Hoe twee Atterbury beurs-alumni ’n groep behoeftige kinders op ’n droomvakansie geneem het.

Een van die oorwegings van die Atterbury Trust se beursfonds is om studente te help om hul drome waar te maak, sodat hulle eendag kan terugploeg in die gemeenskap. So dit is ontsettend lekker om stories te hoor soos dié van Chrisna en Rolindi Devenish, wat oor die somertyd ’n groep behoeftige kinders op hul eerste seevakansie ooit geneem het.

Dié twee sussies van Pretoria, albei Atterbury Trust alumni, is al vir ’n paar jaar betrokke by die NPO Vastfontein Community Transformation, waar Chrisna gereeld vrywillig werk as arbeidsterapeut. Hulle het gesien dat die kinders wat permanent in pleegsorg by die fasiliteit is, nie baie geleenthede het om uit hul onmiddellike omgewing te kom nie, en so het hulle op die idee gekom om borge te kry en ’n baie spesiale seevakansie vir 18 kinders te reël.

Hoekom juis ’n seevakansie?

Chrisna: As arbeidsterapeut werk ek elke dag met kinders en dis wonderlik om te hoor hoe hulle dinge beleef, wat hulle van die wêreld maak en wat op hulle jong hartjies ʼn indruk maak. En toe, een aand in Oktober 2014, ervaar ek skielik so sterk die besef, asof direk uit God se hart, dat hierdie kinders in Vastfontein Care Home ook ’n behoefte het, en verdien, om “wow” ervarings te beleef saam met die mense vir wie hulle lief is. Ons was so bevoorreg om as kinders elke Desembervakansie by die see te kon spandeer, en ons wou Vastfontein se kids ook sulke herinneringe gee. En toe ons dit met die bestuur bespreek, was ons verbaas om te hoor die Here het lankal hierdie droom ook in hulle harte geplant. So, die vakansie kom regtig uit gehoorsaamheid aan Sy opdrag in geloof dat Hy sou voorsien.

Waar begin mens met so ’n projek? Hoe lank het die beplanning geneem?

Na ons in April 2015 met die Vastfontein bestuur gepraat het, het dinge vinnig gebeur! Daar is gesoek vir geskikte kampterreine. Toe stel ons die begroting op; en besef gou dat selfs basiese dinge soos swemklere, plakkies en slaapsakke ook nodig was, want hierdie kinders het nog nooit buite Vastfontein oornag nie. Die beplanning het aangehou tot ons die kinders na die vakansie gegroet het – elke dag op die kamp moes ons besluit wat om te doen… Wat as dit reën? Wat as die kinders honger word? Watter ander aktiwiteite kan ons op die strand doen? En wat as die Spur nie vir ons almal plek het nie? Selfs nou is ons besig om te beplan aan die reünie met die kinders, waar ons weer gaan stokbrood maak, foto’s kyk en swem-medaljes uitdeel.

Wat moes julle alles in ag neem, en hoe het julle besluit op wat, wie en waar?

Die seekamp het regtig net gebeur danksy die ondersteuning, raad en baie werk agter die skerms deur die hele Vastfontein span. Van die maatskaplike werkers wat gesorg het vir die wetlike vereistes nodig om pleegsorgkinders te mag wegneem, tot die omgeegroepe en skole wat eetgerei, slaapsakke, flitsies, rugsakke en swemklere geskenk het. En die Wellness Centre span wat gesorg het dat die kinders se sakkies gemerk, gepak en reg is met alles wat hulle nodig sou kry. Ons het ʼn maand voor die tyd afgery Durban toe om na die kampterrein en die strande te gaan kyk, te sien waar is die naaste hospitaal, dokter en apteek. Dit het ons meer voorbereid laat voel en idees gegee vir aktiwiteite. Ons het ʼn span van nege omgee-engele bymekaar gekry wat bereid was om ʼn deel van hulle verlof op te offer om saam te kom. Daar was ’n intensiewe-sorgeenheid verpleegster wat gesorg het vir ʼn ten volle toegeruste noodhulptassie, ’n fotograaf om elke oomblik vas te vang; ook ʼn paar sterk manne wat gehelp het met sandkastele bou en help dat die kinders vir ure veilig kon boogie-board in die branders. Iemand het seker gemaak dat al die kinders se persoonlike inligting, allergieë en medisyne ingepak en reg is. Elkeen het so ʼn spesiale plek in die span gehad, ook ons voltydse busdrywer wat oral saam met ons is.

Wat het julle alles met die kinders gedoen op die seevakansie? Wat was die hoogtepunte?

