Mense en instansies wat Afrikaans en kultuur bevorder is sommer vanself deel van die Atterburyfamilie. Na verlede jaar se wonderlike Cool Capital Biennale was Atterbury op die uitkyk vir iets soortgelyk met vleis om die bene waarby ons kon betrokke raak, so ons sien baie uit na die Boekerol en Filmjol fees wat binnekort in Pretoria afskop.  Ons het die organiseerder, Dia van Staden, uitgevra oor hoe dit alles gebeur het.

Vertel ons ’n bietjie oor jou agtergrond – van waar jou liefde vir die Afrikaanse taal en kultuurskat? Wat doen jy as jy nie feeste organiseer nie?
Ek het 38 van my 50 jaar in Polokwane deurgebring. Ek het in die onderwys begin en daarna ‘n hele verskeidenheid beroepe ondersoek. Verkope, lewensafrigting, opleiding, skakelwerk, het vir baie jare Mej. Limpopo en tienerkompetisies georganiseer, joernalis en fotograaf, fondsinsameling vir welsyn, radio-omroeper en nog so ‘n paar ander wat ek kon kombineer. Alhoewel ek ‘n Engelse juffie is, speel tale oor die algemeen ‘n belangrike rol in almal van ons se lewens omdat dit ons kommunikasiemiddel is met die wêreld, ons identiteit as Afrikaners grootliks bevestig en omdat dit ons uniek maak. Ek het vir ‘n paar jaar ‘n dramaklub en afrondingskool bestuur en daar het die kultuur weer sy vastrapplek in my hart gekry. Ek het die Mighty Men Bosveld Konferensie vanaf 2011 tot 2013 georganiseer. Die eerste BoekeJol is in 2013 in Polokwane aangebied voordat ek aan die einde van 2013 na Pretoria verhuis het.

Was jy verlede jaar op enige manier by Cool Capital betrokke? Wat het jy van die biennale gedink?
Ek het glad nie Gauteng geken nie, en het in my eerste jaar slegs netwerk gebou. Ek was dus nie by die Cool Capital betrokke nie, maar hoop om met die span te skakel en te sien of ek in die toekoms kan waarde toevoeg.

Hoe het jy by die idee van die Boekejol en Filmrolfees uitgekom?
Limpopo Provinsie het ‘n baie klein Afrikaanse gemeenskap en hul word dus baie afgeskeep sover dit die kultuur van ons taal en mense aangaan. Ek is uiters patrioties oor Limpopo en wou graag waarde toevoeg tot die wonderlike mense wat daar woon se leeslewens. Dit was ‘n pragtige paar dae. Tot my verbasing het Leon van Nierop voorgestel dat ek die BoekeJol in Pretoria moet aanbied. Ek was verras om uit te vind dat hier nie so iets bestaan nie.

En hoe het Atterbury betrokke geraak?
Ek was gelukkig genoeg om Groot FM 90.5 en Maroela Media as mediavennote vir die BoekeJol te kry. Hul het albei voorgestel dat ek met Zahn Hulme by Atterbury gesels oor die fees. Die res is geskiedenis en ek is dankbaar en bevoorreg om hulle deel van die eerse BoekeJol en FilmRolfees te kan maak..

Gaan dit ‘n jaarlikse gebeurtenis wees?
Ek en die betrokke partye, wat die uitgewers en Graffiti boekwinkels insluit, wil beslis jaarliks BoekeJol hou.

Wat was die grootste uitdaging om so ‘n fees bymekaar te stel?
Aangesien my netwerk in Limpopo sit was dit ‘n uitdaging om basiese, maar belangrike geleenthede ter voorbereiding van die fees, betaal te kry. Ek sal beslis nog aan daardie deel van my netwerk hier in Gauteng moet werk.

As ek net EEN dag van die fees kan bywoon, watter item op die program moet ek NIE misloop nie?
Sies! Dit is ‘n onregverdige vraag, maar Donderdag gee vir almal iets om te geniet en as jy ‘n voorliefde vir skrywers het sal die Kuieroggend (Sit aan met…) by die Parkview Barnyard ‘n lekkerte wees. Jy kan jou hele boekrak omtrent persoonlik geteken kry deur al die skrywers wat daar gaan wees.

As jy wêreldwyd na enige kultuur-verwante fees toe kon gaan, watter een sou dit wees?
Die Rio Karnaval trek my soos ‘n magneet. Daar is kleur, klank en baie adrenalien. En ook die Saint Patrick’s Day Festival, Dublin, Ireland: Daar word ‘n wye verskeidenheid genotvolle en kulturele aspekte aangespreek en geniet. Die Iere weet hoe om te lawaai!
Die Boekejol en Filmrolfees vind van 26 tot 29 Augustus in Pretoria plaas. Vir meer inligting oor die fees, en die finale program, sien http://www.boekejol.co.za/BoekejolENFilmrol LOGO