Amper 12 000 gebruikers op die VivA webwerf, meer as 40 400 mense wat die VivA app afgelaai het… VivA het vir duisende mense verander hoe hulle omgaan met taalnavrae. Ons het met bestuurshoof Marlie Coetzee gesels oor waar VivA staan en waarna ons kan uitsien…

Vertel ons meer van die verbintenis tussen Atterbury Trust en VivA?
VivA het in samewerking met die Atterbury Trust twee apps ontwikkel: vir slimfone, tablette en rekenaars met Windows 10 ’n gratis aanlyn en vanlyn app wat dieselfde oopbron- en betaalinhoud as die Woordeboekportaal bied. Binne ’n jaar is dié twee VivA-apps, vir iOS- en Android-toestelle en Windows 10-rekenaars, reeds meer as 40 000 keer afgelaai. Gebruikers het dus met die app soveel as 60 Afrikaanse woordeboeke en woordelyste altyd byderhand; letterlik in jou sak of in jou hand.

Wat het julle oor die afgelope jaar geleer?
Dis interessant dat die helfte van die mense wat die webwerf besoek, dit via hulle selfoon doen.. Ons is dankbaar dat die platform reeds so bekend is dat bykans die helfte, 48% van die gebruikers, direk na ons webwerf kom. Ons weet ook dat as iemand eers een keer die VivA-webwerf gebruik het, hulle baie waarskynlik gereelde gebruikers gaan word – 60% van die VivA gebruikers is herhalende besoekers.

Het julle baie gebruikers buite Suid-Afrika se landsgrense?
Daar is ’n gesonde klompie; die meeste van hulle is in Namibië, net so oor 1 100 nou, en die grootste ander groepe is in Amerika (86 gebruikers), Nederland met 86, Australië met 86 en Brittanje met 84. Die getalle neem maand na maand toe.

En waarna soek mense die meeste?
Baie, breek en leer…Dalk omdat baie in SMS-taal soms as bja gespel word. Dit lyk ook of mense sukkel om breek van breuk en leer van leër te onderskei. Ons podsendings is ook gewild – ons het twee kanale, VivA Afrikaansjoernaal en die AWS-reeks, en die luisteraartalle groei flink –  daar is nou amper 6 000 luisteraars.

Die webwerf het ook heelwat ander inligtingsbronne op, met skakels, videos en die adviesportaal. Vertel ons meer hiervan?
In die Woordeboekportaal is daar reeds 47 raadpleegbare woordeboeke en terminologielyste; onder meer ’n Afrikaanse tesourus, ’n voorsetselwoordeboek, en ’n verskeidenheid vakwoordeboeke en -lyste. Ons het ook die volledige Woordelys, lys van afkortings en simbole, en lys van buitelandse geografiese name met afleidings van die nuutste Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Daar is artikels van digby 700 000 trefwoorde volledig gratis. Dié naslaanversameling word gereeld aangevul. En naas die gratis inhoud stel kommersiële uitgewers vir intekenaars nóg 10 woordeboeke op die VivA-platform beskikbaar, onder meer die 2015-uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6), die 14 voltooide boekdele van die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), die Longman Dictionary of Contemporary English (LDOCE), Tom McLachlan se HAT Afrikaanse Taalgids en drie skoolwoordeboeke.

Wat is die korpusportaal?
Dis waar groot teksversamelings gehuisves word, soos onder meer die Taalkommissiekorpus; fiksiekorpusse van Protea Boekhuis en LAPA Uitgewers; ’n RSG-nuuskorpus; en die volledige Afrikaanse Wikipedia. Tans is daar altesaam nege korpusse wat saam meer as 150 miljoen woorde uit meer as 172 miljoen eietydse Afrikaanse tekste beslaan! Ook dié versameling word deurentyd aangevul. In die afgelope jaar alleen is meer 64 miljoen woorde bygevoeg. Die korpusse word druk geraadpleeg deur taalkundiges en studente wat oor Afrikaans navorsing doen, asook deur taalwerkers, wat naspeur hoe verskillende woorde in konteks gebruik word.

Julle het ook ’n interne taalghoeroe, Sophia Kapp, op die span wat die adviesportaal beman. Hoe besig word sy gehou?
Behalwe dat Sophia VivA se taalnavraagdiens behartig, is sy ook lid van die SA Akademie se Taalkommissie, en sy skakel ook met onderwysdepartemente, skole, onderwysers en leerders. Sy het in die laaste 12 maande meer as 2 000 taalnavrae hanteer – sowat die helfte van hulle per epos, maar baie mense stuur direk via WhatsApp hulle vrae aan haar!

Het julle enige nuwe planne in die mou? Waarvoor moet ons op die uitkyk wees?
Ons werk aan ‘n aantal nuwe hulpbronne wat eersdaags beskikbaar sal wees, onder meer ’n Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG), vir onderwysers en voorgraadse studente; ’n taalonderrigportaal (TOP), in aansluiting by die skoolkurrikulum (KABV) vir Afrikaans; ’n Woordeboek van Eietydse Afrikaans (WEA), wat bestaande handwoordeboeke sal aanvul; ’n uitspraakwoordeboek, vir professionele sprekers, uitsaaiers, onderwysers; enigiemand wat sukkel om Afrikaanse woorde uit te spreek; en ook ’n spraakkorpus vir navorsing. Besoek die Viva webwerf by https://viva-afrikaans.org/, en die podsendingskanale by https://viva-afrikaans.org/lees-luister/podsendings.

Enigiemand wat oor die spelling van ’n woord twyfel, of worstel met ’n taalgebruikstoffie waarvoor die Woordeboekportaal-app nie ’n oplossing bied nie, is welkom om’n e-pos  na [email protected] te stuur, of ’n WhatsApp-boodskap na 062 126 0295. Die diens is heeltemal gratis.