Beslis die uitstappie na Ushaka Marine World, en ook die een na CrocWorld waar die kinders die geleentheid gekry het om aan slange en babakrokodille te vat! Ons het die vakansie afgesluit met ʼn middagete by die Spur. Dan was daar ook roomys op die strand, ’n krappejag, waatlemoen by die swembad en warm sjokolade terwyl hulle DVDs kyk. Ons wou vir hulle alles gee wat ons self as kinders ervaar het en danksy so baie skenkings kon ons dit alles doen. Baie van die kinders het nog nooit voorheen geswem nie, maar die swembad het vinnig die hoogtepunt van alles geword.

Wat het dit vir julle beteken om hierby betrokke te wees?

Ons het hierdie vakansie gereël om hierdie kosbare kinders te bederf. Maar aan die einde van die week was dit andersom, met ons wat geseën is en opnuut aan God se voorsiening herinner is. Elkeen van hierdie kinders is ʼn wonderwerk, so byvoorbeeld die meisietjie wat ʼn maand tevore by die dood se deur gestaan het in die hospitaal. Sy het ons elke dag op die vakansie verstom met die entoesiasme en vreesloosheid waarmee sy elke avontuur aangepak het. Sy het vir niks teruggestaan nie en ons opnuut gewys dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee! Hierdie vakansie het ons almal verander. Nooit weer sal ons skuil agter die verskoning dat daar nie tyd of geld is nie. Vir God is alles moontlik!

Sal julle dit weer doen? Wat sal julle nodig hê?

Die vakansie het ons opnuut laat besef dat hierdie kinders elkeen ʼn ryke potensiaal het en dat die venster van geleentheid om dit te ontgin stadig maar seker kleiner word. Daarom moet ons en wil ons nog baie van die wêreld vir hierdie kinders wys. Ons het reeds ʼn nuwe wenslysie opgestel van ervarings en belewenisse wat ons hulle graag wil gee. Dit strek van ʼn wildrit waar hulle olifante, leeus en renosters van naderby kan beskou, tot ʼn naweek weg in Warmbad waar hulle die hele dag kan baljaar in die warmwaterswembad sonder om koud te kry. En natuurlik die groot droom…’n vliegtuigrit Kaap toe om die groot berg en die kabelkarretjies in lewende lywe te beleef. Natuurlik kom hierdie groot drome teen ʼn prys, beide finansieel en logisties. Hierdie seekamp was ʼn agt-maande-lange reis van bid en vertrou en in verbasing staan van hoe mense hulle harte en beursies oopmaak vir kinders wat hulle nie eers ken nie. Maar ons het gesien dat ons werklik ’n verskil kon maak in 18 kinders se lewens en ons vertrou die Here vir ʼn verskil wat nooit sal ophou voortleef nie.

Wat is julle droom vir Vastfontein se kinders?

Buiten vir nog vakansie-herinneringe en bederftye met groot vreugde, weet ons ook dat die realiteit van skoolgelde, kos, klere en mediese onkostes ʼn daaglikse uitdaging vir Vastfontein is. So dit is ons droom vir 2016…ʼn borg vir elke kind, vir elke maand, vir elke uitgawe. Ons hoop ook dat hierdie vakansie die begin sal wees van groter drome in hierdie kinders se harte. Nou dat hulle ʼn stukkie gesien het van die groter wêreld, dat hulle ook groter drome vir hulleself in hulle harte sal begin koester. Om nie net aan hulleself te dink as ʼn pleegsorg-kind met ʼn gebroke verlede nie, maar as iemand wat eendag ʼn skubaduiker kan word as hy sou wou. Om regtig te glo: “The world is my oyster!”

Watter spesifieke behoeftes bestaan by Vastfontein, indien mense wil help?

Natuurlik is die groot behoefte finansies. Spesifiek ʼn vaste, maandelikse borg vir elke kind. Hierdie borg sal voorsien in alles wat elke kind nodig het, insluitend skoolklere, benodighede, mediese onkostes, kos en versorging. Enige bederf-uitstappie sal wonderlik wees. Die kinders is werklik soos sponsies wat elke geleentheid opsuig en geniet! Ons wil vir hierdie kinders alles gee wat die lewe het om hulle te bied. Om aan hulle te bewys dat hulle verledes vol seer hulle nie meer definieer nie. Hulle is geliefd en kosbaar en iemand gee om vir hulle.

 

As jy meer meer wil uitvind of wil betrokke raak by Vastfontein, kan jy direk kontak maak met Rolindi Devenish 079 6946104 [email protected] of Chrisna Devenish 082 3184854 [email protected]. Vir meer inligting oor Vastfontein Community Transformation, besoek http://www.vastfontein.co.za/ of besoek hulle Facebookblad.