Die ATKV se Lucas Maree-Liedjiewerkswinkel waarby Atterbury Trust asook die Atterbury Teater as medeborge betrokke was, het tydens die laaste naweek van Mei by Affies plaasgevind, en 23 talentvolle jong musiekliefhebbers het by kundiges in die bedryf kom leer hoe die prosesse werk om hul passie vir musiek in ’n loopbaanrigting te stuur. Ons het met Nita Cronjé, Bestuurder: kunste en feeste by die ATKV, gesels oor hoe dit alles afgeloop het.

Dit was die eerste keer dat hierdie werkswinkel aangebied is, dan nie?  Het dit voldoen aan die ATKV se verwagtings?
Die ATKV het eintlik al vir sowat 30 jaar die ATKV-Liedjiewerkswinkel aangebied. Coenie de Villiers het onlangs met ons gesels en aangebied om sy tyd en jarelange ondervinding in die bedryf terug te ploeg in ’n inisiatief om jong mense te inspireer om oorspronklike Afrikaanse liedjies te skryf. Hierdie is dus ’n herlewing en nuwe formaat vir die werkswinkel onder die naam Lucas Maree-Liedjiewerkswinkel. Ons vennote vir die aanbieding is die Atterbury Trust en Afrikaans Hoër Seunskool. Ons is baie tevrede met die “nuwe” naweek-werkswinkel. Die aanbiedings was van hoogstaande gehalte en die terugvoer van al die deelnemers was oorweldigend positief.

Wie was die deelnemers van hierdie eerste een? Waar het die 23 jongmense vandaan gekom; en hoe ingelig en musikaal geletterd was hulle?
Die meerderheid deelnemers was hoërskoolleerlinge (Graad 11 en 12), ’n aantal studente en drie volwassenes. Ons het vir hierdie eerste naweek-werkswinkel wat by Afrikaans Hoër Seunskool se Musiekakademie aangebied is, veral gekonsentreer op skole in die Pretoria en Gauteng omgewing. Daar was egter deelnemers van sover as Ermelo, Rustenburg en Witbank ook.

Kan jy een of twee hoogtepunte van die naweek uitsonder? Het daar enige jong sterre uitgestaan wat jy kan uitsonder?
Daar was vele hoogtepunte, en die aanbiedings het elk ’n unieke bydrae gelewer tot die groter prentjie. Die metamorfose wat die meeste van die deelnemers se liedjies ondergaan het nadat hulle leiding en insette van die aanbieders ontvang het, was merkwaardig. Die liedjies is Sondagoggend opgevoer: sommige met Coenie de Villiers se klavierbegeleiding; sommige waar Brandon October saamsing; of sommige waar deelnemers hulle talente gekombineer en saam opgetree het. Dit was ’n inspirerende en genotvolle ervaring! Daar is volop talent onder die jonger deelnemers.

 Wat was die terugvoering van die deelnemers – beide die leerders en die aanbieders?
Net positief! Vir beide die deelnemers en aanbieders was dit ’n baie positiewe ervaring.

Ons hoor daar kom ’n konsert waar van die uitblinkers saam met groot Afrikaanse sterre gaan optree? Kan jy al meer hieroor uitbrei?
Ons moet nog ’n finale besluit maak van watter deelnemers op 9 September saam met Lize Beekman, Elvis Blue en Jannie du Toit gaan optree by die Atterbury Teater. Deelnemers gaan hulle liedjies verder verfyn en weer vir ons ’n MP3 aanstuur met die nuutste weergawe van hulle liedjies wat tydens die werkswinkel geslyp is.

Mens leer ook mos altyd iets sodat jy volgende keer kan beter – wat het julle met hierdie werkswinkel wys geword wat in die toekoms gaan baat?
Ons doen altyd deeglike nabetragting waar alle terugvoer oorweeg word. Ons sal volgende jaar graag meer tyd wil inruim vir die een-tot-een slyp van die deelnemers se liedjies saam met die aanbieders van die werkswinkel. En dan weet ek Coenie se droom is om al hierdie nuwe, oorspronklike liedjies eendag in ’n bundel te vervat om só te bou aan die ryk skat van oorspronklike, kwaliteit, Afrikaanse musiek.