Die afgelope naweek het Afrikaans op die internasionale verhoog geskitter, toe die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (A.K.A) in Amsterdam plaasgevind het, skryf Maroela Media http://maroelamedia.co.za/ op hul webwerf.

Drie dae vol musiek, letterkunde, debat en kuns met Suid-Afrikaanse bekendes soos Jack Parow, Leslie Javan, Francois van Coke en Emo Adams het die Nederlandse hoofstad in ’n fees vir Afrikaans-liefhebbers verander. Feesoptredes is versprei tussen die Compagnietheater, Melkweg, Zuid-Afrika Huis en Rialto.

Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam se doel is om Afrikaans aan Nederlanders en Vlaminge bekend te stel. “Die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands bied ’n pragtige ruimte aan mense om op taalgebied met mekaar kontak te maak en lekker te gesels oor die ooreenkomste én verskille tussen die tale,” het die organisasie vooraf in ʼn verklaring gesê. “’n Ander doel van die fees is om bekende en onbekende Afrikaanse kunstenaars ’n verhoog in die buiteland te bied waar hulle in Afrikaans kan optree. Die program van die fees weerspieël verder die diversiteit van gemeenskappe wat Afrikaans as eerste, maar ook as tweede of derde taal praat.”

Die fees is gekenmerk deur sy diversiteit, veral wat musiek betref. Verskeie genres vanaf hip-hop en blues tot jazz en klassieke musiek kon tussen 8 en 10 April regoor die stad gehoor word. En hoewel musiek ʼn hoogtepunt was, het die fees ook letterkunde en debatte vir taalliefhebbers aangebied met skrywers soos onder andere Antjie Krog, Ingrid Winterbach en Bettina Wyngaard wat deelgeneem het. Afrikaanse films soos Faan se Trein, Ballade vir ’n Enkeling, en Dis ek, Anna, is vertoon en verskeie lesings is aangebied, onder andere Deon Maas s’n oor “Musiek as Aktivistisch Hulpmiddel” en Bart de Graaff s’n oor Nama verhale. Daar was ook geleentheid vir gesprek en debat oor onderwerpe soos meertaligheid, Afrikaans in die spervuur en Nederlandse vertalings van Afrikaanse boeke in Nederland. Die fees het soos elke jaar baie internasionale gaste getrek en het weer vanjaar diverse sprekers en kultuurleiers uit Suid-Afrika en Namibië bekendgestel.

Vir meer oor die fees, insluitend videos van sekere van die optredes, besoek Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam se Facebook-blad. En daar is meer – eerskomende Saterdag deel Laurinda Hofmeyr die verhoog met Breyten Breytenbach, so nooi gerus enige Nederlandse vriende om by hulle aan te sluit. (https://www.facebook.com/Festivalvoorhetafrikaans.Nederland/timeline).

Klik hier https://www.youtube.com/watch?v=ZkK9LSdn17s vir  ’n video waarin Francois van Coke, was ook opgetree het, gesels oor sy ervaring van Amsterdam en die stand van Afrikaans.