Die nuus dat die nuut gestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) ’n inisiatief begin om Afrikaans as onderrigtaal op skool te red, kom besonder geleë, skryf die historikus en onafhanklike politieke kommentator Leopold Scholtz op Maroela Media se webwerf.

Moenie fout maak nie, as Afrikaans wil oorleef as iets meer as bloot ’n kombuistaal, sal dié inisiatief moet slaag.

Op my gereelde besoeke aan Suid-Afrika hoor ek gereeld mense wat die – holrug geryde en dikwels weerlegde – standpunt verkondig dat Afrikaans sal oorleef solank mense hom praat.

Akkoord. Maar daar is twee verwante antwoorde daarop.

Ten eerste: Op welke vlak wil jy hê dat die taal gepraat word? In die kombuis en op straat? En wat van op kantoor? In die hof? Die parlement? Op radio en televisie? Koerante en boeke?

Wat van die klaskamer? Moet ek my naskoolse opleiding in Afrikaans kan ontvang? Moet die kindertjies wat op ses jaar skool toe gaan, in ’n vreemde taal leer reken en skryf?

Dis hier waar die tweede teenargument inkom. Internasionaal is ’n indrukwekkende hoeveelheid akademiese navorsing gedoen oor die groei, bloei, agteruitgang en sterfte van tale. Gaan kyk byvoorbeeld – daar is talle ander – na die webwerf van die Foundation for Endangered Languages (http://www.ogmios.org/index.php), waar die probleem baie onemosioneel en nugter ontleed word.

Volgens taalsosioloë word taal meestal op vyf vlakke gebruik: Tuis (waar taaloordrag van een geslag aan ’n volgende plaasvind), op handelsvlak, op owerheidsvlak, op kultuurvlak (skrywers, dramaturge en digters), en onderwys (met inbegrip van akademiese navorsing).

In Suid-Afrika het Afrikaans op handels- en owerheidsvlak byna volledig verdwyn. Op onderwys- en akademiese vlak gaan dit vinnig die kreeftegang. Op kultuurvlak blom dit nog, danksy die belegging van vorige geslagte. En tuis vind jy ook dat steeds meer Afrikaanse ouers meen hulle kinders moet Engels word sodat hulle vir ’n oorwegend Engelse omgewing voorberei word. Die oorlewing van ’n taal kan aan verskeie voorwaardes gekoppel word.

Byvoorbeeld, hoe meer mense ’n taal praat, hoe groter is die kans dat hy sal oorleef. Maar as hy ’n minderheidstaal in ’n taalvyandige omgewing is, verminder dit sy oorlewingskans. As die taal op al vyf vlakke behoorlik gebruik word, styg sy kanse. Hoe minder funksies in die praktyk oorbly, hoe kleiner word dit.

Dis oorwegings wat nie sommer uit my duim gesuig word nie; dis ’n besonder kort opsomming van letterlik honderde boeke en akademiese artikels. Dit staan op pote en kan nie betwis word nie.

Hieruit is dit duidelik dat Afrikaans nog ver van ’n finale roggeldood is. Maar as sake nie omgekeer word nie, is hy onherroeplik op pad daarheen, al kan dit nog etlike geslagte duur voordat die laaste bejaarde Afrikaanssprekende – heel waarskynlik ’n bruin persoon op die afgeleë platteland – sy laaste asem uitblaas.

Die punt is: ons moet nóú ’n einde aan die kreeftegang maak. Dit sou natuurlik enorm help as ons ’n regering het met respek vir die Grondwet waarin ons taalregte erken word. Maar ons het nie.

Die regerende party staan, op sy slegste (Panyazi Lesufi!), aktief bitterlik vyandig teenoor Afrikaans; op sy beste onverskillig. Ons konstitusionele hof, die hoogste arbiter oor die Grondwet, het ’n meerderheid regters wie se afkeer in Afrikaans hul vermoë om dié dokument suiwer te vertolk, volkome oorheers.

Daar is nog ’n paar hofsake oor Afrikaans as onderrigtaal wat wag (die een oor Stellenbosch se taalverraad is een), maar ek het geen besondere hoop op sukses nie, in elk geval nie as die saak ’n draai by die konstitusionele hof maak nie. Daardie hof, wat die regstaat moet beskerm, het veral met sy uitspraak oor die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid dieselfde regstaat ’n heftige hamerhou toegedien.

Nee, moenie enige hulp hoegenaamd van enige owerheidsinstansie verwag nie. Selfs nie eens van die grootste opposisieparty, die DA, nie. Onder Mmusi Maimane het die party toenemend ’n rigting ingeslaan wat nie daarop dui dat hy gewillig is om Afrikaans te help beskerm nie.

Wat bly oor? Afrikaanssprekendes sal, soos ná die Anglo-Boereoorlog, sélf die wa deur die drif moet help.  Dís waaroor die aankondiging oor Afrikaanse onderwys gaan. Dr Theuns Eloff, die belangrikste inisiatiefnemer, het tereg verwys na die volledige pyplyn – van graad 1 tot by naskoolse opleiding – wat in Afrikaans beskikbaar moet wees. Dit maak nie sin om slegs enkele skakels van die ketting in ons taal te hê nie; die héle ketting moet Afrikaans wees.

As ons die onderwys beveilig het, sal ons die ander vlakke waarop taal gebesig word, soveel moontlik vir toegang in Afrikaans moet verseker. Dis ’n kwessie van jou moue oprol en sélf inisiatief neem; die apartheidstyd het ons sag en afhanklik van die owerheid gemaak.

Maar daar is een nuwe voorwaarde waaraan ons onverbiddelik sal moet voldoen. Ons sal kleur – wit kleur, om presies te wees – van Afrikaans moet ontkoppel.

Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin, en daar is selfs tienduisende swart Afrikaanssprekendes. As historikus verstaan ek hoe en waarom dit gebeur het, maar met die voordeel van agternakennis was dit ’n strategiese fout om Afrikaans eksklusief vir die wit Afrikaners toe te eien. Daarmee het ons miljoene Afrikaanse taalgenote (al is hul Afrikaans nie altyd heeltemal dieselfde as ons s’n nie) van ons en ons gemeenskaplike taal vervreem.

As ons hulle bly uitskakel, gee ons ’n dodelike argument op ’n skinkbord aan Lesufi en sy medehaters van Afrikaans. Ons sny eenvoudig ons eie kele af. Dis enige tyd net so rampspoedig vir die oorlewing van die taal as Stellenbosch en ander gewese Afrikaanse universiteite hul eie taal in die rug steek.

Nee, ons sal die bruin mense by die saak moet betrek. En ons sal dit moet doen op ’n manier wat erkenning gee aan hul anderse agtergrond, aan die feit dat hulle Afrikaans nie deur ’n Afrikaner- nasionalistiese bril bekyk nie, dat hulle nie betrokke wil wees by ’n “Boereding” nie.

Dit kan van die Afrikaners seermaak, en ek verstaan dit. Maar daar is iets belangriker op die spel.

Terselfdertyd moet die bruines – en ek sê dit in alle liefde – ontslae raak van hul komplekse (hang-ups) oor die Boere en Afrikaans. Ons het dieselfde moeder. As sy sterf, is ons álmal weeskinders.

Hierdie opiniestuk het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.