Afrikaans in die “Cloud”

Afrikaans in die “Cloud”

Die dramaturg Deon Opperman was onlangs ’n gas by die Atterbury Teater om te gesels oor sy trilogie Donkerland, Hartland en Kruispad, as deel van die viering van die 75ste bestaansjaar van Pretoria se Mabel Malherbe Leeskring. Die gesprek het gedraai by die kwaliteit van Afrikaanse dramas, en die “angry young man” van Afrikaanse teater het gelamenteer oor hoe min werklik goeie werk dit tot op die planke maak. Afrikaans is Atterbury se hart se punt, en ons het agterna verder met hierdie mede-liefhebber gesels oor wat ons almal te doen staan…

Een van die punte wat jy aangeraak het, is dat dit so sukkel om sitvlakke op sitplekke te kry vir kwaliteit-dramas in Afrikaans, terwyl kommersiële vermaak gedy. Wat is jou gedagtes rondom hoe mens die aanvraag na kwaliteit-produksies kan verhoog?
Dit grief my dat gehore bereid is om tussen R250 en R300 per kaartjie te betaal om ’n ‘mass market’ produksie van ’n musiekblyspel te sien, terwyl hulle kla as hulle R100 by ’n kunstefees moet betaal vir ’n hoëklas-produksie met grootse akteurs, deur bekwame dramaturge geskryf en deur bekwame regisseurs geregiseer. Minder as 2 000 mense sal gaan kyk na daardie produksie by die fees, terwyl die musiekblyspel deur 20 000 gesien sal word.

Hierdie is ’n onderstebo situasie.  Hou in gedagte dat as die prys van kaartjies by feeste in lyn gebly het met inflasie sedert die middel-Tagtigerjare, dan behoort die korrekte prys vir ’n feeskaartjie vandag rondom R350 te wees.  G’n mens sal dit betaal nie, tog betaal hulle heel rustig R450 tot R550 om ’n musiekspel by Montecasino te sien. Dit beteken dus dat hoë-kwaliteit Afrikaanse dramaproduksies, weens die beperking op die kaartjiepryse, nie lewensvatbaar is nie.

Die Atterbury Trust beywer hom vir die groei en behoud van Afrikaans; dis hoekom hulle belê het in die Atterburyteater, en hoekom hulle betrokke raak by instansies soos VivA en GrootFM. Dink jy korporatiewe Suid-Afrika het ’n verantwoordelikheid ten opsigte van die uitbou/ondersteuning van Afrikaans?
Nee, ’n besigheid se bestaansrede is om profyt te maak, nie om liefdadigheid uit te deel nie. Ja, gegewe dat hulle dieselfde regte as burgers het, het hulle dieselfde verantwoordelikhede as ’n burger (wat hulle dikwels nie nakom nie), maar net so min as wat dit elke burger se “verantwoordelikheid” is om die kunste te borg, so min is dit ’n korporasie se verantwoordelikheid om dit te doen. Korporasies borg ’n kunsproduk as hulle dink dat daardie borgskap ’n bydrae sal lewer tot die bemarking en positiewe persepsie van hulle handelsmerk. Daar’s nie ’n greintjie liefdadigheid daaraan verbonde nie.

Ek glo ook nie in subsidies van enige aard nie.  Dit verdraai die mark en belemmer die werking van ’n vrye mark.

Maar as jy my sou vra of ek dink dat die kunste beskermhere nodig het, dan is my antwoord, ja.  Want die kunste was nog nooit finansiëel lewensvatbaar nie, omdat dit laaste in die tou staan ten opsigte van “Maslow’s Hierarchy of Needs”. ’n Mens worry eers oor die betekenis van die bestaan nadat jy kos in jou maag het, ’n dak oor jou kop het, en seks kan kry. En ongelukkig vir die meerderheid mense het hulle net genoeg geld om hieraan aandag te kan gee (indien nie te min geld om selfs dit te kan doen nie).

