Nadine Naude sou sommer baie vir kunstenaars gedoen het! Ons gesels met die Atterburybeurshouer oor haar kunsstudies by TUT, haar uitstalling by Atterbury se hoofkantoor en presies wat sy sou doen as sy in die groot stoel gesit het!

Hoe jy destyds van die Atterburybeurs te hore gekom?
Dit was danksy ’n vriendin, wat van die beurs gehoor en my daarvan gesê het.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond.
Ek het grootgeword op Oudtshoorn, waar ek in Principia was, ‘n baie kuns-georiënteerde private skool. Daar het ek baie van alle vorme van kuns geleer, en omdat die skool klein is, het ek het genoeg aandag gekry om my potensiaal te kon bereik. In 2010 het my ouers besluit om Rustenburg toe te verhuis, en dis waar ek gematrikuleer het, aan Hoӫrskool Rustenburg.

Hoekom skone kunste?
Ek wou van kleinsaf kuns studeer, daar was nooit regtig iets anders nie. In my eerste jaar het ek baie belanggestel in drie-dimensionele kuns en klei as ‘n medium. In my tweede jaar het ek beeldhou en keramiekwerk gekies as my twee vakke. Nou is my hoofvak keramiekwerk, en ek stel ook baie belang in afdrukkuns (“printmaking”). My tema vir my finale jaar is landskappe en hoe die natuur op ‘n geestelike manier die mensdom beïnvloed.

Hoe het dit gebeur het dat jy ‘n uitstalling by Atterbury se hoofkantoor gehad het; en hoe het dit gegaan? Het jy ondertussen al weer uitgestal?
Dit was Leonie [du Preez, mentor van Atterbury se beursstudente] se voorstel dat ek van my derdejaarswerk kom uitstal by die kantien! Ek het baie gebaat daarby en dit het baie goed gegaan, dankie! Van my keramiekwerk is by Articles and Frames in Brooklyn, en ek stal ook gereeld uit by Art Lovers Gallery in Waterkloof.

Wat het jy gedink van die Cool Capital-inisiatief waarby Atterbury Trust verlede jaar betrokke was? Het jy enige van die uitstallings en installasies besoek?
Ek het dit baie geniet, en ja, ek het elke Sondag na kunstenaars se huise gegaan en kunstenaars ontmoet en kuns geniet. Dit het my baie geinspireer en ek sal baie graag wou deel word van die inisiatief as dit voortgaan.

As jy aan die voete van enige beroemde kon gaan leer, wie sou dit wees?
Die Britse keramiek-kunstenaar en skrywer Edmund de Waal – alles omtrent sy werk inspireer my, van vorm tot glasuring. Dis minimalisties, en net vullend. Ek sal graag by hom wou leer, want sy werk bring siel, brein en voorwerp bymekaar; sodat die keramiek nie net ‘n vorm van klei is nie maar die verteenwoordiging van die kunstenaar.

Watter kunsmuseum in die wêreld sal jou eerste stop wees?
MoMA, die Museum of Modern Art, in New York! Al die moderne kunsvorms is daar uitgestal, alles waaroor ek geleer het; en daar word gereeld solouitstallings gehou van moderne kunstenaars wie se werk ek graag sou sien. Ek sou ook graag die Venesië Biennale wou bywoon, waar kuns van regoor die wêreld uitgestal word.

As jy Minister van Kuns en Kultuur was vir ‘n week, wat sou jy doen?
Ek sou groot maatskappye soos Sasol en Absa nader om meer finansiële ondersteuning vir die kunste te gee. Suid-Afrikaanse kuns moet beter aan toeriste bemark word, so ek sal werk maak hiervan, dalk TV gebruik as medium. Ek sal ook kyk hoe meer geleenthede geskep kan word vir SA kunstenaars om internasionaal te kan deelneem aan kunste-kompetisies en uitstallings. Ek sou staatsfondse beskikbaar maak vir beurse vir kunstenaars, sodat hulle meer kuns kan skep. Ek sou baie hard werk in daardie week, maar dit sou die moeite werd wees!

Atterbury help graag om drome waar te maak. As jy self ‘n blanko tjek gehad het om ‘n verskil te maak in die wêreld, waarin sou jy dit belê?
Ek sou dit aanwend om ander kunsstudente by TUT te dra, sodat hulle ten volle kan studeer. In my jaar alleen het meer as die helfte van die mense net genoeg om die klasgeld te betaal, maar kan nie die nodige materiale ook bekostig nie, so hulle kan nie die jaar heeltemal klaarmaak nie. Die meeste van hulle is so talentvol, maar omdat hulle geldelik sukkel, kan hulle nie hul volle potensiaal bereik nie.

Wat is jou toekomsplanne na jy graad gekry het?
Hopelik is dié nog nie my finale jaar nie; ek sien baie uit daarna om my Meestersgraad aan te pak by Johannesburg Universiteit. Ek maak planne vir my eie keramiek-ateljee, sodat ek ‘n lewe kan maak uit kuns.

Hoe meer bydraes, hoe meer studente kan Atterbury help. Vind meer uit oor hoe om ‘n skenker te word: https://atterburytrust.org/inligting/