Die sesde jaarlikse Afrikaans is Groot konsertreeks het pas weer die balke gelig by Moreletapark Ouditorium met agt massiewe konserte oor ’n tydperk van drie weke. Ons het agter die skerms gaan loer saam met vervaardiger en regisseur Barry Pretorius.

Hoe het Atterbury Trust by Afrikaans is Groot (AIG) betrokke geraak?
Ons het Atterbury so twee jaar gelede gekontak om betrokke te raak as borg. AIG is die grootste Afrikaanse geleentheid wat jaarliks in die land aangebied word, en omdat Atterbury so ’n sterk voetspoor in Pretoria het, het dit sin gemaak. AIG is baie duur om aan te bied, so ons is heeltemal afhanklik van borge soos Atterbury Trust, wat graag belê in ons taal en in die Afrikaanse kultuur.

Wat was vanjaar se hoogtepunte?
Ek het die konsert aanmekaargesit – ek kan nie een kind voortrek nie! Maar oorkoepelend dink ek die groot teatrale nommers wat amper soos ouskool “musicals” was, met baie rekwisiete en dansers, het die “wow” oomblikke geskep. Dit gaan oor die musiek, en dit is wat AIG spesiaal maak. Die songs is net so lekker, en daar is verskillende genres, van pop tot alternatief en rock, selfs ’n bietjie country… om almal mee te sleur.

Het julle vanjaar enigiets anders gedoen as verlede jaar?
Ek dink daar was meer substansie as in die verlede; al is dit ’n show van treffers, het dit het nie net gegaan oor ligte kommersiële popmusiek nie. En wat die aanbieding betref, is dit elke jaar natuurlik anders, en om die verhoog en al die elemente daarvan te bou was soos ’n legkaart. ’n Deel is in Doebai aanmekaargesit, ’n ander deel in Holland, nog een in Duitsland… wat die tegniese aspekte betref, vergelyk AIG nou met vertonings in Las Vegas of New York. Vir een nommer het ons ’n donderstorm met reën op die verhoog geskep, regte egte water wat uitsak oor die verhoog! Die vervaardigers van X Factor in Londen het ons met die logistiek daarvan gehelp…

Hoeveel kaartjies in totaal verkoop?
Daar was net meer as 80 000 kaartjies verkoop! Die kaartjieskantoor het in Maart oopgemaak en alles is binne twee dae uitverkoop. Die verkeer op die webwerf het gewys dat die aanvraag van so ’n aard was, dat ons 300 000 kaartjies sou kon verkoop. Ons het ’n maand voor die tyd nog twee konserte bygevoeg om ’n ekstra 15 000 mense te akkommodeer. Ek het onlangs verneem dat net Justin Bieber en Lady Gaga se konserte groter aanvraag na kaartjies gehad het as AIG!

Wat is die grootste uitdagings om so ’n groot show aan te bied?
Wel, uit die oogpunt van ’n regisseur, is dit om die vlak van die vermaak heeltyd te verbeter. Dis ’n uitdaging om elke keer vindingryk te wees en met nuwe konsepte en nuwe kreatiewe idees vorendag te kom. Maar ons kry dit elke jaar reg, en ek glo dit is omdat dit vir niemand net ’n werk is nie. Ja, AIG is ’n besigheid, maar almal wat betrokke is, het ’n ontsettende liefde vir musiek en vir Afrikaans. Ons bestee letterlik maande om idees te ontwikkel en te poleer, ons konsulteer met die kunstenaars om vir hulle spesifieke gehore presies te probeer gee wat hulle die meeste sal “wow”.

En op tegniese vlak? Wat is die onvoorsiene krisis waarvoor julle die bangste is, en hoe berei julle daarop voor?
Ons het tegniese planne vir alles en vir elke moontlike ding wat kan gebeur. Drie stelsels loop heeltyd terselfdertyd, sodat as iets verkeerd gaan met stelsel een, kan stelsel twee soomloos oorvat sonder enige onderbrekings. Ons gebruik byvoorbeeld glad nie Eskom krag nie, omdat ons nie kan kanse vat met onderbrekings nie, so daar is verskeie 10 000 liter diesel-generators wat die hele vertoning van krag voorsien.

Hoekom juis Moreletapark Ouditorium?
Dit is die grootste teater in die land, en kan 7 500 mense akkommodeer; en dis ook baie sentraal vir mense van regoor Gauteng. As jy van ver af inry vir een van die middagkonserte kan jy die aand weer terug huis toe ry.

Wat is volgende vir Afrikaans is Groot?
Ons gaan volgende Maart vir die eerste keer Kaap toe, met presies dieselfde konsert en dieselfde kunstenaars. Dit gaan plaasvind by Grand West Casino se 5 000-sitplek teater, en ons gaan drie vertonings hou. Kaartjieverkope sal volgende week oopmaak.

AIG IN SYFERS:

Aantal kaartjies verkoop: 80290

Aantal kunstenaars: 21

Aantal liedjies: 32

Aantal grimeerkunstenaars agter die skerms: 8 en 5 haarstiliste

Aantal mense aan diens agter die skerms by elke konsert: 352

Aantal mense in die orkes: 20

Volgende Afrikaans is Groot konserte: 17 en 18 Maart, by Grand West Casino in Kaapstad.