kan bydra, sodat dit ’n regte gemeenskapsprojek raak. En as ons een gemeenskapsentrum suksesvol op die been kan bring, kan ons later in ander dele van Pretoria waar soortgelyke behoefte bestaan, die model herhaal,” sê Lindie.

Die planne is nog in hul kinderskoentjies, maar een ding is seker: die gemeenskapsentrumprojek begin momentum kry en ons sal oor die volgende maande gereeld terugrapporteer oor die vordering. Hou hierdie spasie dop!

Skenkings wat sal help om die projek op die been te bring is welkom, skakel Karin Dercksen by Atterbury vir meer inligting 012 471 1600.

10959301_579766188825739_3817509786366476562_n

14288_579766298825728_5541025740137507439_n

Leonie Du Preez, Zahn Hulme and Karin Dercksen

10959671_579766198825738_7822353462876297524_n