Alumni2022-10-26T15:23:04+02:00

Die Atterbury Trust het klein begin – net ses beurse is in 1999 toegestaan

Ons onthou elkeen van die eerste groep studente nog duidelik – Carmen, ‘n ambisieuse donkerkop wat by Hoërskool Pretoria-Wes gematrikuleer het. Geld was min en sy het van skooldae af naweke en saans by Medicross sowel as by Price Forbes gewerk. Carmen het haar BCom Rek-graad Cum Laude behaal, STR gedoen en ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester geword. Sy het by Deloitte uitgeblink, in Los Angeles gaan werk vir ‘n ruk en is later as senior konsultant in die forensiese afdeling aangestel. Vandag is sy die trotse ma van twee kinders en gee sy klas vir nagraadse STR studente by Unisa – ’n talentvolle, selfversekerde vrou.

Nog ‘n GR van die klas van 1999, Jacomien, ‘n kranige rooikop netbalspeelster van Hoërskool FH Odendaal, het ook gevorder tot assosiaat by Logista Ouditeure en ook in Boston gewerk. Sy is tans in ‘n senior finansiële pos by die Council on Higher Education en ook ma van ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie.

Christine het vanaf haar tweede jaar sonder ‘n pa grootgeword, was op Hoërskool CR Swart al ’n akademiese uitblinker en lid van die Junior Stadsraad in Pretoria. Na sy haar BA (Hons) in Kriminologie met lof geslaag het sy het vir ‘n tyd in Atterbury se statutêre afdeling gewerk, waarna sy na Adams & Adams toe is.

Riana van der Merwe was ‘n skugter koponderstebo leerling van Hoërskool Elandspoort in Danville. Sy moes op skool by die poskantoor gewerk het vir sakgeld, aangesien daar nie genoeg geld in hulle huishouding was nie. Nadat sy haar BHuishoudkunde Verbruikerswetenskappe by Tukkies in vier jaar voltooi het, kon sy die wêreld vierkantig in die oë kyk.

Ons eerste twee manne was beide Vrystaters – Leslie was op Hoërskool Wilgerivier in Frankfort. Hy het ook sonder ‘n pa grootgeword, maar het reeds op skool op akademies, in sport en redenaar uitgeblink. Leslie het sy BSc Rekenaarwetenskapgraad Cum Laude by die destydse Potchefstroomse universiteit behaal. Stefaans was ‘n plaaskind van Zastron – hoofseun van sy skool en koshuis en ‘n provinsiale rugbyspeler. Dinge het nie so geloop op die plaas nie en geld vir studeer was daar nie. Hy het sy Rekenaar- en Elektroniese Ingenieurswesegraad op die Puk voltooi en werk tans vir Innovative Automation Inc in Kanada.

En so het die jare aangestap… meer as 731 studente het reeds Atterbury Trust beurse ontvang. Daar is vanjaar 96 studente in die beursprogram. Daar loop ‘n goue draad deur die afgelope 24 jaar – ons het soveel behoeftige kinders gesien wat daardie één geleentheid aangryp en dit het hulle lewens en dié van mense naby aan hulle onherroeplik ten goede verander.

Gegradueerdes

Alumni-stories

“Die hoop wat helder geskyn het, tydens ‘n donker tyd in my lewe. Toe niemand in my drome geglo het nie, behalwe ek. Die oorweldigende vreugde dat ‘n droom bewaarheid kan word.”

Natalie Visage

As eerste generasie universiteitstudent, was die vooruitsig van studiekoste maar ‘n swaar een vir my familie. Maar deur ‘n paar wonderwerke van bo, word ek deel van die Atterbury trust familie en met hul hulp, kon ek gemaklik studeer en laasjaar, 2013 my B-graad in Ingenieurswese beërwe. Dankie dat ek deel kan wees van hierdie omgee familie.”

Manrich van Greunen

“As dit nie was vir Atterbury Trust nie, was daar geen manier dat ek kon gaan studeer het nie. Ek is opreg dankbaar vir alles wat hulle vir my gedoen het, dit was meer as net om die fondse te voorsien, dit was ‘n ondersteuningsnetwerk, ‘n plek van inspirasie en motivering en bo dit alles ‘n groep mense wat vas in my geglo het. Dankie vir alles Atterbury Trust! Julle het gehelp om my droom ‘n realiteit te maak!”

Marcel van der Merwe

– BCom Rek Hons STR Universiteit van Pretoria (2012)

“Ek kan nie glo hoe vinnig hierdie wonderlike tydperk in my lewe verbygevlieg het nie! Dit was ‘n onvergeetlike paadjie wat ek kon stap, sekerlik een wat onmoontlik sou wees sonder die hulp en bystand van Atterbury Trust!
Daarmee saam kan ek nie nalaat om die ondersteuning, vertroue en liefde wat Atterbury Trust se mense aan my betoon het oor die jare, uit te sonder nie!
Ek sê opreg, BAIE DANKIE!”

Danie Viljoen

“Atterbury is ’n wonderlike groep mense wat altyd uit hulle pad uit gaan om my studentelewe te vergemaklik en my te ondersteun waar moontlik.”

Madelaine Viljoen, BCom Bemarking (Unisa)

– BCom Kommunikasiebestuur Noord-Wes Universiteit
(2006) en BCom Honneursgraad in Entrepreneurskap Cum Laude (2007)

“Ek sien Atterbury nie slegs as die helpende hand wat aan my die geleentheid gegee het om ‘n B.Com Honneurs-graad te behaal nie, maar ek sien hulle ook as ‘n maatskappy wat uitreik en die ekstra myl loop om ander te help met lewensveranderende geleenthede. Ek is nie alleen dankbaar vir die finansiële bydrae wat Atterbury tot my toekoms gemaak het nie, maar veral vir die mense wat ek deur Atterbury ontmoet het. Hulle voetspore sal altyd deel vorm van my lewenspad. Dit is inderdaad soos hulle sê, “It’s a matter of association…”

Elrinda Breydenbach

“Aan my Atterburyfamilie, baie dankie vir die ondersteuning, geduld, hulp en omgee hierdie jaar – sonder julle sou niks van hierdie moontlik gewees het nie.”

Wiehan Fourie BCom Hons Entrepreneurskap Cum Laude (UP)

“Ek is een van die gelukkige studente wat, as gevolg van Atterbury Trust, die geleentheid het om te kan studeer.

Atterbury is ‘n wonderlike groep mense wat altyd uit hulle pad uit gaan om my studentelewe te vergemaklik en my te ondersteun waar moontlik.

Van opwindende kampe, Gro-sessies met Leonie tot die lekkerste jaarfunksies, waar net die beste altyd vir ons voorgesit word, kan ek nie vir beter vra nie. Elkeen van die Atterbury-familie speel ‘n unieke rol en ek is trots om te kan se ek is deel daarvan.

Dankie Atterbury vir al die oop deure en geleenthede! Ek sou dit nie sonder julle kon doen nie!”

Madeleine Viljoen

Title

Go to Top