Gedink ou honde kan nie nuwe truuks leer nie? Wel, Afrikaans kán. Sy is 91 jaar oud en is gedurig besig om te vernuwe en te transformeer. Haar arms is lank, haar boesem is groot: daar is plek vir almal, skryf Annelize Jansen van Rensburg op Maroela Media se webwerf. Hier is ‘n handvol redes om van Afrikaans te hou…

1. Afrikaans.com – www.afrikaans.com (http://www.afrikaans.com)
Alle paaie van en na Afrikaans kom bymekaar by hierdie splinternuwe bielie van ʼn webtuiste met inligting oor en skakels na alles wat jou Afrikaanse hart begeer. Lees hier oor feeste, organisasies, die Taalwet, ʼn woordspeletjie, inligting oor boek-toepassings vir kleuters, blogs, stories, sêgoed, Afrikaans in die sakewêreld en taaldebatte. As iets in Afrikaans gebeur, gaan jy dit hier vind.
Hulle is tans besig met die veldtog Hoe lyk JOU Afrikaans? Stuur inskrywings in die vorm van foto’s, stories, klankopnames/videos of enigiets unieks om te wys hoe jou Afrikaans lyk en wen dalk ʼn prys. Besoek die webtuiste vir meer inligting.

2. Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) – www.atkv.org.za (http://www.atkv.org.za)
Die ATKV is deel van Afrikaanssprekendes se DNS en kan beskryf word as die steunpilaar van die Afrikaanse taal en kultuur. Hulle is al vir 86 jaar lank op verskeie terreine van die samelewing betrokke by projekte en organisasies om Afrikaans te bewaar en uit te bou, hetsy as beskermheer, borg, vennoot of op ʼn direksie. Van hul projekte behels die immergewilde redenaarskompetisies, ʼn spelathon, olimpiades, kinderboektoekennings en gedigtekompetisies. Daar is ook ʼn projek wat fokus op die bevordering van Afrikaans in Soweto. Sluit aan teen ʼn billike fooi as lid om afslag by hul vakansieoorde te kry, asook ʼn kwartaallikse gratis tydskrif van topgehalte, die Taalgenoot.

3. Afrikaanse Wikipedia – www.af.wikipedia.org (http://www.af.wikipedia.org)
Maak gerus deurstoppers van jou ou ensiklopedieë, want al daardie inligting is nou aanlyn op Wikipedia beskikbaar. Die Afrikaanse Wikipedia vorder fluks met reeds meer as 41 000 artikels wat deur vrywilligers geskryf is. Indien die inligting waarna jy soek, nog nie in Afrikaans beskikbaar is nie, skryf sommer self ʼn artikel. Jy kan ook bestaande artikels vertaal of wysig. Maroela Media het ʼn inligtingsvideo wat jou wys hoe om dit alles te doen. Doen navraag by www.maroelamedia.co.za.

4. Beter Afrikaans – www.beterafrikaans.co.za (http://www.beterafrikaans.co.za)
Diegene wat op skool uitgeblink het in spel- en grammatikatoetse, sal hierdie blad waardeur. Nee, nie waardeur nie, waardéér. Toets hoeveel taal- en spelkennis jy nog het, poets jou bestaande kennis of leer iets nuuts deur daagliks ʼn kort aanlyn toets in te vul. Jy kry jou resultate dadelik en jy kan dit meet aan die gemiddeld van ander spelers. Daar is verskillende moeilikheidsvlakke. En niemand hoef te weet van jou foutjies nie.

5. Die tale wat ons praat. Radio – www.rsg.co.za (http://www.rsg.co.za)
Taalkundiges deel hul kennis op ʼn manier wat meer klink na jou oupa se lekkerluisterstories as taallesse. Hierdie halfuurlange radioprogram op RSG Sondagoggende om elfuur is gans te kort, want nes jy lekker luister na antwoorde op luisteraars se taalnavrae, aktuele taalsake, die oorsprong en herkoms van woorde en korrekte taalgebruik, dan is dit verby. Gelukkig is dit op RSG se webtuiste as potgooie beskikbaar om weer te luister.

6. Facebook – Afrikaanse graffiti op virtuele mure.
Daar is vele virtuele sitkamers waar jy in en oor Afrikaans kan gesels, raad oor taalkwessies kan uitruil, giggel, skinder en soms vurig debatteer. Onthou, op sosiale media moet jy jou woorde tel en jou sensitiewe vel bêre. Besoek gerus die volgende groepe: Taalgoggas en Balbyters (taalsake), Carpe Noctem (vir poësieskrywers), Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool! (ou sêgoed word onthou), Radiorillers en Groepgruwels (as jy wil skinder oor ander se taalgebruik), Taaltameletjies (vir akademici) en Lekkerlees Boekrak (bespreek boeke).

Vir nog redes om van Afrikaans te hou, lees die res van die artikel hier: http://maroelamedia.co.za/debat/briewe/aksie-in-afrikaans/