Skaars tien maande gelede was Altus, Juvan en Rikus nat agter die ore en splinternuut op kampus… Ons het weer gaan inloer by hierdie drie Atterbury beursstudente om te hoor of die eerste jaar uitgespeel het soos hulle verwag het.

Altus Bisschoff is amper klaar met sy eerste jaar in meganiese ingenieurswese by Tukkies

Kan jy glo jou eerste jaar is al amper verby?
Nee, dit is ongelooflik hoe vinnig die tyd verby gevlieg het! Hulle sê mos: “Time flies when you are having fun” en dit is voorwaar die waarheid. Studentelewe is besig, maar uiters lekker! Dit is net belangrik dat jy altyd by bly met jou studies. Daar is ‘n tyd om te speel en ‘n tyd om te werk, en die kuns lê daarin om die balans tussen hierdie tye te vind.

Wat was vir jou die grootste aanpassing?
Grootste aanpassing, sou ek sê, is die feit dat niemand jou werk nagaan en kyk dat jy dit wel doen nie. Self-dissipline speel dus ‘n baie belangrike rol in studentwees. Verder is die groot klasse ook ‘n aanpassing. Om van ‘n klas met 30 leerlinge te gaan na een met 550 studente kan nogal intimiderend wees.

Geniet jy nog koshuislewe?  Mis jy enigiets van by die huis woon?
Die koshuislewe is uitdagend, maar genotvol. Dit hou mens verskriklik besig, maar leer mens uiterse goeie tydsbestuur. Moederskos is altyd iets wat ‘n koshuisganger sal mis!

Wat is die lekkerste deel van studentwees?
Jy het baie meer vryheid as op skool. Jy kan self besluit wanneer jy wil werk en of jy wil klas toe gaan. Dit is egter juis hierdie vryheid wat baie studente se ondergang beteken.

Wat was die hoogtepunt van jou jaar sover?
Die Sonop Manskoshuis se serenade is deur na die ATKV Nasionale Serenade kompetisie waar ons ‘n tweede plek verwerf het. Meer as 800 ure se oefen en 45 000 note het als gesorg dat ons hierdie uitmuntende prestasie kon behaal.

Baie geluk daarmee! Watter raad het jy vir die nuwe Atterbury beursstudente wat volgende jaar eerstejaars gaan wees?
Universiteit is moeilik. Dit is ‘n feit, maar dit is nie ‘n verskoning om te laat slaplê nie. Jy het baie potensiaal, ander sou jy nie ‘n Atterbury beursstudent gewees het nie, so jy kan die nuwe uitdaging aanpak. Bly by met jou werk, vra om hulp en doen jou beste!

Juvan Maritz het in Januarie begin met Sportwetenskap by Tukkies

Hoe behandel die studentelewe jou?
Studentelewe is ‘n reis, en dis ‘n ongelyk pad… daar’s goeie en slegte aspekte. Ek geniet die studies en om klasse by te woon en myself te toets met eksamens. Maar ek ken nie so baie mense hier nie, so dis ‘n bietjie eensaam.

Wat was vir jou die grootste aanpassing om ’n student te wees?
Die grootste aanpassing was seker om alles vir myself te moet doen… soos eie boeke gaan koop, belangrike datums te onthou en so aan. Baie anders as skool!

Jy woon by jou ouma, en die res van jou familie woon in Ierland – hoe werk dit uit?
Ek het aangepas, alles is dieselfde, maar, ja, ek mis hulle. My ouers, ek mis hoe my susters grootword – hulle is nou in Graad 9 – en ek mis my tweelingbroer ook baie.  Maar dit was die keuse wat ek gemaak het en ek moet daarby staan! Ek sal altyd spyt wees dat ek nie saam met my broer kan swot of my susters se kêrels kan wegjaag nie!

Rig jy nog krieket af?  Aan die begin van die jaar het jy gesê jy hoop jy kan alles ingepas kry, tussen swottings, krieketafrigting en die sosiale lewe… het jy dit onder die knie gekry?
Ek pas alles in, maar ek moet eintlik meer tyd by die boeke wees – daar’s nooit genoeg tyd vir alles nie! Dis gym, my meisie, sosiale lewe en afrigting… ek rig nou die eerste span af by die skool; dis meer ure en meer geld!

Wat is die lekkerste deel van studentwees?
Dat mens baie laat kan gaan slaap… en dan kan laatslaap in die oggend!

Wat was die hoogtepunt van jou jaar sover?
Om Tukkies, en die dosente, te leer ken… en ‘n onderskeiding te kry in een van my vakke.

Watter raad het jy vir die nuwe Atterbury beursstudente wat volgende jaar eerstejaars gaan wees?
Maak seker jou studies kom eerste… dan die sosiale lewe! En geniet dit!

Rikus Muller het vanjaar begin met sy LLB aan PUK

Hoe ervaar jy jou eerste jaar as student?  
Dit het ongelooflik vinnig verbygeflits, maar daar is nog eers ‘n eksamen wat voorlê… Sover gaan dit heel goed met die studies; ek kan nie kla nie. Studentelewe is iets anders. Daar is altyd opwinding, iets om te doen en ‘n lekker gees. Behalwe voor ‘n geskiedenistoets…

As jy enigiets omtrent die ervaring kon verander, wat sou dit wees?
Ek sou graag wou gehad het dat daar nie soveel politiek op kampus moet wees nie. Daar is genoeg Engelse universiteite. Los asseblief my kampus soos wat hy is. My taak, my kampus, jou probleem…

Wat is die lekkerste deel van studentwees?
Die lekkerste deelvan studentwees is presies net dit. Studentwees!

Wat was die hoogtepunt van jou jaar sover?
Die hoogtepunt van my jaar was by Thaba-Jäh Manskoshuis se jaarlikse dinee toe ek die toekenning as Beste Opkomende Rugbyspeler van die Jaar gekry het.
Het jy al meer kos leer maak – aan die begin van die jaar kon jy net ‘n eier bak!
Ek maak lekker kos, of dit is ten minste wat my vriende sê!

Jy was ‘n jaar uit studies uit en toe ons laas gesels het, het jy gedink dit sal ’n uitdaging wees om terug in die ding te kom…was dit toe die ervaring?  
Dit is nog steeds ‘n uitdaging om agter die boeke stil te sit en te leer.  Maar sover kom ek nog alles deur so ek kry dit darem reg…

Hoe is die lewe in ‘n kommune, het jy enige lesse daar geleer?
Ek was gelukkig en het saam met drie goeie mense opgeëindig. Ons het goeie vriende geword, vriendskappe wat hopelik nog lank gaan hou.

Watter raad het jy vir die nuwe Atterbury beursstudente wat volgende jaar eerstejaars gaan wees?
Besluit wat jy wil hê in die lewe en maak ‘n plan om by jou doel uit te kom. Moet nie dat die lewe by jou verbygaan nie. Leer hard en werk hard, maar maak tyd on jouself te geniet ook.

Met jou hulp kan Atterbury meer studente soos Altus, Juvan en Rikus die geleentheid gee om verder te gaan studeer. Kliek hier om ‘n skenking te maak.