Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en sy vennote bied hierdie jaar nog ʼn geleentheid aan die Afrikaanse taalgemeenskap om hulle mooigoed, ougoed, hougoed en familiegoed vir ons te stuur.

Die kompetisie begin amptelik op 1 Maart 2017 en loop ten einde op 30 November van hierdie jaar. Daar is weer twee kategorieë: Sêgoed, vir nuwe woorde en uitdrukkings, en die Skolekompetisie, waar leerders grafiese voorstellings van woorde of uitdrukkings kan inskryf.

In die Sêgoed-kategorie kan enige gebruiker enige woord of uitdrukking inskryf wat nog nie in ʼn woordeboek of in ons databasis opgeteken is nie. Gaan bloot na varsgebek.org, maak seker jy is as ʼn VivA-gebruiker geregistreer, gaan na dat jou inskrywing is nie reeds in ʼn woordeboek opgeneem nie, en siedaar! Jy het ʼn kans om ʼn Samsung-tablet ryker te word. Daar is elke maand een van hierdie tablette op die spel, en die algehele wenner, wat in Desember deur ʼn gebruikerstemming aangewys word, kry ʼn heerlike vakansiebonus van R7500.

Ons ander kategorie, die Skolekompetisie, is oop vir skoolleerders in enige graad. Hulle moet ʼn grafiese voorstelling (video, prent, meem, film of enige ander uitbeelding) van ʼn nuwe of bekende woord of uitdrukking instuur. Daar is elke maand R5000 op die spel, maar een gelukkige graad 11- of 12-leerder kan aan die einde van die jaar ʼn studiebeurs van R150 000, geborg deur Atterbury Trust, losslaan. Die wenner se skool kry ook R10 000, die wenner se onderwyser kry R2 500 en die skool met die meeste inskrywings kry R5000.

Verlede jaar het ons die wonderlikste inskrywings gekry wat ons opnuut oortuig het van die lewenskragtigheid en uitdrukkingsvermoë van ons taal, én van taalgebruikers se skeppingsvermoë en taalkreatiwiteit. Al die inskrywings met meriete is in ons databasis opgeteken en is nou beskikbaar vir gebruik deur die hele taalgemeenskap. Ons sal graag hierdie jaar dié tradisie wil voortsit – ons weet daar is nog baie taaljuwele, veral in variëteite soos Kaaps, studentetaal en Oranjerivierafrikaans wat behoue moet bly.
Neem deel, skryf in, en bou saam aan Afrikaans!

Vir meer inligting, skakel met Sophia Kapp by [email protected] of 084 880 8805

viva-afrikaans.org