Ons vergeet so maklik om dankbaar te wees, totdat mens ’n storie soos Atterbury beursstudent Caren Du Venage s’n hoor. Dis vir ons so ’n eer om ’n hand te kan uitsteek na ’n belowende jongmens wat ondanks ’n moeilike agtergrond alles doen om haar potensiaal te bereik. Hier is haar storie:

“Ek het nie in ’n maklike huishouding grootgeword nie. My ouers is geskei toe ek nog baie klein was. My pa is verlam aan die regterkant van sy liggaam, en my ma het weer getrou en toe ’n blyplek vir hawelose mense begin. Dit was glad nie ’n kindervriendelike omgewing nie, hoewel my ma gedoen wat sy kon om ons goed groot te maak.

“In my matriekjaar het ek swanger geraak. Ek kon gelukkig nog my eindeksamen klaarskryf, en ek is trots dat ek en Jean, Megan se pappa, nou al vier jaar getroud is. Om ’n kind te hê is ’n groot verantwoordelikheid, en ons het mekaar belowe ons dogter sal ’n beter kinderlewe hê as wat die twee van ons gehad het. Ek het begin dink hoe gaan ek myself verbeter om vir Megan ’n goeie toekoms te gee; en dit is toe dat ek ’n Graad R pos gekry het, by die beste skool, en ingeskryf het vir ’n B.Ed graad by Unisa.

“Ons wou nog ’n baba hê, maar toe verloor ons ons engel-seun ’n week voor sy verwagte datum, stilgebore… En toe kom my my pa se kanker terug. Dit was Januarie 2014. Ek het weer swanger geraak in Julie, en September het die baba ophou groei… verduideliking was maar min. Ek was gebreek; woorde kon nie beskryf hoe leeg ek op daardie stadium van my lewe gevoel het nie. Ons dogtertjie is toe gediagnoseer met ’n rare siekte wat die bloed verdun en wat veroorsaak dat die niere aangetas kan word, hoewel Megan se niere goddank nog 100% is. Ek kon nie verstaan hoekom soveel aaklige dinge met ons gesin gebeur nie… Ek en my man het bly bid vir antwoorde, maar dit het gevoel of ons teen ’n muur vas bid.

Caren en klein Megan

Caren en klein Megan

“En toe in Januarie vanjaar word ek ’n pos aangebied as ’n Graad 1 onderwyseres, en ek hoor by Atterbury dat ek ’n beurs gekry het. My skoolhoof, Mnr Sealie, het my van die beurs vertel en hy was so positief daaroor. Hy gaan altyd uit sy pad om sy personeel net die beste te gee!

“Dieselfde week is Jean ’n beter pos aangebied by ’n ander maatskappy! Dit het begin lyk of dinge vir ons gesin op spoor kom! En toe gebeur die ondenkbare en ek en Megan beland reg voor haar kleuterskool in ’n gewapende roof. Die ouens se plan was om die kar, met my kind binne-in, te vat… Gelukkig het hulle dit nie reggekry nie, en hulle is binne ’n kwessie van sekondes gevang en toegesluit, en ons twee het nie seergekry nie. So iets is ’n groot skok, en ek is nog steeds bang, maar solank ek by my klas is, en doen waarvoor ek lief is, voel ek beter. Dis snaaks hoe skoolgee medisyne vir my siel is. Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel ek weer iets werd, voel dit asof ek ’n verskil maak…Vir die eerste keer in ’n lang tyd, het ek vrede in my hart…

“Voordat ek die Atterburybeurs gekry het, het ek en my man maar maandeliks my studies probeer betaal, wat baie swaar was, tussen die huur en die motoronkoste en Megan se kleuterskool deur. Ek wou van kleinsaf ’n onderwyseres word, so om nou regtig daarmee besig te wees en om verder te kan studeer is ’n droom wat waar geword het. Unisa werk goed vir my omdat ek nie baie tyd het om klasse te loop nie.

“Die Atterburybeurs het my ’n hupstoot gegee, want dit het gekom op ’n baie moeilike tydperk in my lewe. Dit het my gehelp om nie moed op te gee nie, en dit help ons finansieël vreeslik baie! Vreeslik dankie aan Atterbury, dat julle mense help om hulle drome uit te leef, nie net met die geldelike bydrae nie, maar ook die “life coaching”, wat so baie help. Ek is verseker Jesus se dogter, want ek word elke dag van my lewe so geseën!”

Deur ’n bydrae tot Atterbury Trust se beursfonds te maak kan jy jongmense soos Caren die sleutel tot ’n beter toekoms gee. Dis so maklik soos een-twee-drie met PayPal. Vind meer uit oor die program en hoe jy ’n verskil kan maak: https://atterburytrust.org/wie-ons-is/