Twee bestuurslede van Aros, ʼn Afrikaanse, private, Christelikehoëronderwysinstelling wat onderwysers oplei, het onlangs die Universiteit van Oos-Finland besoek om meer oor dié land se onderwys en die opleiding van onderwysers te leer, berig Maroela Media.

Finland is wêreldwyd bekend vir ʼn moderne en toekomsgerigte onderwysstelsel. Die onderwysprofessie word hoog geag in dié land waar die skooldae korter is, kinders minder toetse skryf en die fokus veral op kuns, musiek, taal en beweging lê.

Die betrokke universiteit het die grootste opvoedkunde-fakulteit in Finland en is ingestel op moderne opleiding van onderwysers. En aanvraag is hoog… net ongeveer 10 persent van aansoeke om onderwys te studeer aan dié universiteit word aanvaar. Die universiteit het ongeveer 15 000 studente en word wêreldwyd as een van die 300 top-universiteite in verskeie vakgebiede gelys. Die opvoedkunde-fakulteit is in Joensuu, 400 km noordoos van Helsinki, geleë.

Aros se akademiese hoof, Dr Morné Diedericks, en uitvoerende hoof, Niclaas Roets, het ʼn drie-dag kursus aan die universiteit voltooi, wat gehandel het oor die suksesse wat gelei het tot die gehalte van die Finland se onderwysstelsel.

Die doel van die besoek, vertel die twee, was om lesse te leer oor die verbetering van praktiese onderwys sodat opleiding hier in Suid-Afrika in pas kan bly met beste praktyke. “Ons wou ook hoor van die nuutste pedagogiese grondslae wat Finland gebruik en aan hulle studente oordra. En dan het ons ook die moontlikheid van toekomstige samewerking met die Universiteit van Oos-Finland ondersoek.”

Die Aros-afvaardiging het die kursus besonder waardevol gevind omdat hul eerstehands kon ervaar hoe die universiteit die praktiese opleiding van onderwysstudente struktureer. “Dit was ook geweldig leersaam om te sien hoe die universiteit dink oor die samestelling van sy kurrikulum en die leerruimtes van studente en leerlinge.”

Aros gaan tans deur sy eerste herkurrikuleringsproses en talle van die relevante aspekte gaan in die nuwe kurrikulum ingewerk word, vertel die twee, en beaam ook dat besoek ʼn goeie verhouding tussen Aros en die universiteit gevestig het.  “Ons kan in die toekoms saamwerk deur byvoorbeeld uitruilprogramme tussen studente aan te bied, en ook deur moontlik aan Aros-dosente die geleentheid te bied om gratis in te skryf vir verdere studie aan die Universiteit van Oos- Finland.

Hul vertel dat die Universiteit van Oos-Finland se bestuur groot belangstelling getoon het in Aros se unieke opleidingsmetodiek; en dat personeel van die universiteit ook in die nabye toekoms in Suid-Afrika by Aros sal kom besoek aflê.

Voornemende onderwysstudente kan reeds aansoek doen vir hul studie in 2019 by Aros. Besoek Aros.ac.za (http://www.aros.ac.za) vir meer inligting.

 Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.com verskyn.