En let wel:  met die huidige stelselmatige ineenstorting van die wêreldekonomie gaan dinge al hoe moeiliker raak vir die kunste, want mense gaan swaar kry, en as mense swaar kry, kry die kunste nog swaarder.

As jy enige Afrikaanse instansie/persoonlikheid kon uitdaag om iets spesifiek by te dra tot die saak van Afrikaans, wie en wat sou dit wees?
Ek daag nie graag mense uit nie, maar ek daag wel graag myself uit.  My volgende uitdaging aan myself is om ’n Kontemporêre Afrikaanse Drama-argief op die Internet te stig, sodat al die honderde Afrikaanse dramas wat by die feeste aangebied was, en is, en wat nooit gepubliseer gaan word nie, nie verlore sal gaan nie.

En as jy ’n wenner moes aanwys vir ’n toekenning vir Die Beste Afrikaner van 2015, wie jou jy kies en hoekom?
Karen Meiring.  Ek ag haar die persoon wat by verre die meeste vir Afrikaans gedoen het die afgelope 20 jaar, en sonder enige formele erkenning:

1. Sy het ’n sentrale bydrae gelewer tot die stigting en sukses van die KKNK te Oudtshoorn.

2. Sy het kykNET uitgebou tot die dominante kanaal op DSTV.

3. Sy is die stigter en dryfveer agter die Silwerskerm Filmfees.

4. Sy het die Fiësta Toekennings gestig (wat vandag die gesogste toekennings in Afrikaanse teater is).

5. Sy’t gesorg dat kykNET talle Afrikaanse kunstegeleenthede ondersteun asook Afrikaanse vollengte rolprente.

Haar bydrae is in ’n klas van hulle eie en ek glo sy hoort ’n erepenning by die Akademie daarvoor te ontvang.

Wat dink jy is Afrikaans se grootste uitdaging in 2015?
Om die mantel van “taal van reaksionêre verlange na die ou dae en rassisme” af te skud.

En wat dink jy is Afrikaanssprekendes se belangrikste boodskap om uit te dra, in terme van die aktiwiteite/feeste wat wel plaasvind?
Dat terwyl die feeste die Afrikaanse taal feesvier, almal welkom is om saam te kom feesvier, nes ons ook by die Duitsers se Oktoberfest gaan saamkuier en hulle taal en kultuur deel.

Gestel iemand bemaak aan jou ’n miljoen of vyf rand om iets beduidend vir Afrikaans te doen, hoe sou jy dit aanwend?
Bo en behalwe die drama-argief, sou ek ’n trust skep met een doel – om ’n paar uitmuntende Afrikaanse dramas elke jaar op te voer en te toer, sonder dat die kunstenaars daarby betrokke oor hulle salarisse hoef te bekommer.

Kom ons kyk in die kristalbal na 2050. Waar sien jy Afrikaanse drama/letterkunde/kuns?
Ek glo nie dat Afrikaans nog teen 2050 in Suid-Afrika gepraat sal word nie. Dit sal wel in die huise van ’n Afrikaner diaspora reg om die wêreld gepraat word, maar nie baie nie. Daarom is dit vir my so belangrik om die argief te stig, sodat eendag, wanneer Afrikaans verdwyn het, daar ’n permanente rekord in die “cloud” sal wees van die taal wat my moedertaal was.

 

1 Response

  1. So Deon glo nie dat Afrikaans nog teen 2050 in Suid-Afrika gepraat sal word nie – duidelik kyk hy met ‘n rassebril na die saak. Die laaste sensus het gewys dat Afrikaans groei – en dat daar nou met meer bruin en swart moedertaal sprekers is as wittes. So daar is geen gronde vir Deon se voorspelling nie.

    Wat Afrikaans in die openbare lewe en opvoeding betref – Afrikaans is onder druk, maar ek meen dit is tydelik. Want waar swart mense tot dusver verengelsing sterk voorgestaan het, is daar tekens dat hulle hul eie tale begin bevorder. Wanneer dit in volle gang kom, gaan Engels weer kwaai onder druk kom.

Leave a Reply

%d bloggers like this: