Moet ons vrees dat Afrikaans teruggedwing word tot ‘n kombuistaal?  Taalkenner Leopold Scholtz skryf op Maroela Media se webwerf dat mens met net soveel passie soos Onze Jan meer as ‘n eeu gelede oor Afrikaans moet vra: Is dit ons erns?

Die aankondiging van die Noordwes-Universiteit dat hy fluistertolkdienste op die Potchefstroomse kampus gaan uitfaseer en dit met aparte Afrikaanse en Engelse klasse vervang, moet niemand verbaas nie. Ondanks al die mooi praatjies van die rektor, prof. Dan Kgwadi, en sy woordvoerder, prof. Johannes Froneman, lyk dit na die eerste stap na die totale afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal in Potchefstroom.

Dit pas in ’n breër patroon, en dit kos nie die intelligensie van ’n kernwetenskaplike om dit in te sien nie.
Eerstens val dit saam met ’n breë aanslag teen Afrikaans, plek-plek gelei deur wit Engelssprekendes en entoesiasties gesteun deur enkele wit Afrikaners, maar wat steun op ’n breë massa swart studente. ’n Mens moet nooit veralgemeen nie; daar is genoeg swart studente wat niks teen Afrikaans het en ook nie probleme met die fluistertolkdienste op Potch en Stellenbosch het nie. Tog kon voldoende steun gemonster word dat die ruggrate van die universiteitsowerhede op albei kampusse – wat al klaar nie baie stewig was nie – volledig in jellie verander het.

Dit val ook saam met die offensief wat gelei word deur die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, wat die indruk wek dat hy daarop uit is om Afrikaanse skole in dié provinsie te breek. Van buite kan ’n mens sterk vermoed dat Afrikaans betreklik min met die offensief te make het en dat dit eerder ’n poging is om te keer dat die EFF te veel steun van die ANC wegrokkel, maar dit verminder nie die erns van die saak nie.

’n Tweede aspek van die patroon is dat die hond se stert by wyse van spreke stukkie vir stukkie afgekap word in die verwagting dat hy dit nie sal agterkom nie. Om dit reguit te stel: Elke keer word ons oorval met versekerings dat Afrikaans nie benadeel sal word nie, en elke keer as jy jou oë uitvee, is daar weer ’n stukkie van die taal se ruimte daarmee heen.

Toe prof. Chris Brink begin 2002 as rektor op Stellenbosch oorneem, het hy plegtig beloof dat Afrikaans die “eerste onderrigtaal” sou bly. In ’n toespraak het hy kategories gesê: “Hoe onderskei jy jou eie universiteit van ander universiteite? Wel, ’n baie natuurlike manier waarop ons ons kan onderskei, is deur te sê ‘Ons is dié universiteit wat in Afrikaans klasgee’.”

Hiervandaan is die dubbelmedium-opsie sluipenderwys steeds verder gevoer. Stellenbosch is nou by die punt dat parallelmedium waarskynlik die mins slegte van al die slegte oorblywende opsies is.

Ten derde: Toe ek onlangs in Pretoria was, was ek by ʼn aandete waar ʼn Afrikanervrou, so in haar dertigs, doodluiters sê: “Hoekom moet Afrikaans op universiteit gebruik word? Die ekonomie is immers Engels!”

En: “Ons praat mos Afrikaans tuis. Solank mense tuis Afrikaans praat, sal die taal mos oorleef!”

Ek het byna van my stoel geval van verbasing oor soveel naïwiteit. Die vrou (en sy is nogal teengespreek deur ʼn besoeker uit Nederland) weet klaarblyklik níks van taalsosiologiese studies oor taalverplasing nie.
Kort saamgevat, kom dit hierop neer: As die taal sy hoër funksies verloor – daarmee word bedoel die vlak van die akademie, kuns, handel en owerheid – word dit ook nie meer lonend om die laer funksies (die spreektaal tuis) aan die gang te hou nie.

Dit beteken dat die behoefte aan Afrikaans op skool verminder. Mettertyd word Afrikaans teruggedring na waar hy begin het – ’n kombuistaal onder die arm mense, meestal op die platteland waar hulle minder aan die Engelse oormag blootgestel word.

Afrikaans het reeds heeltemal verdwyn aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit. Aan die Universiteite van Pretoria en Johannesburg is dit op sterwe na dood. Die Vrystaatse rektor, prof. Jonathan Jansen, steek sy weersin in Afrikaans nie onder stoele en banke weg nie en is duidelik daarop uit om die taal op sy kampus heeltemal af te skaf.

Die parallelmedium-praktyk aan die Universiteit van die Vrystaat het sedert 1994 gewys dat dit dié agteruitgang – tydelik – kan stuit. Parallelmedium kan in beginsel werk, mits die leiding die politieke wil het om dit te handhaaf.

Die probleem is dat die aanvanklik goedwillende leiding mettertyd oud word, aftree en vervang word deur ’n polities korrekte figuur wat sy politieke betroubaarheid tasbaar wil bewys deur Afrikaans as slaansak te gebruik. Dis presies wat in Bloemfontein gebeur het…

Lees gerus die res van die prikkelende rubriek hier: http://maroelamedia.co.za/blog/afrikaans/afrikaans-het-is-ons-ernst/