Atterbury Trust het bykans drie jaar gelede in GROOTfm 90.5 belê en is ook betrokke op bestuursvlak. Ons weet ons kan altyd op hierdie mediavennoot van ons staatmaak as ons iets spesiaal wil doen vir die kinders van een van die skole onder die Atterburyvlerk, of as die Triomfkliniek iets nodig het. Hulle doen wonderlike werk om die gemeenskap van Pretoria aan te moedig om betrokke te raak by hul medemens, en tussen die radiostasie GROOTontbyt wat soggens op kykNET kanaal 144 uitgesaai word, deel hulle daagliks soveel positiwiteit. Ons het met Lindie Strydom gesels oor ‘n paar van hulle jongste, en gewildste, inisiatiewe, waarmee hulle mense bymekaarbring.

Watter van die projekte saam met Atterbury lê jou die naaste aan die hart?
Ek deel verseker Atterbury Trust se passie vir opvoeding en opleiding!  Ek glo die beste belegging om die jeug van Suid-Afrika se toekoms permanent te verander, is ongetwyfeld opleiding. Dis presies Atterbury Trust se hooffokus en die rede hoekom hulle sedert 1999 al meer as 600 studente gehelp het wat vandag ons land se ingenieurs, ouditeure, advokate en dokters is!

Julle mees bekende volgehoue projek is HOOPstoot. Hoe lank bestaan dit al, en hoe lyk dit nou in 2017?
Die basiese beginsel van HOOPstoot is om aan mense wat reeds ’n pad geloop het om hul eie omstandighede te verbeter, daardie ekstra hup-, oftewel “HOOPstoot” te gee. Ons ondersteun en versterk wat hul reeds self gedoen het en sodoente belê ons in ware hoop. Ons kies spesifiek stories wat ons glo ander ook sal inspireer om eienaarskap en verantwoordelikheid vir hulle lewe te aanvaar.  Dan bring ons borge of ander hulpmiddels aan boord en kyk hoe ons die persoon kan help om hulle doel te bereik. Dit is geweldig bevredigend om iemand wat eie inisiatief aan die dag lê daardie ekstra bietjie hulp te gee om hul doel te bereik. En wat wonderlik is, is dat ons luisteraars en kykers kan deelneem, en bydra. As mediaplatform kan ons die stories vertel en hopelik bydra om ’n omgeegemeenskap te bou.

Hoeveel mense het julle reeds so gehelp, en kan jy een storie vir ons uitsonder?
Dis moeilik om ’n spesifieke storie of behoefte uit te lig, want in elkeen het ons gepoog om met ons #GROOTindieklein aanslag (getrou in die onsigbare, onbenullige, klein details) ’n spesifieke behoefte spyker-op-die-kop presies te ontmoet!  Ons is baie dankbaar dat ons in 2016 saam met vriende en vennote mense kon help met van ’n rolstoel, scooter en kar, tot Bybels, bome, brille, beurse en warm baadjies, ’n tandartsstoel en operasie, skoene en skryfbehoeftes, kospakkies en kunsgoedere, rekenaars en vrieskaste, JoJo tenks en selfs mooi-maak-bederfgeleenthede!

#JouMenseMyMense – hoe werk hierdie nuwe idee in die praktyk?
Die omvang van die nood laat mens soms oorweldig voel! Net omdat ons nie alles vir almal kan wees en doen nie, beteken nie ons moet ons gewone menslike omgee verloor wat fokus op dit wat ons wel vir mekaar kan doen nie… ons wil met hierdie inisiatief sê as jy iemand en hulle behoefte of omstandighede op die hart dra, dra ons saam! Ons sal jou “instaan-familie” wees as tyd, geld of afstand maak dat jy nie by ouma se 90ste of daardie geliefde wat aansterk in die hospitaal, kan uitkom nie! Dis mos die dáár wees wat tel… die gebaar van liefde en omgee, die persoonlike boodskappie en ’n bietjie bederf.
Een van die eerste mense wat genomineer is was ’n bejaarde dame van Pretoria wat drie aangenome kinders grootgemaak het en tans ’n vierde meisie, wat nou in matriek is, soos haar eie kleinkind versorg. Sy het haar staatspensioen aangevul met ’n deeltydse boekwinkelwerk, en ook au pair-werk, en so kon sy haar matriekkind onderhou en voorsien met die nodigste. Ongelukkig het sy onlangs siek geword en haar ekstra inkomste verloor, wat hul daaglikse bestaan ontsettend ingeperk het.

#JouMenseMyMense se leuses is “’n gedeelde las is altyd ligter”, en “saam is ons beter”, en danksy twee Sparwinkels kon ons hierdie liewe vrou verras met ’n reuse geskenkpak en blomme, asook ’n geskenkbewys.

Watter van julle gereelde inisiatiewe geniet jy die meeste?
Ek is baie lief vir #GoeieNuusVrydag, want dit werk direk in teen al die slegte nuus waarmee mens daagliks gebombardeer word. As mens na die gewone nuus kyk wil-wil jy sommer swartgallig raak, so dis hoekom ons in 2015 begin het met #GoeieNuusWeek – juis om goeie nuus en inspirerende stories van hoop te deel, en Suid-Afrikaners se energie op die positiewe te rig! Dit was so ’n sukses dat ons dit toe verlede jaar uitgebrei het en nou is die laaste Vrydag van elke maand #GoeieNuusVrydag! Dit maak nou ook selfs al ’n draai op televisie met #GoeieNuus op GROOTOntbyt, en ons vind daar is so baie goeie stories van hoop dat ons nie kan voorbly nie. Dit voel so lekker om soveel positiewe boodskappe te kan uitdra!

Stuur gerus ’n epos na [email protected] vir enige verdere inligting. Stuur jou goeie nuusstories en stories van hoop na [email protected].