Een goeie gebaar lei na ’n volgende, en dit is een van die mees bevredigende aspekte van die werk wat die Atterbury Trust doen. Soos die Trust se werksaamhede uitbrei, kry ons meer en meer weldoeners aan boord wat ook wil help. By die byna jaaroue Triomfkliniek sien ons dit maandeliks gebeur.

Toe ons in Februarie gaan loer het, het klinieksuster Adelene Boshoff vertel dat hulle vol hoop was dat ‘n tandarts binnekort deel sou vorm van die dienste wat aangebied word vir Danville se mense. En skaars vier maande later rapporteer sy dat die Triomf-tandarts, Dr Jonker Seymore, reeds propvol bespreek is vir al sy Triomfdatums in Junie, September en Desember. Dis nou tussendeur die besoeke wat hy aan skole in die omgewing doen met sy mobiele kliniek. Ons is egter steeds op soek na nog ‘n tandarts (met ‘n stoel!), aangesien die behoefte onder veral die kinders baie groot is.

Sedert die begin van die jaar is daar reeds vier  dermatologieklinieke gehou. Die volgende oor- neus- en keelkliniek van Dr Gerrie Moolman gebeur in September. Pasiënte met ginekologiese kwale het reeds gebaat by twee ginekologieklinieke deur Dr Liz Erasmus, en die volgende een vind in Augustus plaas. Rumatologiepasiente word gehelp met behulp van Muelmed.

‘n Totaal van 248 pasiënte is sedert die kliniek 11 maande gelede oopgemaak het, behandel deur ons wonderlike engelspan van dokters, spesialiste en medewerkers wat hulle tyd vrywillig afstaan om te help sonder vergoeding.  Benewens die spesialisklinieke wat kwartaalliks gebeur, is Prof Steve Rossouw en Dr Tommie Swart weekliks en tweeweekliks in die kliniek aan diens om algemene kwale en kwale wat interne geneeskunde benodig, te behandel. Ons is egter steeds druk op soek na meer vrywilligerdokters, aangesien ons baie graag ‘n algemene praktisyn op ‘n weeklikse basis daar wil hê.

20140808_114742

Die ander groot behoefte op die oomblik, aldus Suster Adelene, is ‘n gereelde oogkliniek. “Daar is ‘n waglys van sowat 30 pasiënte, en ons het ‘n onderneming van Dr Meyer dat ons binnekort oogdienste sal kan aanbied.” Ons is ook op soek na donateurs vir die material wat benodig word.

Medicross Pretoria-Wes, wat regstaan om X-strale gratis te neem, is een van Triomf Kliniek se gewaardeerde medewerkers. “Die dokter hier sal die pasiënt verwys, hulle sal gaan vir die X-strale, en die verslag word na ons gestuur vir opvolgbehandeling,” vertel Suster Adelene. Cansa is ook steeds gereeld by as die kwartaallikse dermatologiekliniek plaasvind, en lewer ook hulle dienste gratis.

“Almal wat oor ons drumpel kom, is so dankbaar. Hul vertel my gereeld dat hulle op Facebook by vriende hoor van die ‘wonderlike kliniek’, en dat dít is hoe hulle by ons uitkom,” sê die suster.

Een van die mees hartroerende pasiëntestories van die laaste rukkie, was dié van Carel*, ‘n man in sy vroeë 40s wat ly aan Huntington se siekte, ‘n ongeneeslike neurodegeneratiewe siekte. “Hy is al ver heen, en het iewers in ‘n agterplaas in ‘n kamer gebly by mense wat nie na hom kon omsien nie, terwyl sy toestand al hoe meer versleg het. Daar is geen behandeling vir die siekte nie, maar toe hy onder ons aandag gekom het, het Prof Steve en Dr Tommie al die nodige gedoen om vir hom ‘n plek van versorging te vind. Ons is bly dat hy nou permanent in Huis van Rensburg in Danville opgeneem is, waar hy met waardigheid behandel sal word. Dis ‘n hartseer storie, maar een met die beste moontlike uitkoms vir die pasiënt, en ons is bevoorreg dat Triomf Kliniek kon help,” vertel Suster Adelene.

*Naam verander vir privaatheidsdoeleindes.

Kliniekskedule:

  • Algemene praktisyn: Elke tweede Maandag 09:00. Bel vir ‘n afspraak.
  • Internis: Elke Donderdagmiddag 13:00. Hier word gekyk na bloeddruk, diabetes, niere, longe, hart en fisiologie van die liggaam. Bel vir ‘n afspraak.
  • Ginekoloog: Elke drie maande. Bel vir ‘n afspraak.
  • Rumatoloog: Een keer per maand. Bel vir ‘n afspraak.
  • Dermatoloë: Elke drie maande, die drie dokters wissel mekaar af, en Cansa is ook betrokke. Skakel vir afspraakdatums.
  • Oor- Neus- en Keelspesialis: Elke drie maande, skakel vir afspraakdatums.
  • Tandarts: Elke drie maande, bel vir afspraakdatums.
  • Kontak: Vir meer inligting kontak Adelene Boshoff by die kliniek op 012 327 7818.

Donasies:
Atterbury Trust,
Bankbesonderhede: Nedbank
Rekening: 1497004187
Takkode: 149745
Verw: Triomfkliniek